Sedert ’n bedrewe fotograaf en joernalis die fotoverhaal van ’n lewelose kinderlyfie op ’n Turkse strand die wêreld ingestuur het, het die ganse geloofsgemeenskap weer hul gebedsmatjies nader gepluk om vir hierdie gestorwe gesin en ander soos hulle in te tree. Die heiligstes tussen ons het lysies met selfopgelegde genot weerhoudings opgestel en die sosiale netwerke met hierdie wyshede blink gevoer. Ander uitgelese krygers het uit eie beweging die kuratorskap van nuwe samelewingswaardes en beoordeling van wat reg en verkeerd is, met oordaad aangegryp.
Tussentyds het nog ’n onbekende vlugteling êrens gesterf; kom ons ween.
Terwyl ek aan hierdie dinge dink en die bate- en lastestaat van my oorwegings en gedagtes opstel, is dit ’n stuk werklikheid dat regoor die aardbol vlugtelinge in hul honderdeduisende in kampe opgestapel word en dat meer dikwels as nie, hul pad soontoe gevaarlike kruisings oor berge, see en landmynvelde met tragiese gevolge insluit. Om te midde van hul etnisiteits- en godsdienstige vrese, wat deur die ekstremiste in hul eie samelewings aangevuur word, weg te kom van wat is en te vlug na wat hopelik kan wees.
Die interessante karaktereienskappe van hierdie huidige vlugteling krisis wat besig is om Europa en die Midde-Ooste moedeloos te timmer, verskil egter min van soortgelyke historiese gebeure. Die Hongaarse vlugtelingkrisis van 1956 en die Viëtnamese vlugtelingkrisis van 1979 verskil bloot net geografies. Die Siriese vlugtelinge krisis van 2014 en nou herinner aan die Palestynse vlugtelinge wat ná die stigting van die staat Israel, uit Palestina gevlug het en in Libanon gaan skuiling soek het. Voor dit, in die aanloopjare en tydens die Tweede Wêreldoorlog, was dit Duitsland wat die onwelkome nie-Duitsers laat vlug het.
Sonder om noodwendig ’n leke-les in geskiedenis aan te bied, is dit tog ’n bewys dat die voorbeelde legio en maklik bekombaar is.
Die ander ontstellende eienskap wat wel soos ’n versmorende aswolk oor die meeste van hierdie groot vlugteling gebeure hang, is oorlog.
Niemand is veronderstel om van oorlog te hou nie, maar tog het die aardskuddende oorloë op meeste van hierdie vlugtelingkrisisse gevolg. Lees maar die slim mense se boeke en maak ’n eie gevolgtrekking.
Die morele kruispad waar ek as erkende sondaar my tans bevind, is om die regte ingesteldheid teenoor hierdie wêreldgebeure te koester ...
Aanvaar mens dat die herhaling van die grootskaalse afsterwe van onskuldige mense bloot net ’n deel van die groter plan is en blaai jy derhalwe gou verby die openbare pleidooie vir ontferming en hulp?
Of, gord jy spreekwoordelik die harnas as geloofsvegter aan en verpand al die ander waardes wat jy het, om met spraak en gebedstaak die Skepper van orde tot ingryping te roep, terwyl jy elkeen wat hoegenaamd die edele saak betwyfel, as vyande van die bevrydings- en omgee-orde beskou?
Of, is daar êrens tussen die pad van “laat-gly” en die “afdraai na histerie” ’n weg waar die pragmatiese en die ideologiese mekaar in die liefdesharmonie van aanvaarding kan vind?
Uit elke nuusberig en elke tweede inskrywing op die sosiale media word ons gelooi met die tragiese verhale van swaarkry. Menslike maatskaplike ellende, die grys geldmarkte en onbekwame politici wat voltyds terugkrabbel. Die alewige omkoopboewery, wat ons land en die meeste ander se regerende politieke leiers en -partye vol luukses hou.
Ons kan selfs nie eens meer rolprentresensies vertrou en ’n ontspanne uit-die-maag-lag ervaring van ’n Schuster-fliek verwag nie. Ook hier, was ek die afgelope naweek toegegooi met die politieke clichés en gestroop van al die lae verskansde gedagtes wat ingespan word om die liefde te bewaar en vredevol te leef.
Aangesien ek die vrae gevra het, wil ek dit ook antwoord. Al drie hierdie vrae hierbo kry Ja-antwoorde en wel om die volgende redes:
Aanvaar mens dat die herhaling van die grootskaalse afsterwe van onskuldige mense bloot net ’n deel van die groter plan is en blaai jy derhalwe gou verby die openbare pleidooie vir ontferming en hulp?
– Ja, want ek en jy is slegs in beheer van ons eie gedagtes, ons eie optrede en ons eie keuses. Die gevolglike gebeure wat daartoe aanleiding gee dat ons swaarkry, lê hoofsaaklik voor ons eie deur. Soortgelyks vir ’n vlugteling of diktator aan die ander kant van die ewenaar.
Gord jy spreekwoordelik die harnas as geloofsvegter aan en verpand jy al die ander waardes wat jy het, om met spraak en gebedstaak die Skepper van orde tot ingryping te roep, terwyl jy elkeen wat hoegenaamd die edele saak betwyfel, as vyande van die bevrydings- en omgee-orde beskou?
- Ja, daar is wel insig in geloof, maar dit is net in die oorweegde sinvolle uitleef daarvan te vinde. Sonder oordeel, sonder selfopheffing en sonder aansien.
Is daar êrens tussen die pad van “laat-gly” en die “afdraai na histerie” ’n weg waar die pragmatiese en die ideologiese mekaar in die liefdes harmonie van aanvaarding kan vind?
- Ja, maar ongelukkig slegs wanneer die geloofsvegter sy skild van vooroordeel laat sak en die res van ons eerder vir mekaar begin omgee.
Oorloë, konflik, groot of klein, sommige op ons deurdrumpel en ander tagtig dae te perd ver weg, sal altyd daar wees, of ten minste tot Eendag.
Tot dan, moet ons leer om weer goed te doen, te sorg dat daar reg geskied en dat die verdrukker teë gegaan word. En verder, as ons gehoorsaam is, sal ons die goeie van die land eet, maar as ons weier en opstandig bly, sal die swaard óns eet.*
*So sê my leesvriend vanoggend.
Jesaja was blykbaar nie almal se vriend nie

