voorma Krotoa Havgard

  • 0

voorma Krotoa Havgard

ondanks al u smart, pyn, verdriet,
Goringhaicona-, Khoi-voormoeder,
leiers, geselskappe, afgevaardigdes,
konings, prinse, raadgewers, kenners,
is deur u in Fort, op Parade, verwelkom,
agter Kasteel se hoë mure, watergragte,
’t u vir Kommandeur Jan Van Riebeeck,
sy militêre attaché, skribant, sekretaris,
verwelkomingskomiteelede, inspekteurs,
goed-’n-getrou g’dien, ja, nooit bedrieg,
pad oopgepraat vir VOC, kolonialisme,
Vryburger-vryheid, uitwis van Khoisan,
Eerste Mens, “orang utang”, “wilde diere”

ondanks u afsweer van oorgangsritueel,
rugdraai op Heitsi Eibib, op Khoi-kultuur,
voormoeder Krotoa, g’n nxau-seremonie,
inisiasie tot vrou-wording, transformasie,
eerder met inkommer te verkeer,
sedeloos, bandeloos, kultuurloos,
lief vir Kompanjie-papsak, arak,
deur Jan daarvoor lief gemaak,
verkoop u mos toe u siel hier,
eerste Khoisan getroud in Kerk,
aan Kaap de Goede Hoop, Cabo,
Khoi-land, Khoi-baai, -berg,
Khoi-vallei, Khoi-eiland,
liewe land, Eva, toe,
u vir Havgard vat,
was u kortstondig,
bondig, vry

kanti, Krotoa, u’t nie-rassigheid, nie-seksisme,
grondslag, fondament, basis, rolmodellik gelê,
inkommers, nés Pocahontas, as mede-Mens,
as familie, van een of ander kontinent, gesien,
behandel, ontvang, verwelkom, op eie bodem,
u gene in meer as een oud-Broeder se bloed

dis hoekom, Krotoa, mevrou Havgard, u “Plek”,
volgens Stad Kaapstad, onthou-plek, ter u eer,
noggie na wens van Eerste Mens, hayibo,
of van stamverwant, familielid, nageslag’s

nee, o swernoot, Moeder, wie se Stad,
wie se nedersetting is dit dié, u nageslag,
se nageslag, se nageslag, hele boksemdais,
is u baie lof verskuldig, eg Afrikaans, ja,
tramakassi, mooivrou, vir u opofferinge

Jacobus Faasen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top