|
Abstract
Syntactic interpretation of the VAT Act determines when gold may be sold at the zero rating. A consideration of a positive linguistic approach
In terms of section 11(1)(f) of the Value Added Tax Act 89 of 1991, gold sold to a closed list of entities in its unwrought form is levied at the zero rate. To qualify for Value Added Tax levied at the zero rate, the gold must be provided in one of the eight prescribed forms, and it may only have been refined and processed once for provision to the listed purchasers. The applicant in this case is a purchaser and trader of gold. It buys second-hand gold products like jewellery, scrap gold and the like from members of the public after which it has the gold refined and cast into acceptable forms like gold bars. Once the gold is processed to the acceptable standard, it is sold to entities within the closed list. The Commissioner for the South African Revenue Service (CSARS) views the applicant’s gold as having undergone more than one process and therefore believes that VAT should not be levied at the zero rate. The applicant disputes this and seeks a declaratory order in which section 11(1)(f) is clarified.
To illuminate the relevant subsection, Davis J used the interpretation standards set by Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality 2012 4 SA 593 (SCA) as well as Cool Ideas 1186 CC v Hubbard 2014 4 SA 474 (CC) and AfriForum v University of the Free State 2018 2 SA 185 (CC), which in particular guide linguistic interpretation. Amongst other things and although brief, Davis J addressed the importance of the relative clause (and the relative pronoun which) that centres on the heart of the dispute. In doing so, his declaration supports CSARS’s view and confirms that gold qualifies for the zero rating only if it was processed solely for provision to the closed list of entities.
The purpose of this case discussion is primarily to confirm Davis J’s method of interpretation. In doing so, the focus will be on three linguistic devices as a means to endorse his decision.
Keywords: Endumeni; ordinary grammatical meaning; semantics; statutory interpretation; syntax
Trefwoorde: Endumeni; gewone grammatikale betekenis; semantiek; sintaksis; wetsuitleg
1. Inleiding
Dit is tien jaar sedert appèlregter Wallis sy invloedryke uitspraak in Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality 2012 4 SA 593 (HHA) (voortaan Endumeni) gelewer en sodoende ’n nuwe standaard vir wetsuitleg bepaal het. Dié presedentsaak is sedert 2012 herhaaldelik aangehaal, soms foutiewelik en soms weens die oënskynlike onuitvoerbaarheid daarvan (sien Perumalsamy 2019:12–3; Capitec Bank Holdings Ltd v Coral Lagoon Investments 194 (Pty) Ltd 2022 1 SA 100 (HHA) 99; Starways Trading 21 CC v Pearl Island Trading 714 (Pty) Ltd 2017 4 All SA 568 (HWK) parr. 41–50; Commissioner of the South African Revenue Services v Daikin Air Conditioning South Africa (Pty) Ltd 185/2017 2018 (HHA) 66). In die besonder plaas Endumeni ’n vars perspektief op die doelstelling van die wetskrywers, die breë konteks waarteen ’n kwessie besin moet word en die saaklike uitvoerbaarheid van ’n beslissing op die uiteindelike bedryfslewe van partye. Ewe belangrik maak Endumeni melding van taalhantering by die uitleg van wette deur na die grammatikale reëls van ’n wetteks en uitlegtaal te verwys. Appèlregter Wallis gaan egter ’n stap verder en dui ook sintaksis eksplisiet aan: “[C]onsideration must be given to the language used in the light of the ordinary rules of grammar and syntax” (par. 18). Die uitleg van taalkundige kwessies berus daarom nie uitsluitlik by die semantiese waarde op grond van leksikale basis nie. Waar nodig, moet sinne en meegaande items met grammatikale funksie saam met die breër taalkonteks oorweeg en ontleed word. Dit wil sê sintaktiese reëls moet ewe veel aandag geniet, veral waar frases of sinne uitleg benodig of sekerheid kan verleen.
Die gebrekkige hantering van sintaksis by die uitleg van taalkwessies kan onder meer gesien word in Universal Church of the Kingdom of God v Myeni 2015 9 BLLR 918 (AAH) (voortaan Universal Church). Hier moes ’n hof bepaal of die verweerder ingevolge artikel 200A van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 ’n werknemer van ’n kerk is al het daar nie ’n geskrewe kontrak tussen werkgewer en -nemer bestaan nie. Artikel 200A(1) neem die vorm van ’n stelsin aan wat gelyktydig as inleiding tot ’n lys kwalifiserende kriteria dien. Die bewoording lui soos volg:
Totdat die teendeel bewys is, word daar vermoed dat ’n persoon wat werk vir, of dienste lewer aan, enige ander persoon, ongeag die vorm van die kontrak, ’n werknemer is, indien een of meer van die volgende faktore aanwesig is […].
In Universal Church verwys appèlregter Ndlovu na die belang van die gewone grammatikale betekenis as een van die basiese reëls by wetsuitleg (par. 41) en pas dan daardie uitlegbeginsel op die frase “ongeag die vorm van die kontrak” toe. Hy verstaan die frase as ’n aanduiding dat daar wel ’n kontrak teenwoordig moet wees. Die frase is in der waarheid een van verskeie bysinne (meer as 20) binne ’n saamgestelde sin en kan nie vir semantiese doeleindes uitgesonder word sonder om die sin in sy geheel te oorweeg nie. By die ontleding van die betrokke frase moet die hof begin deur vas te stel wat die hoofsin is en hoe die onderskeie bysinne die hoofsin dien of aanvul. Daarna kan die hof bepaal wat die betwiste frase beteken en, belangriker nog, wat die voorsetsel ongeag binne die sintaktiese konteks aandui. Hoe beïnvloed “ongeag” die optrede van die bysin onder bespreking? Om die funksie van “ongeag die vorm van die kontrak” te peil, moet die inleidingsin van artikel 200A(1) opgebreek word:
Die wetgewer vermoed [hoofsin]
(dat) ’n persoon is ’n werknemer [bysin]
(wat) werk vir enige ander persoon [bysin]
(of) (wat) dienste lewer vir enige ander persoon [bysin]
ongeag die vorm van die kontrak [frase – adnominale adjunk]
(totdat) die teendeel word bewys [bysin]
(indien) een van die volgende faktore is aanwesig [bysin]
(indien) meer van die volgende faktore is aanwesig [bysin]
Die hoofsin word aangevul deur ’n verskeidenheid bysinne: betreklike bysinne wat die vermoede in die hoofsin bevestig en bywoordelike bysinne wat voorwaardes stel. Daar is ook ’n adjunk teenwoordig. ’n Adjunk is ’n konstituent wat addisionele inligting verskaf. ’n Hoof- of bysin is egter nie van ’n adjunk afhanklik nie; met ander woorde ’n sin kan daarsonder funksioneer. Die rede daarvoor is dat ’n adjunk nie ’n volledige gedagte uitdruk nie, maar eerder aan ’n bestaande voltooide hoofgedagte bind (Payne 2006:297; Ruigendijk, De Belder en Schippers 2021:205, 210–1, 214). Die voltooide gedagte in artikel 200A(1) is dat ’n persoon ’n werknemer is wanneer hy/sy werk of dienste lewer aan ’n ander persoon. Die frase “ongeag die vorm van die kontrak” is ’n adnominale adjunk wat met die naamwoord werknemer verbind en wat uitgelaat kan word sonder om die hoofgedagte te wysig.1 Die frase word deur die voorsetsel ongeag ingelei.2 Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Buro van die WAT 2022) dui ongeag daarop dat ’n mens nie aandag skenk aan of oplet na iets nie. Dit wil sê ’n persoon is ’n werknemer wanneer hy/sy vir iemand anders werk en wanneer hy/sy aan een of meer van die gelyste kriteria voldoen, ten spyte van die vorm wat ’n kontrak tussen partye aanneem. Daardie kontrak kan dus geskrewe, mondelings of selfs gesuggereer wees. Die bewoording van artikel 200A(1) stel dus nie ’n geskrewe kontrak as enigste vorm voor nie (sien ook Germishuys 2016). Die vorm van die kontrak is nie belangrik nie.3
Deur ’n frase op hierdie wyse te isoleer, soos in die geval van Universal Church, beteken dat die ondersoeker nié die gewone grammatikale reëls van die betrokke taal respekteer en toepas nie. Grammatika sluit sintaktiese reëls in. Die implikasie is dus dat die uitlegbeginsel óf geensins toegepas word nie óf foutief gebruik word.
In navolging van Endumeni verrig regter Davis die teenoorgestelde in Lueven Metals, die saak onder bespreking. In sy ontleding wend hy grammatikale beginsels suksesvol aan en skenk spesifiek aandag aan ook die sintaksis van die relevante artikel, hoewel in ’n beperkte mate. Hierdie bespreking het ten doel om sowel die taalkundige uiteensetting van regter Davis se uitspraak te bevestig as om ʼn voorstel vir wetswysiging aan die hand te doen. Let wel, dié bespreking is primêr tot die taalkundige waarde van die hofuitspraak en die bydrae wat taal kan lewer tot die verbetering en verheldering van wetgewende kommunikasie beperk.
2. Feite
Die applikant, Lueven Metals, het die Hoë Hof (HH) om ’n verklarende bevel genader om sodoende ’n dispuut met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (voortaan SAID) te beëindig en om die nodige helderheid te verkry betreffende die bewoording van artikel 11(1)(f) in die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde 89 van 1991 (voortaan BTW-wet). Die agtergrondfeite behels die volgende:
’n Dispuut het ontstaan oor die potensiële heffing van BTW teen die nulkoers op goud. Die applikant verskaf goudstawe aan geregistreerde banke soos Absa en voer aan dat die goud nie onderhewig is aan die koers van belasting op toegevoegde waarde (voortaan BTW) nie, soos in artikel 7(1) bepaal, maar teen die nulkoers verkoop word (par. 1). Die SAID argumenteer dat die goud wat deur die applikant verskaf word reeds ’n vervaardigingsproses ondergaan het en daarom nie vir die nulkoers kwalifiseer nie (par. 1). Ingevolge artikel 11(1)(f) is die nulkoers beperk tot gesuiwerde goud wat uit ruwe stof verwerk en daarna in een van die voorgeskrewe agt vorme gegiet is. Die bewoording van artikel 11(1)(f) lui soos volg:
11(1) Waar, by ontstentenis van hierdie artikel, ’n lewering van goed aan belasting teen die koers bedoel in artikel 7(1)(a) onderworpe sou wees, is, mits subartikel (3) van hierdie artikel nagekom word, daardie lewering van goed aan belasting teen die koers van nul persent onderworpe, waar —
(f) die lewering is aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy (Eiendoms) Beperk of ’n bank ingevolge die Bankwet, 1990 (Wet 94 van 1990), geregistreer, van goud in die vorm van stawe, blanko munte, gietblokke, knope, draad, plaat of korreltjies of in oplossing, wat nie ’n vervaardigingsproses ondergaan het nie behalwe die raffinering daarvan of die vervaardiging of produksie van bedoelde stawe, blanko munte, gietblokke, knope, draad, plaat, korreltjies of oplossing.
Omdat beide partye en die voorsittende beampte hulle op die Engelse weergawe gesteun het, word die Engelse bewoording hier onder vir konteks verskaf. Die taalkundige evaluering word derhalwe ook tot die Engelse teks beperk.
11(1) Where, but for the provisions of this section, a supply of goods would be charged with tax under section 7(1)(a), such supply of goods shall, subject to compliance with subsection (3) of this section, be charged with tax at the rate of zero per cent where —
(f) the supply is to the South African Reserve Bank, the South African Mint Company (Proprietary) Limited or any bank registered under the Banks Act, 1990 (Act 94 of 1990), of gold in the form of bars, blank coins, ingots, buttons, wire, plate or granules or in solution, which has not undergone any manufacturing process other than the refining thereof or the manufacture or production of such bars, blank coins, ingots, buttons, wire, plate, granules or solution.
Die applikant is nie ’n myn of prospekteerder nie, maar eerder ’n aankoper en handelaar van goud wat voorheen gesuiwer en daarna in verskillende goudprodukte omskep is, soos muntstukke en juweliersware (par. 3.2). Die applikant koop daardie vervaardigde goudprodukte by lede van die publiek, herverwerk dit en giet die goud in stawe (par. 3.3). Hierdie stawe is van ’n laer suiwerheid en word na ’n raffinadery geneem waar die goud nogmaals gesuiwer word om die suiwerheid te verhoog en waartydens die goud in een van die agt toelaatbare vorme gegiet word (par. 3.3). Die goudstawe wat Lueven Metals aan geregistreerde banke lewer, bestaan derhalwe uit goudprodukte wat aanvanklik van ruwe vorm na kommersiële produkte omskep en as produk aan onder meer die publiek verkoop was en sedertdien ten minste nog twee afsonderlike louteringsprosesse ondergaan het. Die applikant argumenteer egter dat die onderhawige artikel gelees moet word in terme van die gelewerde produk en nie die aanvanklike oorsprong van die produk nie (par. 7.3). Volgens Lueven Metals verwys “manufacturing process” in paragraaf (f) na die prosesse van die verkoper van goudstawe (bv. Lueven Metals) en nie na die historiese prosesse waaraan die goud in die stawe voorheen onderhewig was nie (par. 8.4). Teen dié agtergrond versoek die applikant duidelikheid omtrent die volgende drie aspekte (par. 3.4):
- Dat die woord goud in artikel 11(1)(f) verwys na en van toepassing is slegs op goud wat geraffineer is tot ’n toelaatbare suiwerheid vir aankope deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy of enige ander bank geregistreer ingevolge die Bankwet.
- Dat die frase “which has not undergone any manufacturing process other than the refining thereof or the manufacture or production of” in artikel 11(1)(f) die nulkoers van goud uitsluit (i) wanneer dit nie in enige van die agt ruwe vorms gegiet is nie en (ii) wanneer gesuiwerde goud verdere vervaardigingsprosesse ondergaan.
- Dat die frase “which has not undergone any manufacturing process other than the refining thereof or the manufacture or production of” in artikel 11(1)(f) verwys na enige vervaardigingsprosesse wat deur die verskaffer van goud (aan die gelyste entiteite) bestuur word, en verwys nie na enige prosesse waaraan goud histories onderwerp is nie, voordat dit tot ’n toelaatbare suiwerheidsgraad geraffineer is vir aankope deur die gemagtigde entiteite.
In sy beslissing som regter Davis die subartikel kortliks op en bevestig ook waarom dit ontoelaatbaar is om sommerso woorde of sinne in ’n artikel te skrap. Ten einde verskaf hy ’n finale uiteensetting van artikel 11(1)(f).
3. Beslissing
Volgens regter Davis kan die betrokke subartikel opgesom word as
- die verkope van goud aan ’n geslote lys aankopers
- die verskaffing van goud in enige van die agt voorgeskrewe vorms
- die voorbehoud dat die goud nie enige prosessering ondergaan het nie, behalwe loutering en die giet daarvan (par. 5.1).
Die regter dui verder aan dat die frase onder bespreking met die betreklike voornaamwoord which begin en as sodanig ’n betreklike bysin inlei (par. 5.23). Daardeur word die subafdeling beperk tot goud wat slegs ’n enkele vervaardigingsproses ondergaan het en sluit daarom enige goud wat meer as een keer verfyn en geprosesseer is, uit.
Lueven Metals het bykomend geargumenteer dat die woord goud geïnterpreteer moet word as beduidend van “goud met ’n suiwerheid van 99,5%” (par. 8.4). Die applikant voer ook aan dat dié definisie van goud beperk is tot goudstof wat aan die geslote lys aankopers verkoop is, wat impliseer dat enige goudstof wat steeds onverkoop is nie as goud gedefinieer kan word nie (par. 8.4). Regter Davis verwerp hierdie redenasie omdat dié definisie van goud nie in die teks voorkom of afgelei kan word nie; dit laat ook die insluiting van die betreklike bysin oortollig (par. 8.4). Ter ondersteuning haal regter Davis AfriForum v University of the Free State 2018 2 SA 185 (KH) aan, wat bepaal dat al die woorde, frases en uitdrukkings van ’n betrokke artikel in ag geneem moet word wanneer spesifieke taalverheldering benodig word (par. 8.5). Dié uitlegbeginsel is relevant veral wanneer die applikant voorstel dat die herhaling van die voorgeskrewe agt vorms onnodig is en dat die eerste vermelding daarom geskrap kan word (par. 8.6). Om dít te doen, sou ’n blatante ignorering wees van die presedente gestel deur onder meer die Konstitusionele Hof, aldus regter Davis (par. 8.7).
Ten slotte verklaar die regter (par. 9) hoe artikel 11(1)(f) geïnterpreteer moet word sodat goud teen die BTW-nulkoers gehef mag word:
- ’n lewering aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy (Edms.) Bpk. of enige bank geregistreer ingevolge die Bankwet 94 van 1990
- van goud
- in die vorm van stawe, blanko munte, gietblokke, knope, draad, plaat, korreltjies of in ’n oplossing
- wat nie enige vervaardigingsproses ondergaan het nie, behalwe:
4.1 die verfyning daarvan; of
4.2 die vervaardiging of produksie van sulke stawe, blanko munte, gietblokke, knope, draad, plaat, korreltjies of oplossing; en
4.3 wanneer die verkoper die nodige dokumentêre bewyse bekom en behou het wat die Kommissaris mag benodig om die verkoper se aanspraak op die nulkoers te ondersteun. - Die verskaffing van goud wat uit goudstof saamgestel is wat voorheen gesuiwer en gevolglik enige vervaardigingsproses ondergaan het, voordat dit verfyn en tot die voorgeskrewe agt onbewerkte vorms vir die bedoelde voorsiening aan die gelyste ontvangers vervaardig is, is daarom van die nulkoers uitgesluit.
Vervolgens word kortliks aangedui waarom regter Davis se taalkundige hantering meriete het.
4. Kommentaar
Tydens sy ontledings van regstaalkwessies verwys Roger Shuy (2008:234) na ’n taalwetenskaplike se gereedskapskis. Hy sê (1990:302): “I simply reached into the toolbox that my field has given me and selected the necessary tools for the problem to be resolved.” Hy bedoel daarmee sowel die ontledingstegnieke bekend aan taalkundiges as die hoofkomponente van taalkunde, onder meer die fonetiek, morfologie, sintaksis, semantiek en pragmatiek. Hy beskou hierdie komponente as die werktuie of instrumente waarmee taalkwessies aangepak en opgelos kan word. Die meeste van hierdie instrumente is binne die reikwydte van ook regsgeleerdes en -praktisyns en kan ’n positiewe bydrae tot betekenisuitleg lewer. Ter bevestiging van regter Davis se taalontleding stel ek drie instrumente in beperkte mate voor:
- semantiese komponente
- semantiese vooronderstelling
- taalhandelinge.
Omdat regter Davis die betreklike voornaamwoord which uitgesonder het, word ook betreklike bysinne kortliks vooraf van nader beskou. Hierdie gebruik van dié instrumente dui aan dat ’n taalkundige ontleding by die uitleg van wette in beperkte mate nuttig kan wees.
4.1 Semantiese komponente
Leksikale items soos woorde kan meer as een betekenisonderskeiding hê. Daardie onderskeidings word dikwels bepaal deur die semantiese komponente waaruit die konsep opgebou is (Murphy 2012:44, 46). Die teenwoordigheid of afwesigheid van hierdie komponente binne ’n bepaalde konsep kan die betekenis van die woord binne konteks wysig. Semantiese komponente is binêr en word as positief of negatief uitgedruk. Byvoorbeeld, die woord man is [+mens, +manlik, +volwasse]. Omdat die woord man uit die kenmerke “mens”, “manlik” en “volwasse” bestaan, deel man ook ’n verhouding met elkeen van hierdie konsepte. Derhalwe bestaan daar ’n konseptuele verwantskap tussen items. As ’n spreker na sy kollega Jan verwys as “kinderagtig”, verstaan ’n mens dat Jan die volgende kenmerke het: [+mens, +man, -volwasse]. Weens die verwantskap tussen Jan en die semantiese komponente, kan ’n mens veralgemeen en beweer dat mans (dus mense) soms onvolwasse is. Wanneer artikel 11(1)(f) van die BTW-wet op dieselfde wyse beskou word, reflekteer “goud teen die nulkoers” die kenmerke [+suiwer, +geslote aankopers, +8 gietvorme, +slegs valuta]. Sou enige van die kenmerke verander, wysig dit die konsep van “goud teen die nulkoers” ook. As goudstawe aan ’n woekeraar of ongeregistreerde entiteit verkoop sou word ([-geslote aankopers]), is die handelaar nie meer geregtig op die nulkoers nie. Dit geld ook vir goud wat voorheen vir ander doeleindes verwerk is as die oorspronklike gebruik vir valuta ([-slegs valuta]) (sien Van Zyl en Carney (2021) en Shuy (1986) vir ’n soortgelyke komponensiële ontleding in ’n regskonteks).
4.2 Semantiese vooronderstelling
Vooronderstelling is gesetel in wat sprekers as die waarheid of as vanselfsprekend aanvaar (Cruse 2015:42). As sodanig is vooronderstelling kontekssensitief en kan daarom weens ’n botsing met die feitelike stand van sake misluk. In só ’n geval is die vooronderstelling onuitvoerbaar (Huang 2013:69). In breë trekke funksioneer vooronderstelling met ’n waarheidsverhouding: As P waar is, is die vooronderstelling dat Q ook waar is. Met ander woorde ons aanvaar dat Q waar is, gebaseer op die feitelike waarheid van P. Byvoorbeeld, die sin “Prinses Seeiso van Lesotho woon tans in Kanada” (P) vooronderstel dat Lesotho ’n prinses het (Q). Die woord tans vooronderstel ook dat die prinses voorheen iewers anders gewoon het. Om te toets of die vooronderstelling waar is, word negering toegepas. Die formule daarvoor lyk soos volg (Saeed 2009:103):
As P waar is, dan is Q waar.
As P onwaar is, dan is Q steeds waar.
As Q waar is, dan kan P waar of onwaar wees.
As dit waar is dat die prinses van Lesotho in Kanada woon, dan is dit ook waar dat Lesotho ’n prinses het. As die prinses egter nie in Kanada woon nie, is dit steeds waar dat Lesotho ’n prinses het. As Lesotho ’n prinses het, woon sy moontlik in Kanada of elders. Die kontekstuele feite rakende Lesotho bevestig die bestaan van ’n koninklike gesin. Sou P die stelling bevat dat die prinses van Mauritius tans in Kanada woon, dan maak die feitelike situasie van Mauritius die vooronderstelling onuitvoerbaar (want Mauritius het nie ’n koninklike gesin nie). Met betrekking tot die feite in die Lueven Metals-saak, kan die volgende vooronderstellings geformuleer word:
Lueven Metals koop en verkoop goud. Die vooronderstelling is dat hulle goudhandelaars is. Hulle verskaf goudstawe aan Absa, wat vooronderstel dat die goud in een van die toelaatbare gietvorms is en aan ’n entiteit binne die voorgeskrewe geslote lys aankopers verskaf word. Hierdie vooronderstellings is nie deur die hof in twyfel getrek nie. Die vooronderstelling is verder dat die goud wat hulle aan Absa besorg het, prosessering vir slegs valutadoeleindes ondergaan het en nie voorheen in enige ander vorm of aard gefunksioneer het nie. Maar die feite voor die hof bevestig dat Lueven Metals se goudstawe uit verskillende goudbronne saamgestel is, waarvan sommige goudbronne voorheen na kommersiële goudprodukte soos juweliersware verwerk is. Dáárom misluk die vooronderstelling. Dit kan nie as vanselfsprekend aanvaar word dat Lueven Metals se goudstawe uit ruwe goud saamgestel en eenmalig verwerk is vir die uitsluitlike gebruik deur ’n aangewese aankoper nie. Die feite van die saak laat dit eenvoudig nie toe nie.
4.3 Taalhandelinge
Sprekers voer bepaalde handelinge uit deur middel van taal. Dié soort handelinge staan ook as performatiewe bekend weens die taalhandelingswerkwoord (of performatiewe werkwoord). Voorbeelde sluit werkwoorde in soos belowe (“ek belowe om die waarheid te praat”), verklaar (“ek verklaar julle wettig getroud”) en beveel (“ek beveel jou om die huis te verlaat”).4 Die handeling is in die werkwoord opgesluit; die woord moet geuiter word om die handeling uit te voer. Hoewel taalhandelinge gesproke taal behels, tree ’n aantal geskrewe tekste as die skriftelike vorm van ’n gesproke teks op. Regstekste soos kontrakte, testamente, vonnisse en wette is goeie voorbeelde hiervan. ’n Wetteks verteenwoordig die gesproke woorde van die parlement en bevat daarom ’n aantal performatiewe werkwoorde. Soortgelyk, wanneer ’n voorsittende beampte sê/skryf “ek vonnis jou tot twee jaar gevangenisstraf”, voer hy/sy ’n daadwerklike handeling uit.5
Taalhandelinge bestaan gewoonlik gelyktydig uit drie fasette (Van Niekerk en Olivier 2014:284):
- Lokusie is die fisieke uitspreek (of skryf) van ’n sin; die uiting wat die werklike woorde en klanke bevat.
- Illokusie is die bedoeling van die uiting (of geskrif). Voorbeelde sluit in versoeke, waarskuwings, beskuldigings, instruksies, toestemmings en dreigemente.
- Perlokusie is die gevolg of uitwerking van die uiting (of geskrif). Wanneer ’n spreker byvoorbeeld iemand anders beledig, is die bedoelde uitwerking om daardie persoon sleg te laat voel.
Wanneer ’n voorsittende beampte ’n vonnis uitspreek soos “elke party betaal sy eie koste”, bestaan daardie uiting uit fisieke woorde wat hardop gesê word maar ook op skrif gestel is. Dit is die lokusie. Die voorsittende beampte het egter ’n baie spesifieke bedoeling met sy/haar woorde; in hierdie voorbeeld is dit ’n instruksie. Hy/sy sê vir die partye wat om te doen. Dit is die illokusie. (As die beampte ’n reg om appèl toestaan, is die illokusionêre handeling nie ’n instruksie nie, maar ’n toelating.) Die bedoelde uitwerking van die beampte se instruksie is dat elkeen sy eie rekening betaal. Dit is die perlokusie. In die geval dat een van die partye nie sy eie rekening vereffen nie, maar nog steeds die koste van die ander party eis, tree daar ’n wansporing tussen die illokusie en perlokusie in. ’n Spreker se woorde lei dus nie altyd tot die gewenste uitwerking nie.
Met verwysing na die Lueven Metals-saak, sluit artikel 11(1)(f) drie illokusionêre handelinge in. Die volgende twee aanhalings word as stellings geformuleer, maar kommunikeer eintlik direktiewe:
a supply of goods would be charged (11(1))
the supply is […] of gold in the form of (11(1)(f))
Die volgende aanhaling word ook as ’n stelling aangebied, maar kommunikeer eintlik ’n assertiewe uiting in die vorm van ’n voorwaarde:
has not undergone any manufacturing process other than (11(1)(f))
’n Direktief het ten doel om ’n bepaalde aksie by die luisteraar/ontvanger van die boodskap uit te lok, terwyl assertiewe ’n spreker aan die waarheid van die kommunikasie bind en om feite handel (Cruse 2015:374). Dit beteken artikel 11(1)(f) gee saakgelastigdes opdrag om BTW teen die nulkoers te hef waar goudprodukte daarvoor kwalifiseer. Die kwalifiserende kriteria (gietvorm en lys van aankopers) is egter deur ’n spesiale voorwaarde gebind, dit wil sê die instruksie om die nulkoers te hef mag slegs uitgeoefen word indien die betrokke goud ’n beperkte prosessering ondergaan het. Die enigste geldige prosessering is die verwerking van ’n ruwe stof na een van die gesuiwerde voorgeskrewe gietvorme. Ruwe goud wat eers na produkte soos juweliersware, rekenaaronderdele, gedrukte muntstukke en diesulkes omskep is en daarná per tweede geleentheid vir valuta gesmelt, gesuiwer en gegiet is, word klaarblyklik uitgesluit.
4.4 Betreklike bysinne
Die gedeelte van artikel 11(1)(f) wat stellig die meeste ongelukkigheid veroorsaak, is die betreklike bysin “which has not undergone any manufacturing process other than the refining thereof or the manufacture or production of such bars, ingots, buttons, wire, plate, granules or solution”. Regter Davies is kundig om dié bysin as deel van sy ontleding te oorweeg (par. 5.2–3), juis omdat dit hier ’n insiggewende grammatikale rol vervul. Hy belig twee van die betreklike voornaamwoord which se funksies, naamlik om die naamwoordstuk waarna die bysin terugverwys (die goud) te bepaal, maar ook om die gegewens tot daardie naamwoordstuk te beperk (Parrott 2016:406–8; Ponelis 1977:170). Met ander woorde, die goud wat aan die Reserwebank (en die ander gemagtigde aankopers) verkoop word, mag net ’n raffinering ondergaan en daarna in een van die agt vorms gegiet word.
Op die keper beskou, kan paragraaf (f) onder meer soos volg opgebreek word:
die lewering van goud in die vorm van stawe … aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank …,
wat geen vervaardigingsproses (behalwe die verfyning daarvan na stawe …) ondergaan het nie.
Die eerste deel van paragraaf (f) bestaan uit ’n gelaagde naamwoordstuk: die lewering van goud in die vorm van stawe (ens.). Hierdie naamwoordstuk is die onderwerp van die sin en is ’n onnodig komplekse wyse om te sê “(die verskaffing van) goud”. Die betreklike voornaamwoord wat tree as plaasvervanger vir die naamwoordstuk op en voorkom ’n onnodige herhaling. Daarsonder sou die tweede helfte van die sin gelees het: die lewering van goud in die vorm van stawe het geen vervaardigingsproses ondergaan nie, behalwe ’n suiwerings- en vergietingsproses. Hieruit blyk dat die betreklike voornaamwoord ’n verwysende funksie het – dit verwys terug na spesifieke inligting wat voorheen verskyn het. Soos reeds vermeld, verskaf die betreklike bysin bykomende inligting omtrent die naamwoordstuk in die voorafgaande sin. In hierdie geval word ’n voorwaarde bygevoeg – die goud mag ’n beperkte aantal prosesse ondergaan het. Omdat die betreklike voornaamwoord na ’n spesifieke naamwoordstuk terugverwys, is die voorwaarde in die betreklike bysin beperk tot daardie betrokke naamwoordstuk (naamlik die goud wat aan die geslote lys entiteite verskaf word, in die vorm van stawe en so meer).
Soos vroeër genoem, het die applikant ook geargumenteer dat die herhaalde vermelding van die voorgeskrewe goudvorms oorbodig is en dat die eerste vermelding daarvan geskrap kan word (par. 8.6). Die resultaat is ’n hersiening soos volg: “the supply is to the [listed entities], of gold … which has not undergone any manufacturing process other than the refining thereof or the manufacture or production of … bars, blank coins, ingots, buttons, wire, plate, granules or solution”. Hoewel regter Davis redes verskaf het waarom die skrapping van die frase problematies en ontoelaatbaar sou wees, hou só ’n besluit geen ingrypende grammatikale implikasie in nie. Soos hier bo gesien kan word, bestaan die onderwerp van die betrokke sin uit ’n redelik komplekse naamwoordstuk. Daardie naamwoordstuk sluit tans die agt toelaatbare goudvorms in. Deur die naamwoordstuk te reduseer tot slegs goud wysig nie die betreklike bysin nie. Die betreklike bysin bevat nog steeds die voorwaarde dat goud nie meerdere prosesse ondergaan nie en bepaal nog steeds dat die goud in een van die voorgeskrewe vorms voorsien moet word.
5. Gevolgtrekking
Dikwels gaan taaluitleg met woordeboekgebruik gepaard; in só ’n mate dat die uitleg meestal aan die betekenis van een of meer woorde geanker word sonder om werklik die groter taalkonteks te oorweeg. Só ’n benadering kan waarskynlik taaluitleg onnodig inperk. Hoewel regter Davis ook ’n woordeboek geraadpleeg het, het hy die bron vir grammatikale helderheid aangewend en nie bloot om die denotasie van ’n bepaalde leksikale item te bepaal nie. Hy gebruik Endumeni en Cool Ideas 1186 CC v Hubbard 2014 4 SA 474 (KH) as vertrekpunte en wend ’n daadwerklike poging aan om die grammatikale en sintaktiese bou van die betwiste subartikel te verstaan en te ontleed. Gegrond op die beskikbare feite van die saak kan daar met sy taalkundige gevolgtrekking saamgestem word. Wanneer die drie ontledingsinstrumente (semantiese komponente, semantiese vooronderstelling en taalhandelinge) aangewend word, word telkens tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Ofskoon dié instrumente hier op beperkte wyse aangewend is, dien hulle ook as illustrasie van beskikbare tegnieke waarmee ’n voorsittende beampte betrokke taalkwessies sou kon oopknoop of bestaande vermoedens sou kon bevestig. ’n Woordeboek hoef nie die enigste of belangrikste taalhulpbron binne wetsuitleg te wees nie.
Daar word egter met die applikant saamgestem dat artikel 11(1)(f) getuig van lomp formulering waarin nominalisering onnodig plaasvind.6 Naamwoordstukke soos supply of goods, the supply of gold, the refining, the manufacture or production kan sinvoller optree wanneer hulle, waar nodig, as werkwoorde gebruik word. Soos paragraaf (f) tans daar uitsien, gaan die formulering gebuk onder die selfstandige naamwoorde en is die instruksies en voorwaardes duister weens ’n tekort aan nodige werkwoorde. ’n Sinvoller formulering vir ʼn toekomstige wetsherskrywing kan moontlik soos volg lyk:
Die staat hef ’n belasting van die nulkoers op goud wat verskaf word aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy (Edms.) Bpk., of enige bank geregistreer ingevolge die Bankwet, 94 van 1990. Die goud moet in die vorm van stawe, blanko munte, gietblokke, knope, draad, plaat of korreltjies of in ’n oplossing wees. Dit mag geen vervaardigingsproses ondergaan nie, behalwe om gesuiwer te word of in die vorm van stawe, blanko munte, gietblokke, knope, draad, plate of korrels of oplossing omskep te word.7
Sou paragraaf (f) moontlik die beoogde gebruik van die goud vermeld (byvoorbeeld dat die goud vir valutadoeleindes bepaal is), kan dit miskien enige verdere verwarring voorkom. Die wetteks kon staaf dat goud wat oorspronklik vir valutagebruik voorberei is, vir die nulkoers kwalifiseer terwyl goud wat herwin en daarna vir valutagebruik voorberei is, aan die koers (ingevolge artikel 7(1)) onderhewig is. Iets hiervan is reeds te vinde in regter Davis se gebruik van die woord onbewerkte (“unwrought”) wanneer hy na die voorgeskrewe agt goudvorms verwys (par. 9.5). Die woord onbewerkte kan by die artikel ingesluit word om ’n duidelike onderskeid te maak tussen goud wat vir die eerste keer na ontginning vir valutagebruik aangewend is en dié wat na vorige raffinering aan die gelyste entiteite voorsien word. Daar is dus verskillende maniere waarop die wetgewer die betrokke formulering in die BTW-wet sou kon verbeter om onnodige onsekerheid te voorkom. Intussen is ’n noukeuriger fokus op die sintaksis van soortgelyke artikels raadsaam.
Bibliografie
Buro van die WAT. 2022. Ongeag. www.woordeboek.co.za (25 Julie 2022 geraadpleeg).
Carstens W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2014. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: JL van Schaik.
Cruse, A. 2015. Meaning in language. An introduction to semantics and pragmatics. 3de uitgawe. Oxford: Oxford University Press.
Feinauer, I. en F. Ponelis. 2014. Basiese Afrikaanse sintaksis. In Carstens en Bosman (reds.) 2014.
Germishuys, W. 2016. Religion above the law? Universal Church of the Kingdom of God v Myeni and others (DA3/14) [2015] ZALAC 31 (28 July 2015). SA Tydskrif vir Handelsreg, 28(2):360–73.
Huang, Y. 2013. Pragmatics. Oxford: Oxford University Press.
Murphy, M.L. 2012. Lexical semantics. Cambridge: Cambridge University Press.
Parrott, M. 2016. Grammar for English language teachers. 2de uitgawe. Cambridge: Cambridge University Press.
Payne, T. 2006. Exploring language structure. A student’s guide. Cambridge: Cambridge University Press.
Perumalsamy, K. 2019. The life and times of textualism in South Africa. Potchefstroom Elektroniese Regsjoernaal, 22(2019):1–29.
Ponelis, F. 1977. Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis. Pretoria: JL van Schaik.
Ruigendijk, E., M. De Belder en A. Schippers. 2021. Inleiding Nederlandse taalkunde. Voor aankomende neerlandici intra en extra muros. Amsterdam: Amsterdam University Press.
Saeed, J.I. 2009. Semantics. 3de uitgawe. Oxford: Wiley-Blackwell.
Shuy, R.W. 1986. Context as the highest standard of semantics: A lawsuit involving the meaning of “accuracy” in Accounting. Journal for English Linguistics, 19(2):295–303.
—. 1990. Warning labels: Language, law, and comprehensibility. American Speech, 65(4):291–303.
—. 2008. Fighting over words. Language and civil law cases. Londen, New York: Oxford University Press.
Tiersma, P.M. 1999. Legal language. Chicago: University of Chicago Press.
Van Niekerk, A. en J. Olivier. 2014. Pragmatiek. In Carstens en Bosman (reds.) 2014.
Van Zyl, S.P. en T.R. Carney. 2021. Just how voluntary is “voluntary” for the purpose of a voluntary disclosure application in terms of section 266 of the Tax Administration Act 28 of 2011? – Purveyors South Africa Mine Services (Pty) Ltd v Commissioner: South African Revenue Service (61689/2019) [2020] ZAGPPHC 404 (25 August 2020). Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 84(1):95–110.
Eindnotas
1 As adjunk tree die betrokke frase ook as ’n nabepaling tot “’n werknemer” op in die vorm van ’n setselgroep. Sien Feinauer en Ponelis (2014:215) asook Ruigendijk, De Belder en Schippers (2021:228).
2 Die woord ongeag word hier as voorsetsel gebruik en nié as ’n voegwoord nie, want die frase bevat geen werkwoord nie. ’n Werkwoord is noodsaaklik vir ’n konstituent om as ’n sin te kwalifiseer. Trouens, die frase reflekteer die bou van ’n setselgroep. Sien Feinauer en Ponelis (2014:221 e.v.).
3 Dit is die gevolgtrekking op grond van die taalgebruik in die wetteks. As dit nie die bedoeling van die wetskrywer was nie, of as dié gevolgtrekking met die basiese beginsels van arbeidsreg bots, moes die wetskrywer meer aandag geskenk het aan die manier waarop belangrike konsepte omskryf is. Die verwysing na ’n kontrak moes dan nie as ’n adjunk geformuleer gewees het nie.
4 Dié is uiteraard ’n oorvereenvoudiging, maar voldoende vir die argument ter sake. Hou in gedagte dat sprekers reëlmatig taalhandelinge op indirekte wyse uitvoer. Vgl. “Ek belowe om die waarheid te praat” met “Ek sal die waarheid praat”.
5 Die spraakhandeling moet egter aan getrouheidsvoorwaardes voldoen, d.w.s. die spreker moet oor die nodige gesag beskik om die taalhandeling suksesvol uit te voer. ’n Geregistreerde dominee mag byvoorbeeld ’n kind doop en die parlement mag ’n wet promulgeer. Wanneer ’n onbekende persoon op straat ’n wet uitroep, beteken dit uiteraard niks nie. Sien o.a. Cruse (2015:376).
6 Nominalisering is ’n proses waartydens woordsoorte soos werkwoorde na selfstandige naamwoorde omgeskakel word. Dit is ’n tegniek wat doelbewus die akteur in die sin verswyg en vervul daardeur ’n soortgelyke rol as die lydende sinskonstruksie. Die nadeel is dat die aksie (gebeure) nie duidelik in die sin uitgedruk word nie. Sien veral Tiersma (1999:77, 206–7).
7 Dié formulering sal aangepas moet word om die skryf- en formateringstyl binne wetsopstelling te bevredig. Dit hoef egter nie ten koste van verstaanbaarheid plaas te vind nie.
- Die fokusprent deur No-longer-here by hierdie artikel is op Pixabay
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
Kommentaar
Baie goed deurdink, insig deurslaggewend.