Vroue se beskerming – Miss Representation: Rise Up

  • 0

En God het die mens geskep na sy beeld, man en vrou het Hy hulle geskep, aldus Genesis 1:27.

Onlangs het ek geskryf dat ons nie aan die skerm, die algoritme of die spieël behoort nie. Ons behoort aan ons lewende Skepper.

Met daardie gedagtes nog in my hart, beland ’n nuusbrief van The Representation Project in my posbus, en die spieël gesels weer.

Vyftien jaar ná Miss Representation, die dokumentêr wat die media se verdraaiing van vroue en meisies se beeld oopgevlek het, is daar ’n opvolg: Miss Representation: Rise Up, onder regie van Jennifer Siebel Newsom. Kyk gerus hier: https://missrepresentationriseup.org.

Die eerste film het gevra hoe ’n meisie haarself moet handhaaf terwyl sy haarself nêrens waardig in die wêreld uitgebeeld sien nie. Die nuwe film herhaal die vraag en voeg die masjien by.

Siebel Newsom se woorde in The Guardian steek soos ’n graat in die keel: KI en sosiale media is gewapen, nie net om vroue en meisies se waarde te verklein en te verdinglik nie, maar om hulle stil te maak. Die film kyk hoe algoritmes, diepvervalsings en tegnologiegedrewe geweld ’n nuwe vorm van misoginie voed. Die belangrikste sin, vir my, is eenvoudig: Daar is geen aanlyn-alleen kwessie nie.

Dit is die punt wat ons so graag wil ontken. Maklik: Dis net die internet. Dis net ’n grap. Dis net ’n foto. Dis net ’n stem wat nagemaak is. Intussen sit ’n dogter met ’n gesig wat nie meer hare is nie, ’n naam wat deur vreemdes in die modder gesleep word, en ’n liggaam wat as vermaak verkoop word sonder dat sy ooit ingestem het.

Die skerm bly in die hand. Die letsel sit in haar siel, in haar slaap, in haar klas, in die kerkbank, in die besluit om stil te raak, belangstelling te verloor, in ’n hoek te kruip.

Ek woon meestal op die see. Op die boot leer ’n mens gou dat ’n storm erger as “net water” kan raak.

Dieselfde geld vir die digitale see. ’n Golf wat op ’n skerm begin, slaan op die dek van ’n werklike lewe, en kan dit maklik laat sink.

In Suid-Afrika ken ons reeds die taal van geslagsgeweld, van skande wat vinniger as waarheid loop, van WhatsApp-groepe wat ’n meisie se naam vertrap voordat haar pa of ma ooit weet.

Nou kom daar ’n nuwe laag by: ’n masjien wat haar stem en gesig kan steel, haar klere kan uittrek, en die leuen so glad kan afrond dat selfs die gewete kan twyfel.

Die medium is nie die sonde nie. Dieselfde tegnologie kan ’n ouma se gesig huis toe bring, ’n waarskuwing stuur, ’n gedig dra, ’n gemeente bymekaar hou.

Die probleem kom wanneer die kyk die plek van doen inneem, en wanneer nabootsing die leë plek toemaak wat rou, gebed en ’n lewende stem nog oop moet hou. ’n Diepvervalsing het geen berou nie. ’n Algoritme het geen naaste nie. ’n Platform verdien aan die aandag wat dit trek, nie aan waarheid nie.

Daarom steun ek hierdie film. Ek steun dit omdat dit ’n ding by die naam noem wat vaders, moeders, oumas, onderwysers en predikante nie meer kan afmaak as “kinders se probleme” nie.

As ’n kultuur vroue en meisies stelselmatig verneder en verklein, word die beeld van God self aangerand. Dan word opstaan meer as net nog ’n slagspreuk. Dit is gehoorsaamheid.

Praat met jou dogter voordat die algoritme die eerste preek lewer. As jy ’n pa is, wees die man wat die wifi aanskakel en dan saam kyk. As jy ’n ma is, moenie die spieël agter ’n toe deur laat nie. As jy jonk is, weet dit: Jou waarde is nie ’n telling, ’n filter of ’n vreemde se begeerte nie.

Wanneer ’n vreemde op ’n skerm of elders ’n jongmens aandag en waardering gee buite die sig van hul ouers, is dit geen kompliment nie. Dit is seksuele voorbereiding ... grooming.

Die projek is tans op die VSA gemik, maar die dilemma is nie Amerikaans nie. Dieselfde werk wag hier: mediawysheid, digitale welstand, en ’n geslag wat weier om stilgemaak te word.

Wie in jou dorp kan ’n vertoning vra? Wie kan ’n jong vrou help om nie haar stem te sluk nie?

Die teaterdebuut het so pas plaasgevind, op 22 Oktober om 18:30, by die IFC Center in New York. Hierna reis die film verder. Nes die eerste vrystelling, sal hierdie een ook geslagte lank aktueel bly.

Die film self waarsku dat dit na selfdood verwys. Dit is nie ligte vermaak nie. Dit is ’n spieël. ’n Spieël is net nuttig as jy ná die kyk weer opstaan en gaan doen.

Vroue en meisies is veel meer as media-inhoud. Hulle is ook veel meer as ’n produk, ’n grap of ’n diepvervalsing.

Vroue dra eweneens die beeld van God. Wie daardie beeld skend, raak aan iets heiligs.

Met agting

Cornelius Henn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top