Vraestel II

  • 0

Peet, ’n ou vriend van my van die Sombrerostelsel (baie ligjaar hiervandaan; ek kan nie sy naam uitspreek nie so ek noem hom maar Peet) het hierdie vraag vir my in Afrikaans vertaal; hy wil hê ek moet hom help. Hy is van die Koninklike Verkennerskorps van een van die planete van een van die sonnestelsels daar en dis vir sy bevordering na pieringbevelvoerder. Hy sê die res van die vraestel was maklik, dis net met hierdie vraag 7 wat hy sukkel. Kan iemand dalk help:

Vraag 7

 Jy kom af op ’n stuk grond van ongeveer 100 duisend vierkante myl, taamlik dig bevolk. Daar is ryk neerslae van chroom, koper, vanadium, yster, uraan, silwer, aardgas en olie. Daar is digbeboste dele, grasveld, riviere, mere, bergreekse (waterskeidings) en ’n lang kuslyn. Reënval oor die hele gebied is genoegsaam vir uitgebreide landbou. Daar is gebiede waar wild vrylik rondloop.

i) Hoeveel verskillende moondhede skat jy kom hier voor? Beskryf aan die hand waarvan sal jy die verskillende moondhede identifiseer. Hoe sal jy byvoorbeeld die grense tussen hierdie moondhede identifiseer?

ii) Watter van hierdie moondhede is wat hulle op aarde na verwys as demokrasieë? Op grond waarvan baseer jy hierdie bevinding van jou?

iii) Watter van hierdie lande is a) koninkryke en b) keiserryke? Motiveer hoekom jy so sê.

iv) Watter van die lande wat jy identifiseer het is NIE onafhanklik is nie (maw lande wat in knegskap ten opsigte van ’n ander land staan). Beskryf volledig waarop jy jou afleidings baseer.

v) Watter van die lande word deur diktators regeer? Gee die redes hoekom jy so sê.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top