Twee broers, Pieter en Hendré van ons dorp het aan verskillende politieke partye behoort en voor die verkiesing hewig begin stry en rusie maak.
Gevoelens het later so hoog geloop dat hulle enige kontak of kommunikasie vermy en so die bybelse seën van "hoe lieflik is dit dat broers saam woon" opsetlik geïgnoreer en 'n jammerlike bewoënheid en leegte in die hart van hul gryse vader Abraham gelaat het.
'n Latere telefoonoproep het die ontwrigtende nuus oorgedra dat die troepetrein vanaf Pretoria wat die seun Braam vir Kersfees en 'n kort rustyd huis toe sou bring, nie meer na Kookhuis op pad was nie maar na Queenstown.
Die verwikkeling het vroeg Oukersoggend veroorsaak dat 'n alternatiewe ryding op die Saterdag in die hande gekry moes word want die Ford wou weer nie vat nie. En in plaas van die teerpad Bedford en Kookhuis toe sou die ouers nou die ongeteerde Katberg-wildernispas vir die dag- en veral nagrit terug moes vat wat 'n betroubare voertuig verpligtend gemaak het.
Toe Pieter van die gerug hoor, het hy dadelik besluit om sy gekoesterde blou BMW vir die doel af te staan omdat Kersfees en sy broer se behoefte bo politiek uitgestyg en 'n skietstilstand regverdig het.
Sy aanbod is met ewe dankbare waardering aanvaar en die pa en ma het vroeg via Winterberg en Pos Retief se ongeteerde Katbergpad oor Whittlesea Queenstown toe gevat.
Soos gebruiklik is Braam met die terugkomslag as Ouboet gevra om die stuurwiel oor te vat en met sy kenmerkende swaar voet op die pedaal die onderstel in 'n donker drif in die grammadoelas in die sloot laat beland wat die kruk-as gekraak en sonder olie gelaat het.
En daar sit die drie toe soos verdwaalde vlermuise op die verre velde met net die geruis van die wind deur die doringbome en die maan en sterregewemel wat langsamerhand helder op die velde begin skyn.
En so sit-lê Pa en Ma met vervlegte hande half oormekaar: moeg en moedeloos toe Pa sommer uit die vuis begin boeke vat en Braam die troos van Pa se woorde uit die slot van Psalm 4 aan sy lyf en lewer voel en summier rustig raak:
Groter Vreugde het U in my hart gegee
As wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is;
Ek sal in Vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak,
Want U alleen laat my in Veiligheid woon.
"Ja Here" het die Pa met 'n vol gemoed gebid, “laat U Vreugde, Vrede en Veiligheid hierdie Somerse Oukersnag ons siele deurdrenk met U liefde en vergewende gees! Amen.”
En in die stilte en glans op die sterrevelde, lank voor die haan nog kon kraai, staan 'n waardige swart man skielik in sy nuwe blou werkspak langs die venster met 'n doilliebedekte beker kookwater, drie nuwe koppies met pierings en teelepels asook 'n pakkie onoopgemaakte tennisbeskuitjies op die skinkbord.
Hy groet hartlik en beskeie: "Molo Mhlungu. Happy, happy Kriesmies to you all!"
En die pa en seun klim hoflik uit, Braam neem die skinkbord, sit dit op die kap neer en elkeen gee die weldoener 'n ferme handdruk.
En so word die besoeker die gretige helper wat na die verversings op eie inisiatief na die laaste plaaswerf loop waar die Skotse eienaar broer Pieter op die dorp telefoneer en die pad en plek in die pad waar die motor staan beduie .
En twee ure later hou die Isuzu-bakkie en twee werkers agter die BMW stil om die drie "opvarendes" by hulle huis af te laai voor die twee families aan die groot tafel in die gewelhuis kon aansit om die heerlike geregte te geniet maar veral die swart man en broer Pieter se welwillendheid in die geheue en gewete van 'n unieke kersfees vas te lê:
Ja het die ou vader gesug toe die woordkartetse na die verkiesing hervat is en Hendré die volle rekening vir die herstel van die krukas in sy posbus van die BMW-handelaar ontvang en met die oopmaak die nota in rooi onderaan gemerk het: Vereffening binne 30 dae asb!

