Voorgeslagte van die nuwe diere. Vir nog vele jare van saam andersmaak, Breyten

  • 1

Die grootste lewende Afrikaanse woordkunstenaar, Breyten Breytenbach, is vanjaar 80 jaar oud en niemand glo dit eintlik nie. Naas Jan Rabie is hy die bekendste Afrikaanse skepper van surrealistiese tekste met fratsfigure, soms soos in gruwelsprokies, meestal mengsels van afgryse en humor. Breyten se bekendste figuur in sy Katastrofes is 'n boenk, ’n “nuwe dier" met “3 oë en 5 bene en dus altesaam 31 tone” wat uit krane peul, van boomvisse leef, met sy ore vlieg en somers 'n hebbelikheid het wat grens aan insig in die ondermaanse; boenke loop lê op 'n wolk en "lag onbedaardelik vir iets wat belaglik is hier onder".

In Rabie se 21 was daar voorgangers van Breyten: 'n moedswillige koei, 'n verliefde padda, 'n uitgelate foksterriër en drie kaalkoppe wat mekaar opvreet.

Dis bekend dat Rabie se voorbeelde Apollinaire, Breton en veral die Franse Belg Henri Michaux was. Met Michaux se Aurogs, Parpues en Emause kan alles gebeur – dis beelde van innerlike vloeibaarheid, van durende verandering; dis wesens, sê Richard Ellman in Michaux se Versamelde werke, wat leef waar daar nie plek is vir die veelvuldigheid van gewone ondervindings nie.

Breyten se figure het 'n geboortejaar: 1963.

“Die Afrikaanse letterkunde sal hierna nie meer dieselfde wees nie. Jan Rabie het gesê Chris [Barnard] moet Breyten Breytenbach in Parys gaan opsoek. Kyk wat maak hy toe bymekaar, glo oral in Breyten se kamertjie,” was Bartho Smit, destyds APB se uitgewer, se woorde toe hy twee pakkies met Franse seëls op voor my in 'n kantoor van Die Vaderland neersit. Dit was Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes, manuskripte van die radikale vernuwing in die Afrikaanse letterkunde van Sestig.

Breyten se werk en sy lewe het 'n vreemde manier om saam geskiedenis én woordwerk te word. Die boenk het 'n herriemakerkollega in Katastrofes, 'n surrealistiese basterwese iewers tussen plant en dier, 'n "fascistiese pampoen", 'n politieke domoor (Elsabe Steenberg).

'n Pampoen het Breyten gered van 'n spioen-tronkbewaarder wat tydens Breyten se tronkjare met hom vriende gemaak het. Toe die poliesman by André Brink in Grahamstad kom, kamma Breyten se boodskapper, het Brink 'n variasie op die pampoenstorie as waarskuwing met hom saam teruggestuur. Breyten was gewaarsku.

Maar waar kom die voorsate van Jan en Breyten (én Michaux se Aurogs, Parpues en Emause) vandaan? Hulle is immers, volgens Ellman, wesens sonder agtergrond en verlede.

Die surrealisme het minder bekende voorgeslagte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Uit veel meer wat opgeteken is, net 'n paar voorbeelde, want as sodanig is die surrealisme 'n druppel in die see van Breyten se oeuvre.

Hoe lyk die fantasieë wat die 17de-eeuse reisbeskrywers opteken? Die VOC-amptenaar HA van Reede noem in sy Dagboek (herdruk deur die Van Riebeeck-vereniging) die "vremste fabulen dien men bedenken kan". Aan die Kaap wis hy nie of hy diere "nae het hooft of nae het lighaem" moes benoem nie, want hulle het die kop van 'n eland of koei en die lyf van 'n ander dier.

Nog 'n VOC-amptenaar wat in ons tyd vereer word (met ’n brandewynetiket), Olaf Berg, vertel van die mense van wie die Amacquae hom en sy geselskap vertel: “Almal weet die Aart Eijck Gamoere is ook mense, maar hul oë sit op hulle voete.” (In Con de Villiers se Klein Vaderland is die Overbergse variasie as "oë op sy tone" opgeteken. “Ou Voetoog” is ook 'n kinderverhaal van Helena Lochner.)

Volgens Van Reede was daar ook 'n volk van wie die Namakwas vertel dat hulle koppe glad was van voor, sonder oë, sonder mond, sonder neus, “even gelijk een gladde bil (boud) van een mensch”. Hulle monde sit dwars in die middel van hul borste en hul oë sit daar waar die been aan die voet vas is.

Hierdie wesens in kulture, kinderverhale, rituele, beeldende kunste, ens verdien deegliker navorsing. Michaux het dit genoem "geesteshigiëne", "duiwelsuitdrywery” en Breyten in “reisverslae” wat deel uitmaak van sy ervaring, “hierdie satori”. Invloede en voorbeelde is nooit eenvoudig nie. Dit spoel en maal van kus tot kus soos seestrome.

Die eerste Europese versamelaars van fantasieverhale uit ons donker kontinent was al Caius Plinius Secundus (23–79 nC) met Historia naturalis; Pomponius Mela met De situ orbis en Caius Julius Solinus met De Mirabilibus mundi. By hierdie drie kom die voorgeslagte van die Namakwas en Michaux se wonderlike wesens en volkere reeds voor.

Die Essedones het drinkbekers gemaak van hul ouers se skedels; die Arimaspes was een-ogig en die Phanesiane se ore was so lank dat dit die hele lyf bedek het. Plinus se Essenes het nie vrouens of geld gehad nie, net palmbome vir geselskap.

Volgens Holden het Francois Rabelais met Garganthua in 1535 en Pantagruel 20 jaar later die fantastiese en die burleske in Frankryk laat herleef. Baudelaire, Michaux, Rabie, Breytenbach – daar was altyd diegene wat, in Ellman se woorde, die tirannie van konvensionele ondervindings uitdaag met drome en nagmerries.

’n Paar interessante bronne:

Hodgen, Margaret T. 1964. Early anthropology in the sixteenth and seventeenth centuries. Philadelphia: Philadelphia University Press.

Huigen, Siegfried. 1996. De weg naar Monomotapa Nederlandse representaties van geografische, historische en sociale werklijkheden in Zuid-Afrika. Amsterdam: Amsterdam university Press.

Journal of the Centre for the Study of Southern African Literatures, 2(2). 1995.

Mossop, E. 1931. Joernale van die landtogte van die edele Olof Berg (1682 en 1683) en die vaandrig Isaq Schrijver (1689). Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging.

Schmidt, S. Tales and beliefs about Eyes-on-his-Feet. Fasette, Windhoekse Onderwyskollege.

Valentyn, F. 1971. Besckryvinge van de Kaap der Goede Hoop met de zaaken daar toe behoorende, Amsterdam 1726. Kaapstad: Van Riebeeck-vereniging.

Van Linschoten, Jan, Huygen. 1955. Itinerario Voyage ofte schipvaert van Jan Huygen van Linschoten naer oost ofte Portugaels indien 1579–1592. s’Gravenhage: Marthinus Nijhoff.

 

  • 1

Kommentaar

  • Gevra of hy iéts gebruik het voor hy "Die swart luiperd" geskryf het, was Van Wyk Louw se antwoord: "Waarskynlik het ek iets gebruik. Dalk bietjie verbeelding."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top