Vroeë diskoerse oor die Boesman – in Afrikaans

  • 0

Daar word soms beweer, nie sonder kwaadwilligheid nie, dat die Afrikaanse skrywer onwennig was om ’n diskoers met Afrika aan te knoop. Die feite weerspreek so ’n aanname.

Die eerste Boesmanvertellings van GR von Wielligh het reeds in die neëntiende eeu in Ons Klijntji verskyn, maar Von Wielligh se Boesmanstories (4 dele) het eers in die vroeg-twintigerjare van die vorige eeu in boekvorm verskyn: deel I in 1919; deel II in 1920, en dele III en IV in 1921. Wat Von Wielligh in een van sy inleidings tot Dierestories oor Khoi-stories gesê het, geld ook vir sy optekening van Boesmanstories. Hy wou “etlike stories van dreigende ondergang” red.

Daar kan tereg gekla word oor die wetenskaplikheid van sy optekeningsmetode, maar sou ons sonder Von Wielligh se Khoi- en Boesmanstories wou wees? Twee na drie geslagte Afrikaanssprekendes het byvoorbeeld met Jakkals en Wolf- (soms Hiëna-) stories grootgeword, wat regstreeks te herlei is na Von Wielligh en WHI Bleek.

Was daar skielik ’n Afrika-Renaissance in die twintigerjare? Danksy argiefnavorsing van prof Pieter Kapp het belangstellendes kennis kon neem van Reenen J van Reenen (1884–1935) se belangrike lesing wat in Januarie 1919 voor die Akademie in Stellenbosch gehou is, getiteld Iets oor die Boesman. Dis die volgende jaar in boekvorm uitgegee.

Gelukkig kon hierdie skrywer Iets oor die Boesman in die Africana-afdeling van die Universiteitsbiblioteek in Stellenbosch agterhaal. Dit kom uit die Melt Brink-versameling, met Iets oor die Boesman ingebind saam Boesmanstories van Von Wielligh, nog deur die heer Brink self.

Die titel Iets oor die Boesman klink beskeie, maar miskien wou Van Reenen oorsein dat die destydse kennis van die Boesman baie beperk was. Sy boek – en vermoedelik ook sy lesing – is 75 bladsye lank, wat heelwat vir die konsentrasiespan en uithoudingsvermoë van die Akademielede van indertyd gesê het. Hy het meer as “iets” te sê gehad. Van Reenen het hom met akademiese toewyding gewerp op wat hy oor die Boesman, onder meer hul kuns, kon opspoor. Iets oor die Boesman bevat byvoorbeeld 17 bladsye beeldmateriaal.

’n Mens moet besef dat Van Reenen as siviele ingenieur ’n wetenskaplike instelling gehad het, al word hy vandag oorwegend vir sy stories en illustrasiewerk onthou. In 1914 verskyn daar van hom Die Vrijstaatse weë, in 1916 in Engels uitgegee as The Free State Roads; en in sy sterfjaar verskyn Verslag van die Kommissie insake industriële Wetgewing.

Talle van Van Reenen se insigte wys na die toekoms. Hy het geglo dat die Boesmans eintlik Sonkwas genoem moet word, maar kon dié intuïsie nie substansieer nie. Vandag weet ons, danksy Common names of South African plants van CA Smith, dat Sonkwa (ook Sankwa) letterlik "Bossieman" of "Bossiemense" beteken. Dis die naam wat die Khoi-mense aan die Kaap aan die Boesman gegee het op grond van dié groep se kennis van bossies en hul persoonlike voorliefde vir die aromatiese bossie Pteronia onobromoides.

Die negatiewe assosiasie wat sommige mense met die benaming Boesman het, het straks met Van Riebeeck begin, sê Van Reenen. Van Riebeeck verwys in sy dagboek na “Boschmanneken”, wat ook die benaming was van die orangoetang van Batavia.

Van Reenen skryf vergelykenderwys oor die rotskuns van Altemira (in Spanje) en Lascaux (in Frankryk), en dié van die Boesman in Suid-Afrika. Daar was twee groepe Paleontologie-mense, sê Van Reenen, een groep met besonder klein handjies; het ons dalk hier met die voorsate van die Boesman te maak? Van Reenen bly versigtig vir gevolgtrekkings, en plaas “Boesmantekeninge” tussen aanhalingstekens.

Die groot wins van Reenen J van Reenen se lesing oor die Boesmans is tweërlei van aard. Hy vermy oorhaastige uitsprake, en skryf nooit neerbuigend oor die Boesman nie; nee, eerder met bewondering en verwondering.

Daar is byvoorbeeld die Boesman-kosmologie, soos dit tot uiting kom in sy vertellings en poësie. Sterrekundiges is vandag weer baie geïnteresseerd in wat die Boesman van sterre geweet het, maar baie van wat Wilhelm Bleek en GR von Wielligh, en in ’n mindere mate Van Reenen, oor Hart-van-die-Dagbreek (Jupiter? Venus?) en Kind-van-die-Hart-van-die-Dagbreek gesê het, word vandag betwyfel deur sterrekundiges, onder andere WP Koorts in sy artikel “The nature of the Dawn’s Heart Star” (sien Mnassa, vol 65 nrs 5 en 6).

Wanneer dit by Boesman-mitologie kom, is Van Reenen en ander navorsers op veiliger terrein.

Leke vind dit byvoorbeeld naïef dat die maan dan die Sandaal sou wees wat !Kaggen in die lug opgegooi het. Hier bring Van Reenen ’n “digterlike” korrektief: “Digterlik omdat hulle (die Boesmans) altoos praat van die maan wat loop oor die hemel en die skoen vir hulle die stoflike voorstelling van ‘loop’ is.”

Van Reenen gaan voort en kom met ’n formulering wat volkome klop met eietydse sieninge: “Soveel van wat hul (die Boesmans) sê en doen is so deurtrek van die digterlikheid, dat ’n mens dikwels twyfel of die volk wat sulke wonderlike werk in die beeldende kunste gelewer het, werklik nie meer as digters moet waardeer word nie.” Hy haal ook die musikaliteit van die Boesmans by. Hulle het vier instrumente gehad, naamlik die ’goura, die ’kopo, die ’joum-joum en die ’kangan, almal gebaseer op die boog, soms met klankversterkers by, soos ’n skilpaddop of ’n leë kalbas. Hy teken – dit in 1919 – die lied “Die gebroke snaar” aan, wat hy óf in die Bleek-versameling óf regstreeks by Dorothea Bleek kon gekry het, want dit klop woordeliks met die Bleek-teks wat in 2004 deur Neil Bennun in sy boek The Broken String: the Last Words of an Extinct People aangehaal word.

Hier volg die teks van “Die gebroke snaar”, en as dit stram voorkom, is dit net omdat Van Reenen hom woordeliks by die Bleek-teks hou.

Die gebroke snaar

Dit was die mense die, wat
daardie snaar vir my gebreek ’t
          Daarom
word die plek nou so vir my
          daaroor.
Want daardie snaar was wat vir my gebreek ’t.
          Daarom
voel die plek nie meer vir my
soos dit hier eers gevoel het
          daarvoor.
          Want
die plek voel net asof dit ope voor my gebreek het,
die plek voel net of dit ope voor my staan
omdat die snaar vir my gebreek het.
          Daarom
is die plek nie aangenaam vir my
          daaroor.

Met behulp van Van Reenen en Neil Bennun word die lied “Die gebroke snaar” ’n bietjie meer toeganklik. Aan die woord is Van Reenen: “Dit is ’n treurlied deur Gaatun [Xättin by Bennun] gesing na die dood van sy vriend !Nuin !Kuiten wat aan die gevolge van ’n skot gesterwe het wat hom een aand getref het terwyl hy, in die vorm van ’n leeu rondloop.”

Wanneer “Die gebroke snaar” ’n paar keer hardop gelees word, begin sy beswerende herhalings ’n hipnotiese uitwerking op die leser kry, en weet hy dat die dood van ’n mentor en kameraad iets ingrypends vir Gaattin was, en dat hy nooit weer op die ongelukstoneel wil kom nie.

Van Reenen het sy net wyd uitgegooi met die voorbereiding van sy lesing. Hy het byvoorbeeld reeds in 1919 geweet van die Abbé Breuill, in ’n stadium dié kenner van Aurignasiese rotskuns. Dekades later, in 1947, het generaal Smuts die Abbé na Suid-Afrika laat kom om die geheime van die rotskuns van die Brandberge in Namibië te help ontsyfer. Die romantiese benaming “Die Wit Vrou van die Brandberg” is van die Abbé Breuill en leef hardnekkig voort in legendes en gedigte, al is talle van die Abbé se teorieë lankal reeds in diskrediet.

Ook het Van Reenen ’n Duitse informant, ene Fritsch, in Duits aangehaal, en onderhoude met Dorothea Bleek gevoer. Die feit dat hy haar Dorris genoem het, laat ’n mens vermoed dat hy haar persoonlik geken het.

Dit lyk my van pas om dié artikel af te sluit met die woorde waarmee Van Reenen sy destydse lesing afgesluit het:

En waar bestaan die volk wat soveel digterlikheid en letterkundige smaak sal vertoon onder so ’n klein klompie indiwidue (sic) as wat dr Bleek by hom had, en dié nog almal uit die tronk uitgehaal?

Ekonomies is ons vooruitgegaan, maar as die ware geluk, die doel is van die mensdom, die mikpunt van almal, kan ons nog die vraag stel – Is ons werklik nader aan ons doel as die Boesman?

Hierop kan dié skrywer net maar “Sela” sê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top