Voorskou

  • 0

“Verskoon my, Tannie, maar ek dink Tannie sit op my plek,” sê hy ordentlik. Normaalweg sou hy niks sê nie en op ’n ander plek gaan sit, maar vanaand is die fliek tjokkenblok.

Sy kyk onbeïndruk na hom.

“Twee goed: ek is nie jou tannie nie, en nee, ek sit nie op jou plek nie – ek het nou-nou dubbeld seker gemaak.” Sy draai haar kop weer na die wit doek, al het die voorprente nog nie begin nie.

Haar stem klink bekend, maar hy kan glad nie haar gesig in die donker uitmaak nie.

“Goed dan, Barones, kan u so gaaf wees om dalk ’n derde keer seker te maak. Of moet ek ’n oudiënsie aanvra?” Hy voel hoe sy hart vinniger begin klop.

“Ekskuus?”

“O, ek is jammer, u is seker hardhorend.” Hy begin doelbewus baie hard en stadig praat.

“Kyyyyk op die kaaaartjie of u op die regte siiiiitplek sit.”

“Weet jy wat, jou miswurm, ek gaan met jou maak soos ek met al die ander idiote maak - ignoreer.”

Skielik is daar stilte.

Hy bekyk haar buitelyne. Hy kan voel hoe sy nek van woede begin gloei.

“Weet jy wat, Tánnie, as jy nie ’n kadawer was nie, het ek nou sommer op jou skoot gaan sit.”

Die oomblik toe hy dit sê, besef hy dit was ’n onnodige opmerking. Hy voel skielik baie sleg. Sy klink immers bejaard. Dis buitendien nie hoe sy ma hom groot gemaak het nie, dink hy. Net voor hy om verskoning wil vra, word die stilte deur die sagte, maar ferm stem van die vrou verbreek.

“Fok jou.”

Hy gryp sy mond van die skok.

“Hoe durf jy? Ek laat niemand toe om met my so te praat nie, nie eers ’n blerrie kens konyn soos jy nie.”

Hy draai om en sê oor sy skouer. “Ek gaan die bestuurder roep.”

Sy spring op. “Nee, weet jy wat, ék gaan die bestuurder roep!”

“Nee, ék gaan …”

“Nee, ék gaan!”

Hulle stamp en stoot om by mekaar verby te kom en val amper in die proses oor een van die trappies in die donker. Maar hy druk haar teen die muur en kry dit sodoende reg om voor haar by die swaaideur uit te kom. Hy stamp dit oop. Die lig van die nou gang irriteer skielik sy oë, maar hy stap verwoed aan. Agter hom kan hy hoor hoe sy aangeblaas by die deur inkom.

Hy draai om. “En nog ’n ding, jou gemene …”

Hy vries. Hy voel lam. Hy kan nie glo wat hy sien nie.

“Ouma?”

Lees ’n onderhoud met Constant van Graan hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top