Vonnisbespreking: Opmerkings oor die woord poes as gekwalifiseerde belediging in ’n interdikoortreding

  • 2

Vonnisbespreking: Opmerkings oor die woord poes as gekwalifiseerde belediging in ’n interdikoortreding1
S v Lewis (54/2024) [2024] ZAWCHC 59 (HH)

Terrence R. Carney, Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 21(2)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2024/j21n2e1

 

Abstract

Observations about the word poes as qualifying insult in the contravention of a protection order

In S v Lewis 54/2024 2024 ZAWCHC 59 (HC), Salie J had to decide whether the use of the Afrikaans swear word poes contravened a protection order as stipulated by the Domestic Violence Act 116 of 1998. The protection order prohibits the respondent from swearing at the applicant. Due to the respondent’s use of the swear word in question, the trial court found him guilty. However, on review, the high court reconsidered the respondent’s use of the word poes within the phrase los my ma se poes se ding and decided that the swear word was used to express emotion instead of violence. The court further held that the word was not directed at the applicant but was used to refer to a specific noun (music / the volume of music). As a result, Salie J overturned the court a quo’s verdict. This case discussion serves as a confirmation of Salie J’s decision and provides a brief linguistic analysis in support. The analysis is preceded by a review of the pragmatic uses of swear words. This is followed by an outline of the grammar of the applicable phrase, which indicates how the swear word expresses emotion grammatically. Overall, the case is considered a positive step forward in terms of legal interpretation and in support of language diversity and fair access to justice.

Keywords: Afrikaans; grammar; language diversity; language variety; non-standard language; poes; statutory interpretation; swear words

Trefwoorde: Afrikaans; grammatika; niestandaardtaal; taaldiversiteit; taalvariëteit; poes; vloekwoorde; wetsuitleg

 

1. Inleiding

Keurige taal vorm deel van alle sprekers se aktiewe woordeskat en vloekwoorde in die besonder word vir uiteenlopende doelwitte aangewend. Dit moet daarom voor die hand lê dat vloekwoorde in hul breë gebruik ook in hofsake voorkom. Die woord fok, wat as die prototipiesste taboewoord in Afrikaans beskou word (Van Huyssteen 2022), kom reëlmatig genoeg in regsverslae voor as bewys van betrokkenes se uitings tydens insidente. Die gebruik van ’n vloekwoord is nie noodwendig self die misdryf nie, maar vorm óf deel van die feite óf is ’n minder belangrike deel van die agtergrond van ’n belangriker kwessie.2 Byvoorbeeld, voordat die appellant in Jaftha v S A195/2023 2023 ZAWCHC 319 (HH) (par. 25) die klaer met ’n panga aangeval het, het hy gesê: “[H]ey jou moffie, fok hier, sorry vir die woord, fok hier weg van die huis af, jy kan mos sien Michelle is nie hier nie.” In S v Redhouse CC14/2017 2018 ZAECPEHC 42 (HH) (par. 10) het die beskuldigde gesê “fok jou, Antie” voordat hy een van die slagoffers geskiet het. In sommige gevalle vorm die gebruik van vloekwoorde deel van crimen iniuria-sake waar rassistiese of seksistiese skelwoorde en haatspraak ter sake is, soos in S v Henning ECJ 2004/008 2004 ZAECHC 14 (HH), Hotz v University of Cape Town 2017 2 SA 485 (HHA) en Ryan v Petrus 2010 1 SACR 274 (OKG). In laasgenoemde het die verweerder onder meer na die eiser as teef, naaier en poes verwys. Dieselfde geld S v Visagie 2009 2 SACR 70 (W), waar die appellant die klaer ’n poes genoem het voordat hulle handgemeen geraak het. Soms word die getrouheid van ’n uiting bevraagteken, soos die gebruik van die woord poes in Van der Westhuizen v Rieger EL500/2017 2019 ZAECELLC 9 (OKOL), maar daar is ook voorbeelde waar gesprekke opgeneem is en uitings soos “[...] omdat jy so fucked up is, jou fokken dief” in M v M 62488/15 2016 ZAGPPHC 1220 (HH) baie omtrent die spreker, die aangesprokene en die konteks blootlê. Telkens is die aangesprokene die teiken van taboetaal en word daardie persoon tot ’n slagoffer gereduseer. In gevalle waar ’n applikant ’n interdik teen ander partye versoek, speel kommunikasie en die aard van die taalgebruik en woordkeuse ’n belangrike rol by misdrywe. Byvoorbeeld, in JR v TR 2021/21609 2022 ZAGPJHC 392 (HH) lei meer as 50 ongevraagde e-posse waarin die outeur uitlatings maak soos “jy fok nou met die verkeerde persoon” tot ’n bevel wat enige verdere verbale interaksie verhoed (parr. 2, 27 en 102).

Voorbeelde soos die bovermelde sake betrek mense in sowel gewone, alledaagse situasies as buitengewone omstandighede waartydens hulle in niestandaardtaal met mekaar kommunikeer. Sommige sprekers is in staat om, soos nodig, tussen standaardtaal en niestandaardvariëteite te wissel. Carney (2023:98, 101) dui egter daarop dat talle sprekers ’n niestandaardvariëteit as huistaal praat en redeneer daarom dat voorsittende beamptes taalvariëteite met sensitiwiteit en oorleg moet hanteer wanneer hulle oplossings by die regsuitleg oorweeg. ’n Goeie voorbeeld hiervan is S v Lewis 54/2024 2024 ZAWCHC 59 (HH) (voortaan Lewis) en regter Salie se ontleding van die frase los my ma se poes se ding. In die betrokke saak moet die voorsittende beampte bepaal of die beskuldigde ’n interdik oortree het deur die woord poes te gebruik. Regter Salie voer in beperkte mate ’n taalondersoek uit en bevind dat die beskuldigde nie die interdik oortree het nie, omdat die betwiste vloekwoord nie teen die klaer gerig is nie. Die regter maak ook belangrike stellings omtrent taal, byvoorbeeld dat die betekenis van woorde mettertyd verander, dat taboewoorde se taboestatus kan afneem, dat bepaalde woorde merkers van kulturele identiteit kan wees, en dat woorde verskillende betekenisse in verskillende kontekste kan hê, ook wanneer hulle as verskillende woordsoorte aangewend word (parr. 1–4).

Ek is dit met regter Salie se uitspraak eens; die beskuldigde het nie met sy gebruik van die woord poes die voorwaardes van die interdik oortree nie. Ek verskil wel met die voorsittende beampte se taalontleding. Die hof beskou die gebruik van poes in die frase los my ma se poes se ding as ’n byvoeglike naamwoord, meer spesifiek ’n adjektief wat as vloekomskrywing gebruik is om die naamwoord ding nader te bepaal (par. 10). Dit is foutief. Die frase moet eerder in sy geheel as ’n naamwoordstuk beskou word, wat beteken dat die frase semanties as ’n eenheid funksioneer. Dit beteken ook dat die woord poes nie as ’n byvoeglike naamwoord optree nie. Nóg ’n punt van kritiek is die hof se redenasie dat die gebruik van die woord poes in hierdie konteks ’n merker van Kaaps-Afrikaanse kultuuridentiteit is. Hoewel dit op sigself nie betwis word nie, is dit wel belangrik om daarvan kennis te neem dat uitdrukkings soos poes, ma se poes en my/jou (ma se) poes nie taalkultureel tot een (Afrikaanssprekende) groep, naamlik sprekers van Kaaps, beperk kan word nie.

Derhalwe stel dié vonnisbespreking twee doelwitte ter ondersteuning van die uitspraak:

(1) om die betrokke grammatika bondig uiteen te sit, en
(2) om kortom te beredeneer waarom die betrokke frase versigtig met bepaalde sprekersgroepe geassosieer moet word.

Vanuit ’n taalkundige en uitlegperspektief dra die beslissing van Lewis waarde, veral omdat niestandaardtaal ernstig deur die hof oorweeg word. Die gebruik van ’n grammatiese ontleding (teenoor die uitleg van woorde) val ook met appèlregter Wallis se seminale uitspraak saam. In Natal Joint Municipal Pension Fund v Endumeni Municipality 920/2010 2012 ZASCA 13 (HHA) het hy bepaal dat wetsuitlêers moet ag slaan op die grammatika van gewone spreektaal (par. 18). Dit beteken dat sintaktiese reëls by die uitleg van wette ’n rol kan speel om sekerheid te verleen (Carney 2022:835). Omdat die bevinding in Lewis by wetsuitleg van belang is, is dit voordelig om die verskynsel in beperkte mate taalkundig te omskryf.

Die res van die vonnisbespreking bestaan uit drie dele: die feite, gevolg deur ’n taalkundige uiteensetting van die betwiste frase, en ten laaste ’n gevolgtrekking.

 

2. Feite

Die saak ter bespreking is in November 2023 deur die landdroshof te Caledon aangehoor en later deur die Hooggeregshof van Wes-Kaapland geëvalueer (par. 1). Volgens die gegewe feite woon die klaer en haar kinders in dieselfde huis as die beskuldigde, haar broer (par. 4). Daar is spanning tussen die partye wat klaarblyklik tot ’n beskermingsbevel teen die beskuldigde gelei het. Op 5 Junie 2023 het die beskuldigde by die huis aangekom en sy musiek baie hard gespeel (ibid.). Die kinders het hom versoek om die volume af te draai omdat hulle met skoolwerk besig was. Toe hy weier, het die klaer se dogter die volume laer gestel (ibid.). Na bewering het die beskuldigde die klaer se dogter met geweld gedreig en haar gewaarsku, sou sy weer aan die volume raak, “gaan ek julle in jou ma se poes inslaan” (ibid.). Daarna het hy die volume opgedraai en gesê: “[V]at weer aan my poese musiek, julle is in julle poes” (ibid.). Die interaksie het daartoe gelei dat die klaer se dogter die polisie bel; die beskuldigde is gearresteer en oornag aangehou (ibid.).

Die beskuldigde is vervolgens daarvan aangekla dat hy die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998 oortree het deur die bepalings van ’n beskermingsbevel te verontagsaam (par. 2). Die bevel verbied die respondent om die applikant met geweld te dreig en/of die applikant en/of verwante persone te vloek (par. 2). Die beskuldigde is op twee aanklagte gearresteer: (1) dat hy die applikant / verwante persoon gevloek het (parr. 3 en 7), en (2) dat hy die applikant met geweld gedreig het. Met betrekking tot die tweede aanklag het die beskuldigde die klaer na bewering met aanranding gedreig en gesê dat hy die huis sou afbrand (par. 5). Weens onvoldoende bewyse is die beskuldigde egter van die tweede aanklag vrygespreek. Omdat die verhoorhof daarvan oortuig was dat hy die woord poes gebruik het, is die beskuldigde op die eerste aanklag skuldig bevind (par. 7). Die Hooggeregshof beperk daarom hul insae tot die eerste aanklag (par. 5).

Die eerste aanklag is toegespits op ’n argument wat ontstaan het weens die luidheid van die beskuldigde se musiek. Die tweede klaer het die musiek afgeskakel (par. 6). Daarna het die beskuldigde die musiek weer aangeskakel en woedend gesê: “[L]os my ma se poes se ding” (ibid.). Vir die verhoorhof was die gebruik van die woord poes voldoende bewyse dat hy die interdik oneerbiedig het, want hy het ’n vloekwoord gebruik in ’n verbale interaksie met ’n persoon verwant aan die applikant. Die beskuldigde, wat homself verteenwoordig het, het aangevoer dat hy nie die vloekwoord teen sy niggie gebruik het nie, maar eerder met verwysing na die musiek. Daardie argument is deur die hof van eerste instansie onwaarskynlik gevind en gevolglik verwerp (par. 7). Die Hooggeregshof bevraagteken die landdros se interpretasie dat die gebruik van die woord poes in hierdie konteks gelykgestel kan word aan verbale mishandeling en of die gebruik van die betwiste woord werklik as ’n oortreding van die beskermingsbevel geld (par. 8).

Die Hooggeregshof verklaar dat die woord poes as ’n byvoeglike naamwoord gebruik is om ’n naamwoord (radio/musiek) te beskryf, wat volgens regter Salie as die onderwerp van die sin funksioneer (par. 10). Die voorsittende beampte gebruik Huddleston en Pullum se The Cambridge grammar of the English language (2002) om die tipe byvoeglike naamwoord te identifiseer en bevestig dat poes in hierdie geval ’n byvoeglike bepaling is wat die emosionele krag van ’n sin versterk (par. 10). Regter Salie gaan verder deur die betekenisveranderinge van die woord poes as ’n vorm van deleksikalisering aan te dui (par. 11). Laasgenoemde proses verduidelik waarom die taboestatus van die betwiste woord afneem. Die Hooggeregshof neem ook kennis van die woord se plek binne die Suid-Afrikaanse samelewing en spesifiek die rol wat die woord as merker van sosiokulturele identiteit vertolk. Regter Salie vermeld dat die woord poes daarom veral binne die konteks van die bruin werkersklas van Kaapstad geïnterpreteer moet word (par. 12). Op grond van die grammatiese en sosiale konteks van die woord, bevind die hof dit onwaarskynlik dat die beskuldigde se taalgebruik as ’n oortreding van die interdik geld, omdat die vloekwoord eerder gebruik is om die musiek te beskryf en nie as verbale mishandeling teen die klaer aangewend is nie (par. 14). Regter Salie voer verder aan dat die uitwerking anders sou wees indien die beskuldigde die woord poes as werkwoord of naamwoord gebruik het (par. 14). Ten einde bevestig die hof dat die woord nie as ’n belediging gebruik is nie (ibid.). As sodanig word die uitspraak van die hof a quo as foutief beskou en word die beskuldigde van die eerste aanklag vrygespreek (par. 15).

 

3. Kommentaar

Hoewel die Hooggeregshof se taalkundige insigte tot ’n juiste beslissing lei, verskil ek met regter Salie op die volgende punte:

  1. Sy beskou die woord poes as deel van die onderwerp van die betwiste sin.
  2. Sy beskou die woord poes as ’n byvoeglike naamwoord.
  3. Sy beweer dat poes se taboestatus weens deleksikalisering aan die afneem is.
  4. Sy beskou die woord as ’n merker van die Afrikaanssprekende bruin werkersklas van Kaapstad.

Dit is verblydend om te sien dat regter Salie ’n goeie taalhandboek geraadpleeg het om die betwiste woord beter te verstaan. En, hoewel ek met die regter saamstem dat die woord inderdaad ’n emotiewe waarde kommunikeer, verskil ek met betrekking tot hóé die woord ekspressief funksioneer. Hierdie vonnisbespreking lewer nie kritiek op die regter se beslissing nie, maar bied taalkundige konteks vir haar uitspraak. Ek gee kortliks ’n uiteensetting van die punte hier bo.

3.1 Vloekwoorde en hul funksies

Taboe as konsep kan na die Polinesiërs teruggespoor word, vir wie bepaalde onderwerpe en gedrag verbode was omdat verontagsaming tot siekte en dood kon lei (Burridge 2014:270–1). Vandag hou die gebruik van taboetaal en -gedrag verband met die gesig (die positiewe sosiale beeld) van ’n spreker en hul gehoor (Burridge 2014:271; Carney 2023:156). Sprekers pas ’n aantal strategieë toe om taboetaal te vermy, soos die gebruik van eufemismes, vaagheid en beleefde taal (Carney 2023:157–60). Reëls vir taboetaal verskil van kultuur tot kultuur en verander ook na gelang van die tye; wat dus vandag as taboe beskou word, gaan nie noodwendig oor twintig jaar taboe wees nie (Burridge 2014:272).

Feinauer (1981:3) dui daarop dat ’n taboewoord nie totaal verbied is nie, maar wel binne ’n bepaalde konteks onsê- of onskryfbaar is, en sluit dikwels godsdiensterme en liggaamsdele in. Vloekwoorde vorm deel van taboetaal en volgens Feinauer (1981:5) het vloekwoorde in Afrikaans die hoogste taboewaarde. ’n Vloekwoord is ’n verwensing, wat beteken dat ’n spreker vir iemand anders teëspoed toewens. Feinauer (1981:8–9) kategoriseer vloekwoorde soos volg: godsdienswoorde (soos jissis), weerterminologie (wat na Germaanse godsdienswoorde herlei kan word, soos donder = Donar), obsene woorde (meestal liggaamsdele soos poes) en woorde wat uit ander tale ontleen word (soos fuck). Die feit dat die woord poes as plat of smerig beskou word (Feinauer 1981:16), is sigbaar in die feit dat woordeboeke soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal en Woordeboek van die Afrikaanse Taal die woord nog steeds as “obseen” en “vulgêr” etiketteer.

Die gebruik van taboewoorde soos vloekwoorde word die meeste met woede en frustrasie geassosieer (Jay 2018:82). Feinauer (1981:18, 32) noem dat sprekers hulle tot vloekwoorde wend om frustrasie uit te druk, omdat woorde met hoë taboewaarde ’n verlossende krag het. Op dié wyse vermy talle mense fisieke geweld (Feinauer 1981:32; Jay 2018:82). Wanneer woede teen ’n ander persoon gerig is, kies die spreker woorde met die meeste trefkrag (Feinauer 1981:18). As kwetsinstrument vorm die gebruik van vloekwoorde deel van ’n doelbewuste onbeleefdheidstrategie (Culpeper 2018). Met ander woorde, dit is die spreker se bedoeling om ’n bepaalde individu aan te spreek en hul positiewe beeld te skaad. Beskermingsbevele het juis ten doel om die aanwending van woorde as aanvalsmiddel teë te werk, omdat dit tot psigologiese aftakeling kan lei.

Sprekers gebruik taboewoorde soos vloekwoorde egter vir uiteenlopende doeleindes. Feinauer (1981:30) noem dat daar ten minste drie faktore is wat tot vloek aanleiding gee, naamlik wanneer die spreker iemand verbaal wil aanval, wanneer die spreker van sy gevoelens ontslae wil raak, en wanneer ’n spreker groepsidentiteit wil uitdruk en as lid van ’n groep wil meeleef. Taboewoorde kan ook gebruik word om ander te verneder of om humor te kommunikeer (Jay 2018:83). Ironies kan die gebruik van vloekwoorde intimiteit tussen spreker en aangesprokene bewerkstellig – sprekers voel so gemaklik in mekaar se geselskap dat hulle in mekaar se teenwoordigheid ongeskik kan wees (Love en Stenstrom 2023:169). Volgens Jay (2018:78, 81) is die gebruik van taboewoorde redelik algemeen in gesproke taal en neem dit selfs in sosiale kontekste soos gemeentes op sosiale media toe. Jay (2018:81) verduidelik dat sprekers die nuanses van standaard- en taboewoorde aanleer en daardie emosionele konneksies gebruik om hierdie woorde binne uiteenlopende kontekste te gebruik (byvoorbeeld ’n standaardwoord by die dokter en die taboe-ekwivalent tussen vriende).

Die funksionele gebruik van vloekwoorde hou met die verskillende woordsoorte verband; die woordklas help om die pragmatiese betekenis te vestig. Vergelyk die volgende voorbeelde:

3.1.1 Die poes is weer hier. (naamwoord)

3.1.2 Eina, poes! (uitroep)

3.1.3 Ek gaan jou poes as jy naderkom. (werkwoord)

3.1.4 Dit is ’n poesgrote huis. (byvoeglike naamwoord)

3.1.5 Hy hardloop poesvinnig. (bywoord)

In die laaste twee voorbeelde verbind die taboewoord met ’n bestaande byvoeglike naamwoord of bywoord om daardie woordsoort se betekenis te versterk of om ’n addisionele betekenis daartoe by te voeg. In verbindings soos kakbesig en poesdronk druk die taboewoord nie sy eie leksikale betekenis3 uit nie, maar dra eerder ’n nuwe betekeniswaarde van baie: baie besig, baie dronk (Trollip 2023:864–6; Löbner 2003:46). Die taboewoord kan telkens met ’n ander vervang word sonder om die semantiese betekenis te wysig: pisdronk, kakdronk, moerdronk. Die konnotatiewe betekenis wat sprekers aan elke taboewoord toeken, bepaal gedeeltelik die emotiewe waarde van die samestelling en daardeur ook die effek wat dit op die gehoor kan hê.

Hierdie gebruik is ’n vorm van produktiwiteit en nie noodwendig ’n vorm van doelgerigte onbeleefdheid nie. Volgens Culpeper (2018:37) funksioneer taboetaal as ’n intensiveerder waarmee die pragmatiese effek van ’n spreker se woorde versterk word. Dit is van toepassing op sowel vloekwoorde wat teen mense gerig word as dié wat gebruik word om ’n ekspressiewe waarde te kommunikeer (sien ook Trollip 2023).

3.2 ’n Bondige uiteensetting van die grammatika van die betrokke uiting

Soos reeds vermeld, handel die uitspraak grotendeels oor die gebruik en betekenis van die onderstaande uiting:

3.2.1 Los my ma se poes se ding. (par. 6)

Die uiting is sowel interessant as sintakties kompleks.4 Dit bestaan uit verskillende sinstukke wat tradisioneel tussen ’n onderwerp (die agent wat die aksie uitvoer), ’n werkwoord (die relevante aksie) en ’n direkte voorwerp (die objek waarop die aksie oorgaan) verdeel kan word. Omdat die uiting ’n bevel is (hy sê vir die klaers wat om te doen), reflekteer die uiting ’n inversiewoordorde. Met ander woorde, die onderwerp en die werkwoord ruil plekke (Ponelis 1979:496–7):

3.2.2 JyI soekII die sleutels terwyl ek aantrek. (stelsin)

3.2.3 SoekI jyII die sleutels terwyl ek aantrek! (bevelsin, inversiewoordorde)

In die geval van die beskuldigde se uiting word die onderwerp (jy) nie eksplisiet genoem nie, hoewel die bevel aan haar gerig is. Vergelyk die twee sinne wat volg:

3.2.4 Jy los my ma se poes se ding. (stelsin)

3.2.5 Los jy my ma se poes se ding! (bevelsin, inversiewoordorde)

Derhalwe, hoewel die onderwerp van die betrokke sin verswyg word, word dit wel op ’n pragmatiese vlak geïmpliseer.

’n Verdere aspek is die beskuldigde se gebruik van die skeibare werkwoord uitlos. Hy laat die partikel weg en gebruik slegs die werkwoordgedeelte; los in plaas van uitlos. Die skeibare werkwoord uitlos is oorganklik en vereis ’n voorwerp. Dit beteken die aksie of gebeure van die sin moet op ’n voorwerp oordra; oftewel, iémand moet iéts alleen laat. As sodanig tree die frase my ma se poes se ding as die voorwerp van die sin op; dit is die “ding” wat uitgelos moet word. Die sin word diagrammaties in figuur 1 voorgestel.

Figuur 1. ’n Frasale boomdiagram van die sin Jy los my ma se poes se ding uit

Die voorwerp tree deur middel van ’n naamwoordgroep5 op en lyk aanvanklik baie verwarrend. Die naamwoordgroep bestaan uit meerdere naamwoordgroepe en ten minste twee besitskonstruksies: [NS [my [NS [NS ma se poes] se] [ding]].6 Die besitskonstruksies veroorsaak verdere verwarring omdat hulle bymekaar ingebed is en omdat slegs een van die konstruksies werklik besitting aandui.

Meer spesifiek veroorsaak die gebruik van die se-besitsvorm onsekerheid. In Standaardafrikaans word besitting deur middel van besitlike voornaamwoorde soos my, jou en haar aangedui: my tas, jou tas, haar tas. Sprekers kan ook die se-vorm gebruik deur ’n naamwoordgroep met se en ’n kernwoord te kombineer: die president se konvooi, ’n man se gewoontes, my pa se verlede (Ponelis 1979:126).

Wanneer die frase ter bespreking uitmekaar gehaal word, is twee besitsvorme sigbaar:

3.2.6 my se ding

3.2.7 ma se poes

Die besitskonstruksie in 3.2.7 word by die besitskonstruksie in 3.2.6 ingebed (sien figuur 2). Hoewel beide frases vormlik ’n besitskonstruksie is, het hulle nie dieselfde funksie binne die naamwoordgroep of sin nie. Die frase my (se) ding dui wel besitting aan (die ding van my), maar die ingebedde konstruksie ma se poes moet eerder as ’n idiomatiese uitdrukking beskou word, wat as ’n ekspressiewe7 voorbepaling binne die uitgebreide naamwoordgroep optree. Met ander woorde, hierdie frase moet as ’n onskeibare eenheid hanteer word wat ’n emotiewe waarde uitdruk. In daardie opsig is regter Salie korrek deur na die verskynsel as deleksikaal te verwys, want die woorde druk gesamentlik ’n alternatiewe betekenis uit wat nie met die leksikale of grammatiese betekenis van die onderskeie dele (ma, se, poes) verband hou nie. As ekspressiewe voorbepaling druk die frase emosie uit in plaas daarvan om besitting aan te dui.

Figuur 2. Invoeging van skynbesitskonstruksie by werklike besitskonstruksie

Deleksikalisering is ’n langtermynproses waartydens ’n woord se betekenis óf semanties verander óf van ’n leksikale na ’n grammatiese betekenis en funksie oorbeweeg.8 Binne die konteks van Lewis beteken dit dat die woord poes nie na enige liggaamsdele verwys nie, en dit word ook nie as ’n byvoeglike naamwoord gebruik om die selfstandige naamwoord (ding) nader te bepaal nie (Feinauer 1981:62). Inteendeel, die woord poes word as versterker gebruik om frustrasie of woede mee te kommunikeer (Love en Stenstrom 2023:177). Binne die idiomatiese besitskonstruksie verander die woord dus van ’n inhoudswoord na ’n funksiewoord.

Dit is so dat deleksikalisering tot ’n pragmatiese versterking kan lei, wat beteken dat ’n taboewoord se aanvanklike leksikale betekenis stelselmatig afneem hoe meer die woord ander betekenisse en waardes bykry (Love en Stenstrom 2023:178). Wanneer dit gebeur, verlaag die taboestatus van daardie woord omdat die bykomende betekenisse en funksies meer algemeen en aanvaarbaar word (ook omdat die gebruiksfrekwensie toeneem) (ibid.). Dit is reeds sigbaar met betrekking tot die Engelse woorde shit en fuck. Dat die proses vir Afrikaanse vloekwoorde reeds onderweg is, is ook sigbaar in die gebruik van fok en woorduitbreidings soos deur Trollip (2023) gedokumenteer. In hoeverre daardie proses reeds die taboestatus van ’n woord soos poes verlaag het, is op hierdie stadium egter debatteerbaar. ’n Frase soos ma se poes het waarskynlik nog slaankrag juis omdat die taboewaarde redelik hoog is en omdat die gebruik daarvan baie mense ongemaklik laat.

Desnieteenstaande is die gebruik van intensiveerders soos dié opsioneel. Omdat die ingebedde besitskonstruksie as ’n voorbepaling beskou kan word, kan dit ook weggelaat word sonder om die voorwerp van die sin negatief te beïnvloed. Wanneer die opsionele inligting opgeruim word, laat dit ons met:

3.2.8 los my ding (uit)

Dit bring ons by die funksie van die voorwerp (my ding) in hierdie sin. Beide onderwerpe en voorwerpe word deur middel van naamwoordgroepe uitgedruk (Ponelis 1979:163–4). Naamwoordgroepe het verwysingswaarde, wat beteken dat hulle gebruik word om na iets in die buitetalige wêreld te verwys. Verwysing is konteksgebonde en behels baie spesifieke items in die spreker se wêreld (Payne en Huddleston 2016:399). ’n Voorwerp van ’n sin kan daarom lewende, nielewende en abstrakte sake voorstel. Wanneer die beskuldigde van my ding praat, verwys hy na iets baie spesifiek – ’n saak wat in sy (en die klaer se) werklikheid bestaan. Weens die feit dat verwysing konteksgebonde is, word die betekenis van my ding teen die konteks van die luide musiek geïnterpreteer. Die besitskonstruksie my ding verwys daarom binne konteks na die musiek of musiektoestel, of selfs na die volume van die musiektoestel.

3.3 ’n Opmerking oor die betrokke uiting as merker van ’n bepaalde sprekergroep

Regter Salie vereis dat die woord poes teen die taalkulturele agtergrond van die Afrikaanssprekende bruin werkersklas van Kaapstad verstaan moet word (par. 12). Die woord is volgens haar ’n kenmerkende verskynsel binne hierdie bepaalde gemeenskap. Daardeur gee sy erkenning aan die feit dat die uiting nie bloot op grond van standaardtaalreëls geïnterpreteer moet word nie. Voorts dui sy die hof se erns en bereidwilligheid aan om ’n genuanseerde taalondersoek by wetsuitleg toe te pas. Dié benadering kan daarom as ’n oorwinning vir taaldiversiteit binne die Suid-Afrikaanse regsisteem beskou word, juis omdat die Hooggeregshof ’n niestandaardvariëteit van Afrikaans ernstig opneem. Dat die partye in Lewis moontlik sprekers van Kaaps is,9 word nie betwyfel nie. Kaaps word geografies met die Kaapse skiereiland en die streke daarnaas geassosieer; dit word ook as ’n werkersklaskode van Afrikaans beskou (Hendricks 2016:4–5). Siende dat die partye in Lewis in die omgewing van Caledon woonagtig is, val hulle binne die taalgebied van Kaaps. Hierdie feite dra gevolglik tot die hoë waarskynlikheid by dat die beskuldigde Kaaps gebesig het.

Ek sou die hof wel aanraai om die gebruik van die woord poes in die toekoms taalkultureel met groter omsigtigheid te hanteer. Taalkundig vertoon die beskuldigde se uitdrukking ’n sterker verbintenis met Gariepafrikaans. Twee algemene verskynsels van dié variëteit is die gebruik van die woord goed naas hulle as kollektiefaanduider (pa-goed, Jan-goed) en die gebruik van die se-vorm saam met die besitlike voornaamwoord (hy se bokke, julle se troufees) (Hendricks, 2018:24). Soos vroeër aangetoon, kom die beskuldigde se frase op die besitskonstruksie my se ding neer. Die se-vorm word ook in Kaaps aangetref, maar soos Coetzee (2001:22) aandui, is die verskynsel aansienlik produktiewer in Gariepafrikaans as Kaaps. In Kaaps verkry besitlike voornaamwoorde soms ’n -e by: onse, myse (Coetzee 2001:22; Dreyer 1986:176, 251). Ander tipiese eienskappe van Kaaps, soos die gebruik van Engelse woorde, die uitspreek van die “j”-spraakklank as “dj” (djulle teenoor julle) of ontronding is nie in die betwiste frase teenwoordig nie (Dreyer 1986:160; Le Cordeur 2011:767). Dus, as ons nie geweet het waar die partye woon nie, en ons weet nie hoe die partye klink wanneer hulle praat nie, moet ons versigtig wees om die frase onmiddellik met een bepaalde groep mense te assosieer, soos Kaapssprekers van die Suid- en Wes-Kaap.

Hiermee suggereer ek egter nie dat die partye in Lewis weens hul gebruik van die se-besitskonstruksie sprekers van Gariepafrikaans moet wees nie. Wat ek wel sê is dat ’n hof taalvariëteit as merkers van kultuur met meer takt moet hanteer. Daar is bruin werkersklassprekers van Afrikaans wat Kaaps praat en die taal as deel van hul identiteit beskou, en daar is bruin werkersklassprekers van Afrikaans wat ’n ander variëteit praat en nie met Kaaps identifiseer nie. Dit is moeilik om ’n konstruksie soos my se tot een groep te beperk, net soos wat dit onmoontlik en onnodig is om ’n idiomatiese uitdrukking soos (jou) (ma) se poes aan een groep sprekers te koppel. Trouens, die uitdrukking is deel van die groter taallandskap van Afrikaans en word deur alle variëteitsgroepe gebruik. ’n Soektog na die woord poes op die VivA-korpus (2024) skep die indruk dat dit deel van die gesproke woordeskat van sowel bruin as wit sprekers uitmaak. Die woord en idiomatiese uitdrukking gee ook aanleiding tot woordspel. Enkele voorbeelde van uiteenlopende sprekers sluit in Tuks FM se leuse, “Jou ma”, die beurtkragtoep Eskom se push, en ’n studentekultuurbeweging, Jou ma se Potch. Die woordspel kan slaag slegs as die groter spraakgemeenskap van die oorspronklike idioom bewus is.

Weens taalkontak en wedersydse invloed is dit moeilik om bepaalde taalverskynsels uitsluitlik met ’n enkele groep te assosieer. Om taaldiversiteit, en veral die belang van niestandaardvorme, ’n hupstoot binne die regsisteem te gee, is dit raadsaam om ’n omvattender beeld van ’n taallandskap te vorm voordat woorde of frases summier aan spesifieke groepe toegeken word.

 

4. Gevolgtrekking

Die Lewis-saak is ’n goeie voorbeeld van waarom niestandaardtaal en taalvariëteite ernstig opgeneem moet word. Wanneer ’n hof taalfeite op ’n onverantwoordelike wyse hanteer, kan dit ’n negatiewe uitwerking op ’n party se geregtigheid hê. Om dié rede moet beide die verhoorhof se fout en regter Salie se regstelling nie geringgeskat word nie. Deur niestandaardtaal binne die regsisteem belangrik te ag, kan die verskil tussen skuldig en onskuldig beteken. Waar niestandaardtaal betrokke is, handel ’n hof dikwels met kwesbare groepe wat nie in staat is om tussen taalvorme vir hoër en laer funksies te wissel nie.10 Carney (2023:98–9) wys daarop dat hierdie tekortkoming ’n magswanbalans kan skep en plaas sprekers wat van niestandaardtaal afhanklik is in potensieel weerlose situasies.

Die verhoorhof het die beskuldigde skuldig bevind sonder om werklik oordeelkundig met die taalfeite om te gaan. Die interdik bepaal dat die respondent die applikant nie mag vloek nie. Die landdros het gemerk dat ’n vloekwoord in die uiting voorkom en het daarvolgens opgetree. Dit lei tot ’n foutiewe beslissing. Verkieslik moes die verhoorhof die taalfeite geduldig oorweeg en met die nodige toewyding ondersoek het.

’n Soortgelyke maar skreiender voorbeeld kom in Murray v Feast 2023 WASC 273 voor. In dié saak het die Hooggeregshof van Wes-Australië met verstommende noukeurigheid bevind dat ’n landdros ’n beskuldigde benadeel het. Die beskuldigde het onvoldoende kennis van Standaardengels en het tydens kruisverhoor tussen Walmajarri en ’n Kreool gewissel. Die landdros het egter beslis dat alle woorde wat na Engels klink en lyk as sodanig geïnterpreteer moet word; hy gee die aangewese tolk opdrag om oënskynlike Engelse woorde en frases nie te tolk nie (par. 25). Dit beteken dat die landdros nie daarvoor voorsiening maak dat woorde vormlik dieselfde kan lyk, maar uiteenlopende betekenisse kan hê nie. Dit is baie kortsigtig, want onderliggende betekenisverskille kan die feite van ’n saak bepaal en aantas. Só ’n besluit tel baie duidelik teen die beskuldigde en lei tot ’n onregverdige verhoor (parr. 36, 169–70). Na aanleiding van ’n breedvoerige taalkundige verslag het die Wes-Australiese Hooggeregshof wel tot die gevolgtrekking gekom dat woorde verskillende betekenisse en funksies kan aanneem en dat dit tussen standaard- en niestandaardvariëteite kan verskil, ongeag vormlike verwantheid (par. 52).

Regter Salie het reg dat die beskuldigde nie die woord poes as ’n belediging gebruik het nie. Die beskuldigde gee ’n duidelike instruksie aan die klaer om die musiek alleen te laat. Die frase my ma se poes se ding tree as ’n sintaktiese eenheid op en verwys slegs na die musiek, musiektoestel of volume van die musiek. Die woord poes is deel van ’n skynbesitskonstruksie wat as intensiveerder optree. Die beskuldigde wend die intensiveerder aan om uiting aan sy frustrasie, woede en irritasie te gee. Soos Trollip (2023:863 e.v.) aandui, verkry taboewoorde soos poes ’n grammatiese rol wanneer hulle as intensiveerders gebruik word. So, hoewel die woord poes nie ’n byvoeglike naamwoord binne hierdie bepaalde konteks is nie, is regter Salie wel op die regte spoor.

Nóg ’n rede waarom die woord poes binne konteks nie as ’n belediging beskou kan word nie, is weens die beskuldigde se gebruik van die besitlike voornaamwoord my. Feinauer (1981:31) dui aan dat wanneer vloekwoorde as ’n wapen teen iemand anders gebruik word, dit gewoonlik met die tweede- en derdepersoonsvoornaamwoorde gebruik word: jou gat, sy moer. Vloekwoorde word nooit op dieselfde wyse saam met eerstepersoonsvoornaamwoorde soos my gebruik nie: my gat, my moer. Dit is vanselfsprekend, want die aanval is op iemand anders gerig. Die implikasie met betrekking tot die beskuldigde se uiting is redelik duidelik; die frase los my ma se poes se ding verwys na iets van die spreker en nie na die klaer nie. Sonder die gebruik van die tweedepersoonsvoornaamwoord jy is dit moeilik om die vloekwoord direk met die klaer te verbind. Dit is so dat die onderwerp van die beskuldigde se uiting (jy) gesuggereer word (los jy my ding uit), maar hier is die werkwoord van belang. Vergelyk uitlos met is. Eersgenoemde fokus die aandag op die voorwerp en laasgenoemde fokus die aandag op die onderwerp. As ek sê “jy is ’n poes”, beskryf ek die jy in die sin.

Laastens het regter Salie gelyk dat die gekose woordsoort relevant raak wanneer die impak van ’n vloekwoord by ’n interdikoortreding oorweeg word (par. 14). As die beskuldigde poes as ’n naamwoord of ’n werkwoord teenoor die klaer gebruik het (jou poes, ek gaan jou poes, jy is ’n poes), was die woord nie bloot as intensiveerder gebruik nie, maar het die woord se semantiese en pragmatiese betekenis ongetwyfeld gegeld. Sou die woord egter as byvoeglike naamwoord aangewend word, sou die betekenis weer eens nie leksikaal van aard wees nie maar eerder as intensiveerder optree. Regter Salie gebruik hier die voorbeeld van die klaer wat na die “donnerse musiek” verwys het (par. 14). Die klaer gebruik nie die vloekwoord donnerse om na die beskuldigde te verwys nie. So ook verwys poes in hierdie konteks nie na die klaer nie.

 

Bibliografie

Allan, K. (red.). 2018. The Oxford handbook of taboo words and language. Oxford: Oxford University Press.

Burridge, K. 2014. Taboo words. In Taylor (red.) 2014.

Carney, T.R. 2022. Vonnisbespreking: Sintaktiese uitleg van die BTW-wet bepaal wanneer goud teen die nulkoers verkoop mag word. ’n Besinning van ’n positiewe taalkundige benadering. Lueven Metals (Pty) Ltd v Commissioner for the South African Revenue Service [2022] ZAGPPHC 325 (HH). LitNet Akademies, 19(3):834–46.

—. 2023. Linguistics for legal interpretation. Johannesburg: UJ Uitgewers.

Carstens, A. en H. Grebe (reds.). 2001. Taallandskap. Huldigingsbundel vir Christo van Rensburg. Pretoria: Van Schaik.

Coetzee, A. 2001. Van morfologie tot sintaksis: Taalvorme van die Bolandse wingerdwerkers. In Carstens en Grebe (reds.) 2001.

Culpeper, J. 2018. Taboo language and impoliteness. In Allan (red.) 2018.

Dreyer, H.C. 1986. Die beskrywing van Kaapse Afrikaans as ’n variëteit van Afrikaans. MA-verhandeling, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Feinauer, A.E. 1981. Die taalkundige gedrag van vloekwoorde in Afrikaans. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Hendricks, F. 2016. Die aard en konteks van Kaaps. ’n Hedendaagse, verledetydse en toekomsperspektief. In Hendricks en Dyers (reds.) 2016.

—. 2018. Oranjerivierafrikaans: Van gemarginaliseerde en aanspraakmaker tot deelgenoot. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 25(1):3–36.

Hendricks, F. en C. Dyers (reds.). 2016. Kaaps in fokus. Stellenbosch: Sun Media.

Huddleston, R. en G.K. Pullum (reds.). 2016. The Cambridge grammar of the English language. Cambridge: Cambridge University Press.

Jay, T.B. 2018. The psychology of expressing and interpreting linguistic taboos. In Allan (red.) 2018.

Kuteva, T., B. Heine, B. Hong, H. Long, H. Narrog en S. Rhee. 2019. World lexicon of grammaticalization. Cambridge: Cambridge University Press.

Le Cordeur, M. 2011. Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit: ’n sosiokulturele perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4):758–77.

Löbner, S. 2003. Semantik. Eine Einführung. Berlyn: De Gruyter.

Love, R. en A. Stenstrom. 2023. Corpus-pragmatic perspectives on the contemporary weakening of fuck: The case of teenage British English conversation. Journal of Pragmatics, 216:167–81.

Murphy, M.L. 2012. Lexical meaning. Cambridge: Cambridge University Press.

Nieuwoudt, H.P. 1990. Variasie binne Oranjerivier-Afrikaans. D.Litt.-proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Payne, J. en R. Huddleston. 2016. Nouns and noun phrases. In Huddleston en Pullum (reds.) 2016.

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Taylor, J.R. (red.). 2014. The Oxford handbook of the word. Oxford: Oxford University Press.

Trollip, B. 2023. ’n Gebruiksgebaseerde beskrywing van Afrikaanse prefiksoïede. LitNet Akademies, 20(3):851–92.

Van Huyssteen, G.H. 2022. Wat ons van fok weet (en nie weet nie). LitNet Akademies, 19(3):428–52.

Van Rensburg, C. (red.). 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: Van Schaik.

VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans). 2024. Korpusportaal. http://viva-afrikaans.org (18 Maart 2024 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 My dank aan die keurders en aan Elvis Saal wat as kritiese leser opgetree het.

2 In S v Nieuwoudt 267/87 1990 ZASCA 74 (HHA) vorm die woord fok deel van ’n meeluisterteks waaroor ’n deskundige getuienis moes lewer met betrekking tot die tegniese aspekte van die klankteks (par. 159). In S v Murphy CC27/2018 2023 ZAWCHC 186 (HH) het die woord poes deel van die getuie se oorlewering uitgemaak, maar dit het aan die hof geblyk dat die getuie deur haar regspan opgelei is (par. 124). In beide gevalle het dit nie om die vloekwoord gehandel nie, maar eerder tegniese aspekte.

3 Met “leksikale betekenis” word bedoel die konteksvrye betekenis van woorde (naamwoorde, werkwoorde, byvoeglike naamwoorde en bywoorde), maar spesifiek woorde waarvan die betekenis uitgebrei of verander kan word, bv. voertuig. Leksikale betekenis word met grammatiese betekenis gekontrasteer; laasgenoemde kan nie maklik uitgebrei of verander word nie en druk meestal grammatiese funksie uit, bv. hy.

4 Met “kompleks” word bedoel dat die betrokke sinstuk uit meer as een konstituent bestaan. Dit verwys nie hier na moeilikheidsgraad nie.

5 Die term naamwoordgroep word hier in dieselfde sin as naamwoordstuk gebruik. Dit is ’n sintaktiese frase wat ’n naamwoord (selfstandige naamwoord, eienaam of voornaamwoord) as kern neem. ’n Naamwoordgroep kan uit slegs ’n kernwoord bestaan, maar dit is redelik algemeen vir ’n kernwoord om deur ’n bepaling voorafgegaan te word. ’n Bepaling is een of meer woorde wat die kernwoord beskryf of aanvul, bv. mans, die mans en die aantreklike mans.

6 Hierdie bepaalde uiting is struktureel nie uniek nie; soortgelyke konstruksies kom as bevele voor, soos “jy moet jou ma se moer se bek hou” (VivA-korpus 2024). Hier tree ma se moer op dieselfde wyse as ma se poes op.

7 Die term wat soms hier gebruik word, is affek. Met affek word daar verwys na ’n spreker se emosie en hoe dit in die taal deurslag vind. Dus sou ek hier van ’n affektiewe voorbepaler kon praat. Ek is egter daarvoor versigtig, omdat affek met sosiale betekenis en spesifiek konnotasie verbind kan word (vgl. Murphy 2012:33). Die gevoelswaarde wat in die taal deurkom, is in baie opsigte assosiatief. Daarom verkies ek die term ekspressief, want dit verwys na ’n spreker se gevoelens oor die algemeen (hartseer, woede, opgewondenheid); die spreker se gevoelens is nie tot konnotasie beperk nie. Sien Löbner (2003:43–7).

8 Deleksikalisering vorm deel van grammatikalisering. Laasgenoemde is ’n proses waartydens leksikale en grammatiese woorde ’n sterker grammatiese funksie en vorm ontwikkel. Tydens grammatikalisering veroorsaak ’n aantal meganismes ’n verlies in ’n woord se funksie en vorm, maar die betrokke woord verkry daardeur nuwe eienskappe soos wat dit in nuwe kontekste gebruik word. Byvoorbeeld, in Afrikaans word die telwoord een gebruik om na iets in die enkelvoud te verwys. Bykomend het een egter oor die eeue ’n sterk grammatiese funksie ontwikkel en word nou in tale soos Spaans, Duits en Afrikaans as lidwoord gebruik om na onbepaalde sake te verwys (Kuteva 2019:10). In Afrikaans kap ons die woord korter na die onbepaalde lidwoord ’n. Soortgelyke prosesse is by die leksikale woord poes en die ma se poes-besitskonstruksie teenwoordig. By eersgenoemde is daar ’n toenemende verlies in semantiese betekenis en by laasgenoemde val die genitiefkonstruksie weg. Sien Kuteva e.a. (2019:3–7) vir meer.

9 Kaaps is een van die vorme van Afrikaans. Die variëteite van Afrikaans word tradisioneel tussen drie geografiese streke verdeel, naamlik Kaapse Afrikaans, Oosgrensafrikaans en Oranjerivierafrikaans (Van Rensburg 1997). Die drie oorhoofse kategorieë hou met die historiese ontwikkeling van Afrikaans verband en toon eienskappe wat uniek tot elke streek se ontwikkeling is. Kaaps word sterk deur Indonesies, Arabies-Afrikaans en Engels beïnvloed (Le Cordeur 2011:763–7; Van Rensburg 1997:15–7) en val met die ontwikkelingsgeskiedenis op die Kaapse skiereiland saam. Oosgrensafrikaans toon ’n sterker Nederlandse invloed en is deur die Voortrekkers na die binneland geneem. Dié variëteit word mettertyd na Standaardafrikaans getransformeer. Oranjerivierafrikaans (oftewel Gariepafrikaans) het ’n sterker Khoi-Khoin-invloed en word deur sowel bruin as wit sprekers gebesig. Die term Gariepafrikaans verteenwoordig die Afrikaans van sprekers van verskeie streke in die groter Noord-Kaap en gedeeltes van Namibië, bv. Griekwas, Namakwalanders, Boesmanlanders, Riemvasmakers, Richtersvelders en Rehoboth-Basters (Hendricks 2018; Nieuwoudt 1990).

10 Hierdie verskynsel staan in die taalkunde as diglossie bekend; ’n spreker wissel tussen taalvariëteite wat vir hoër- en laerdomeinfunksies bedoel is, soos wanneer iemand tussen omgangstaal by ’n braai en regstaal in ’n hof beweeg.

 

 

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top