Vonnisbespreking: Kan repudiëring ooit aanvaarbaar wees?

  • 0

Comwezi Security Services v Cape Empowerment Trust (82/13) [2014] ZASCA 22 (28 March 2014)

Abstract

Can repudiation ever be acceptable?

The supreme court of appeal in the recent decision of Comwezi used the “offer and acceptance” construction of repudiation in terms of which there is no breach of contract prior to the “acceptance” of repudiation on the part of the aggrieved party. In following this approach the court disregarded its earlier decision in Datacolor International (Pty) Ltd Intamarket (Pty) Ltd 2001 2 SA 284 (SCA), where it clearly held that this construction is incorrect and that an incorrect perception of the nature of repudiation could result in incorrect conclusions being drawn. By reverting to this construction of repudiation the court has ignored its own previous decision on this matter and thus is also not following the principle of stare decisis. The constitutional court has held that the principle of stare decisisis part of the rule of law, which in turn is a founding value of our Constitution, and therefore it is necessary to comply with this principle. It is not clear why the supreme court of appeal chose to ignore a previous decision, but it does not bode well for legal certainty.

Keywords: acceptance of breach; anticipatory breach; breach of contract; cancellation; contract; malperformance; precedent; repudiation; stare decisis.

Trefwoorde: aanvaarding van kontrakbreuk; kontrakbreuk; kontrakbreuk in anticipando; kansellasie; kontrak; presedent; repudiëring; stare decisis; wanprestasie.


1. Inleiding

Tot met die hoogste hof van appèl se beslissing in Datacolor International (Pty) Ltd Intamarket (Pty) Ltd 2001 2 SA 284 (HHA) het daar onsekerheid geheers omtrent die vraag of repudiëring as sodanig kontrakbreuk daarstel, en of die repudiëring neerkom op kontrakbreuk eers wanneer dit aanvaar word. Die vraag is belangrik ten opsigte van ’n aantal kwessies, onder andere verjaring en wanneer die benadeelde party geregtig raak om sy remedies uit te oefen. Hoewel die vraag uitgeklaar is in die Datacolor-saak, is dit interessant (en miskien selfs onrusbarend) dat die hoogste hof van appèl onlangs weer verwys het na die aanvaarding van repudiëring in Comwezi.

Hoewel die hof in een van die voetnote wel na die Datacolor-saak verwys, word daar telkemale in Comwezi verwys na die aanvaarding of nie van repudiëring. Dit is nie die eerste keer dat die appèlhof sy eie vorige uitsprake in dié verband ignoreer nie; dit het ook in Culverwell v Brown 1990 1 SA 7 (A) gebeur ten aansien van sy eie vorige uitspraak in Tuckers Land and Development Corporation (Pty) Ltd v Hovis 1980 1 SA 645 (A). Die feit dat die hof klaarblyklik sy eie vorige beslissings oor die hoof sien, is beslis nie bevorderlik vir ’n gevoel van regsekerheid nie, veral nie aangesien ons reg nog steeds die beginsel van stare decisis volg nie.

2. Feite, regsvraag en beslissing

2.1 Feite

Die feite in die saak is kortliks soos volg: Comwezi, die eerste appellant, het R4 miljoen by die respondent, Cape Empowerment Trust, geleen. Sekerheid is bewerkstellig vir die terugbetaling van die lening deur middel van sessie en die sekerheidstelling van aandele wat gehou is deur Grapsy Trust (verteenwoordig deur die trustee, mnr. Mowzer, wat ook die tweede appellant in die saak is). Comwezi het versuim om die lening terug te betaal. Gevolglik het die partye ’n skikkingsooreenkoms beding ingevolge waarvan Cape Empowerment Trust 25 gewone aandele in die uitgereikte aandelekapitaal sou kry.

Ingevolge die skikkingsooreenkoms was Cape Empowerment Trust geregtig daarop om ’n noulettendheidsondersoek (“due diligence test”) te doen ten opsigte van Comwezi se sake. Comwezi en die trust het onderneem om met Cape Empowerment Trust saam te werk, asook om die nodige dokumentasie beskikbaar te stel. Ingevolge ’n opskortende voorwaarde in die ooreenkoms het Cape Empowerment Trust drie maande gehad om die ondersoek te doen en om Comwezi te laat weet dat hy tevrede is. Indien Cape Empowerment Trust niks sou doen nie, sou die skikkingsooreenkoms verval en die oorspronklike leningsooreenkoms herleef.

Cape Empowerment Trust het van tyd tot tyd die driemaandetydperk laat verleng (volgens die ooreenkoms was Cape Empowerment Trust geregtig daarop om dit te doen), omdat Comwezi nie saamgewerk het nie, nie dokumente wou verskaf nie en ook toegang tot die perseel geweier het. Die laaste sperdatum was 4 November 2011. Uiteindelik het Cape Empowerment Trust ’n hofbevel aangevra om Comwezi te beveel om die nodige dokumentasie te verskaf. Die hof het beveel dat Comwezi binne 10 dae vanaf die datum van die hofbevel met Cape Empowerment Trust moet saamwerk. Comwezi het appèl aangeteken en die appèl is in September 2012 van die hand gewys.

Cape Empowerment Trust het toe probeer om die hooggeregshof se bevel af te dwing, maar Comwezi se verweer was dat die skikkingsooreenkoms intussen verval het en dat die oorspronklike leningsooreenkoms herleef het. Gevolglik het Cape Empowerment Trust weer hof toe gegaan. Die hof het beveel dat Comwezi die hofbevel van Oktober 2011 moet nakom, en Comwezi het appèl aangeteken. Die beslissing in die appèlsaak is die onderwerp van die huidige bespreking.

2.2 Regsvraag en beslissing

Die vraag waaroor die hof moes beslis, was of ’n party ’n kontrak kan repudieer en dan terselfdertyd op ’n bepaling in dieselfde kontrak kan staatmaak. Comwezi se saak het in effek daarop berus dat sy eie onaanvaarde (die term word deur die hof gebruik) repudiëring van die kontrak hom nie daarvan weerhou om op dieselfde kontrak staat te maak nie. Wat Comwezi wou doen, is om sy saak te baseer op ’n kontrak wat hy gerepudieer het. Die hof het bevind dat dit onbillik is; Comwezi se appèl van die hand gewys en hy is beveel om binne 10 dae die oorspronklike hofbevel na te kom.

3. Repudiëring

3.1 Kontrakbreuk in anticipando

Repudiëring is een van die vorme van kontrakbreuk wat in die Suid-Afrikaanse reg erken word (Hutchison en Pretorius 2012:277; Van der Merwe e.a. 2012:308). Anders as byvoorbeeld mora debitoris en mora creditoris het repudiëring nie in die Romeinse of Romeins-Hollandse reg bestaan nie (Hutchison en Pretorius 2012:298; Van der Merwe e.a. 2012:290). Hierdie vorm van kontrakbreuk het deur middel van Engelsregtelike invloed in ons reg beland (Hutchison en Pretorius 2012:298; Van der Merwe e.a. 2012:308). Repudiëring as ‘n vorm van kontrakbreuk in anticipando is vir die eerste keer in die Engelse reg erken in Albert Hochster v Edgar Frederick De La Tour (1853) 2 E & B 678. Voor dié beslissing was die onskuldige party gebonde aan die kontrak en moes hy wag tot die datum van prestasie voordat daar ‘n remedie beskikbaar geword het (Hutchison en Pretorius 2012:298).

In Albert Hochster het die verweerder en die eiser ‘n kontrak aangegaan ingevolge waarvan die eiser as koerier op 1 Junie vir die verweerder sou begin werk. Voordat die eiser se dienstermyn begin het, het die verweerder hom in kennis gestel dat sy dienste nie langer benodig word nie. Die eiser het die verweerder vir kontrakbreuk gedagvaar, en laasgenoemde se verweer was dat daar geen sprake van kontrakbreuk tot 1 Junie kon wees nie. Die hof verwerp die argument en gee die eiser gelyk (Albert Hochster v Edgar Frederick De La Tour (1853) 2 E & B 678):

But it cannot be laid down as a universal rule that, where by agreement an act is to be done on a future day, no action can be brought for a breach of the agreement till the day for doing the act has arrived.

Repudiëring kom voor wanneer dit duidelik word uit die optrede of woorde van ’n kontraksparty dat hy weier om die verpligtinge wat uit die ooreenkoms voortspruit, na te kom (Hutchison en Pretorius 2012:297; Van der Merwe e.a. 2012:308). Die toets vir repudiëring is objektief, naamlik of die party sodanig opgetree het dat ’n redelike persoon in die posisie van die benadeelde party sou aflei dat die ander party nie van plan is om sy kontraktuele verpligtinge na te kom nie (Datacolor par. 16; Tuckers 653E-F; Hutchison en Pretorius 2012:297; Van der Merwe e.a. 2012:311). Repudiëring kan deur sowel die debiteur as die krediteur gepleeg word (Van der Merwe e.a. 308–13, 323–4).

Hierdie vorm van kontrakbreuk word beskou as ’n vorm van kontrakbreuk in anticipando, omdat dit voor die datum van prestasie kan plaasvind (Hutchison en Pretorius 2012:297–8; Van der Merwe e.a. 2012:307). (Nog ’n vorm van kontrakbreuk in anticipando is onmoontlikmaking van prestasie – sien Van der Merwe e.a. 2012:307.) Volgens Van der Merwe e.a. (ibid) is die uitstaande kenmerk van dié tipe kontrakbreuk die feit dat dit wanprestasie of volgehoue wanprestasie antisipeer, maar nie self as sodanig wanprestasie daarstel nie. Die kontrakbreuk ontstaan nietemin onmiddellik, aangesien die repudiëring in stryd is met ’n ex lege-plig om nie kontrakbreuk in anticipando te pleeg nie (sien die bespreking oor die ex lege-verpligting hier onder).

3.2 Konstruksie van repudiëring as kontrakbreuk

Tot met die beslissing van die hoogste hof van appèl in Datacolor het daar onsekerheid geheers oor die aard van repudiëring as kontrakbreuk. Die vraag was of repudiëring aanvaar moet word alvorens daar kontrakbreuk is, en of repudiëring as sodanig kontrakbreuk daarstel. Die onderskeid is belangrik ten opsigte van die datum van kontrakbreuk en die gevolglike verjaring van remedies.

Vir jare het eersgenoemde standpunt ondersteuning gehad. In Tuckers (615A) verwys die hof onder ander na De Wet, wat die standpunt huldig dat “daar nouliks aanknopingspunte te vind is by ons ou skrywers vir die behandeling van repudiëring as selfstandige vorm van kontrakbreuk”. Die standpunt word gehandhaaf dat “repudiation is a thing writ in water” na aanleiding van regter Asquith se woorde in Howard v Pickford Tool Co Ltd [1951] 1 KB 417 (CA) 421. Ingevolge hierdie standpunt bring die repudiëring as sodanig nie die kontrak tot ’n einde nie en gee dit ook nie aanleiding tot ’n eis vir skadevergoeding nie. Die “onskuldige party” moet eers die repudiëring aanvaar, en het ’n redelike tyd waarbinne hy moet besluit of hy die repudiëring aanvaar al dan nie. Sou hy dit aanvaar, word die kontrak gekanselleer. (Sien in dié verband die bespreking in Van der Merwe e.a. 312–3 en die bespreking wat hier volg.) Ook in Culverwell v Brown 1990 1 SA 27 (A) 28 beskryf die hof repudiëring as “a thing writ in water”. Volgens hierdie konstruksie bly die repudiërende party se verpligting om te presteer, asook die ander party se reg op prestasie, voortbestaan totdat en indien die repudiëring aanvaar word.

Aan die ander kant heers daar ’n opvatting ingevolge waarvan repudiëring as sodanig kontrakbreuk daarstel en die benadeelde party sonder meer geregtig raak op die remedies van kansellasie en skadevergoeding. In 1980 beslis die destydse appèlhof in Tuckers dat repudiëring summier kontrakbreuk daarstel. By monde van appèlregter Jansen verduidelik die hof die idee van kontrakbreuk in anticipando met verwysing na die bona fides. Alle kontrakte in ons reg is gebaseer op die bona fides en gevolglik is daar ’n ex lege-plig op ’n kontrakparty om nie kontrakbreuk in anticipando te pleeg nie. Volgens Jansen 652D e.v. bestaan daar, deels as gevolg van die invloed van die Engelse reg, die standpunt dat daar ’n plig op ’n kontrakparty is om nie kontrakbreuk in anticipando te pleeg nie. Sodanige plig word al ’n geruime tyd deur ons howe afgedwing. Dit is ook nie in stryd met ons regsgeskiedenis nie en kan versoen word met die idee van die Romeinsregtelike bona fides. Indien iemand ’n kontrak repudieer, tree hy in stryd met sy ex lege-plig op om nie kontrakbreuk in anticipando te pleeg nie. Gevolglik is daar dan reeds ten tye van die repudiëring kontrakbreuk.

Regter Jansen gaan dan verder (652F e.v.) en sê dat omdat die kontrakbreuk reeds daargestel is wanneer die ex lege-verpligting verbreek word, dit wenslik sou wees om die terminologie van aanbod en aanname van repudiëring te verwerp “in order to obtain clarity of thought”. Die skuldeiser se keuse om op te tree as gevolg van die repudiëring is dan nie ’n “aanvaarding” van repudiëring nie, maar eerder ’n keuse om sy remedies uit te oefen.

In Datacolor (par. 1) beslis die hof dat repudiëring as sodanig kontrakbreuk daarstel. Appèlregter Nienaber maak dit duidelik dat die bedoeling om te repudieer nie opsetlik of subjektief hoef te wees nie; die woord “bedoeling” is bloot beskrywend van gedrag aan die kant van die repudieerder wat aandui dat hy wanprestasie gaan pleeg. Die toets vir repudiëring is dus objektief. Die sogenaamde “aanvaarding” is dan die uitoefening van die onskuldige party se keuse om die kontrak te kanselleer, en is nie nodig om die kontrakbreuk te voltooi nie (Datacolor par. 16). Die hof noem voorts dat ’n verkeerde persepsie van die ware aard van repudiëring kan lei tot verkeerde gevolgtrekkings, iets wat in sowel Datacolor (parr. 1, 36) as Comwezi (sien die bespreking hier onder) gebeur het.

4. Aanvaarding onaanvaarbaar – argumente teen die “aanbod-aanname”-model

4.1 Konstruksie-argument

Dit is uiters vreemd dat die appèlhof in Culverwell nie eers verwys het na Tuckers nie, aangesien laasgenoemde saak reeds 10 jaar vroeër beslis is. Terwyl die hof in die Tucker-saak beslis het dat die aanbod-aanname-konstruksie van repudiëring verwerp moet word, aanvaar die hof in Culverwell dat repudiëring ’n onvolkome vorm van kontrakbreuk is wat eers na “aanvaarding” volledig word.

Die onsekerheid in dié verband is uit die weg geruim met die beslissing in Datacolor, maar dit lyk of die beslissing sélf “a thing writ in water” geword het, want die hof het oënskynlik weer in die Comwezi-saak van plan verander en sy  vorige beslissing in Datacolor geïgnoreer.

In Comwezi word daar telkemale verwys na die sogenaamde aanvaarding van repudiëring. Hier is voorbeelde (eie beklemtoning):

  1. Against it there is the argument that an unaccepted repudiation is a “thing writ in water” not affecting legal rights in any way … and that therefore all contractual rights remain available to the repudiating party. (Par. 1)
  2. It is not in issue that Cape Empowerment Trust, by insisting that Comwezi complies with its contractual obligation to render assistance in the investigation, elected not to accept the repudiation. The effect of that election was that the agreement remained in place and each party remained subject to all its obligations and liabilities. (Par. 8)
  3. What is immediately apparent from Comwezi’s submission (that its own unaccepted repudiation did not take away its entitlement to take advantage of the claimed failure of Cape Empowerment Trust to comply with the terms of the agreement) is its inequity. (Par. 10)

Uit hierdie aanhalings blyk dit duidelik dat die hof onomwonde aanvaar dat die benadeelde party die repudiëring moet aanvaar voordat daar sprake van kontrakbreuk kan wees. Tot met die “aanvaarding” bestaan die kontrak asook die partye se regte en verpligtinge. In geen stadium word daar verwys na die uitoefening van die onskuldige party se keuse om te kanselleer al dan nie. Daar is een verwysing na die Datacolor-beslissing in ’n voetnoot, en dan ook net met betrekking tot die toets vir repudiëring (sien vn. 6). Die hof verwys glad nie na die bespreking in Datacolor rakende die kwessie van die konstruksie van repudiëring nie. Daar is ook geen verwysing in die Comwezi-saak na regter Nienaber se opmerking dat die aanbod-aanname-konstruksie van repudiëring verkeerd is nie.

Die hof het in Datacolor duidelik aangetoon hoe die aanbod-aanname-konstruksie tot verkeerde gevolgtrekkings kan lei. Die feite in Datacolor was heel kortliks soos volg: D het ’n verspreidingskontrak met I aangegaan. D is deur ’n ander maatskappy oorgeneem wat ook I se mededinging oorgeneem het. D het aan I ’n brief gestuur waarin die verspreidingskontrak sonder enige verwysing na die kennistermyn in die kontrak beëindig word. I het toe ’n nuwe verspreidingskontrak met S aangegaan. S het D hiervan in kennis gestel. Hierna het D vir I aangespreek vir repudiëring op grond daarvan dat I nie D se repudiëring betyds aanvaar het nie, en dus nou self repudiëring pleeg. Deur met die aanbod-aanname-konstruksie te werk, het die hof a quo in dié geval fouteer en I aanspreeklik gehou vir repudiëring omdat hy voor aanvaarding van D se repudiëring nog geen reg op kansellasie gehad het nie. Die hoogste hof van appèl het die argument verwerp op grond van die feit dat I se kontrak met S bloot I se keuse was om te kanselleer. Die hof noem voorts dat D nie kan ageer op grond van ’n ooreenkoms wat hy self reeds gerepudieer het nie.

In Comwezi het ’n soortgelyke situasie sigself voorgedoen, naamlik ’n party wat ’n kontrak repudieer en daarna as verweer op die ooreenkoms wat gerepudieer is, aanspraak maak. Die hof beweer in dié geval dat Cape Empowerment Trust nog nie die repudiëring aanvaar het nie, maar daar word aan die hand gedoen dat Cape Empowerment Trust in dié geval nog nie sy reg op kansellasie uitgeoefen het nie en eerder die kontrak wou probeer afdwing. Spesifieke nakoming is immers ook ’n remedie vir kontrakbreuk. Die hof verwys na Cape Empowerment Trust wat nie die repudiëring aanvaar het nie. Wat eintlik gebeur het, was dat Cape Empowerment Trust besluit het om nie sy reg op kansellasie uit te oefen nie, maar eerder spesifieke nakoming te eis.

Die hoogste hof van appèl doen dus in die Comwezi-saak weer wat hy in Culverwell gedoen het, naamlik om bloot ’n vorige beslissing in dié verband te ignoreer. Wat presies die rede hiervoor is, is nie ter sake nie. Wat wel belangrik is, is dat die hof per geleentheid moet standpunt inneem oor die aangeleentheid. Die datum van kontrakbreuk is van belang ten opsigte van die verjaring van remedies, asook die reg van die benadeelde party om te kanselleer. Indien party A byvoorbeeld op 2 Januarie 2014 repudiëring pleeg, ontstaan die vraag of die skuldoorsaak vir ’n kontraktuele eis reeds op dié datum ontstaan, of eers op die datum waarop die benadeelde party die repudiëring aanvaar. Die probleem van verjaring het hom voorgedoen in die provinsiale beslissing HMBMP Properties (Pty) Ltd v King  1981 1 SA 906 (N). In die geval het die hof beslis dat verjaring begin loop eers wanneer die repudiëring aanvaar word (210). Die hof het dus nie die appèlhof in Tuckers se konstruksie van repudiëring gevolg nie, hoewel die Tuckers-saak eerder beslis is.

Gestel verder dat die benadeelde party wil kanselleer – moet hy eers sy “aanvaarding” bekend maak? Indien die repudiëring eers aanvaar moet word alvorens daar kontrakbreuk is, sal dit beteken dat indien die benadeelde party kanselleer voor hy “aanvaar”, hy dalk self aanspreeklik kan wees vir kontrakbreuk, omdat daar dan op daardie tydstip nog geen kontrakbreuk is nie en dus ook geen reg op kansellasie nie. Die hoogste hof van appèl het in Datacolor beslis dat dit nie die geval is nie en dat dit onbillik sou wees teenoor die sogenaamde “onskuldige” party.

4.2 Stare decisis-argument

’n Tweede probleem wat hier voorkom, is dat die leerstuk van stare decisis klaarblyklik geïgnoreer word. In Media 24 Ltd v SA Taxi Securitisation (Pty) Ltd 2011 5 SA 329 (HHA)) en Camps Bay Ratepayers' and Residents' Association v Harrison 2011 2 BCLR 121 (KH) het beide die hoogste hof van appèl en die konstitusionele hof beslis dat die stare decisis-leerstuk deel van ons reg is. In Media24 noem die hof dat die leerstuk belangrik is vir regsekerheid, konsekwentheid en gelykheid.

Die hof sê verder dat blote lippediens aan die leerstuk nie genoeg is nie en dat afwykings van vorige beslissings nie ligtelik moet gebeur nie. In Camps Bay Ratepayers' Association (par. 28) bespreek die hof ook die leerstuk, en betoog dat die stare decisis nie alleen ’n laer hof aan die uitsprake van ’n hoër hof bind nie, maar ook howe van finale jurisdiksie aan hulle eie uitsprake bind. ’n Hof kan van die reël afwyk net as ’n vorige beslissing klaarblyklik verkeerd is en moet dan redes vir die afwyking verskaf. Die leerstuk kom nie net neer op respek vir howe met hoër gesag nie, maar is ’n verskynsel van die heerskappy van die reg (“rule of law” – artikel 1(c)), wat op sy beurt ’n waarde is wat onderliggend aan die Grondwet is. Die hof sê verder dat ’n afwyking van die reël ’n uitnodiging vir chaos in die reg is.

Howe kan na 1994 nie sodanig aan bande gelê word dat hulle verhinder word om die gemenereg te ontwikkel nie, veral waar laasgenoemde nie in ooreenstemming met die “gees, strekking en oogmerke” van die handves van menseregte is nie. In dié verband sê Currie en De Waal (2013:65):

  • Na die inwerkingtreding van die Grondwet is beslissings van hoër howe bindend, ongeag of dit handel met grondwetlike vrae al dan nie.
  • Beslissings van hoër howe wat voor 1994 geneem is, is bindend op laer howe, tensy dit in stryd is met die Grondwet, of handel oor norme soos die boni mores.

Die regsaard van repudiëring is nie ’n grondwetlike kwessie nie; daar moet dus aanvaar word dat die hof deur sy eie vorige bevindings gebind moet word.

In sowel Culverwell as Comwezi skyn dit of die hof nie bewustelik afgewyk het van die vorige beslissings nie. In Culverwell word nie eers verwys na die vorige beslissing in Tuckers nie, terwyl daar in Comwezi terloops na Datacolor verwys word, maar die eintlike beslissing omtrent die aard van repudiëring geïgnoreer word. Geen ooglopende redes word gegee vir die afwyking nie, wat dit des te meer onrusbarend maak, omdat dit soos ‘n blote oorsig lyk.


5. Slot

Die konstruksie van repudiëring as ’n “aanbod en aanname” word steeds in die howe en in die hoogste hof van appèl gebruik, ten spyte van die feit dat beide hierdie hof en sy voorganger by vorige geleenthede betoog het dat die konstruksie nie bevredigend is nie en dat dit tot ’n verkeerde gevolgtrekking ten opsigte van kontrakbreuk en die uitoefening van die reg op kansellasie kan lei.

Die feit dat die howe sonder meer van ’n vorige beslissing kan afwyk, is ook in stryd met die stare decisis-reël, wat beskou word as ’n manifestasie van die heerskappy van die reg soos vervat in die Grondwet. Die reël is daar om regsekerheid te bevorder. Indien die hof doelbewus die reëls oor repudiëring wou verander, en redes daarvoor gegee het, sou dit nog aanvaarbaar gewees het ten spyte van die feit dat die aanbod-aanname-konstruksie van repudiëring self nie bevredigend is nie. Ten minste sou die hof se geloofwaardigheid minder gely het onder ’n doelbewuste besluit om die konstruksie te aanvaar. In die huidige omstandighede lyk dit egter of die hof nie sy navorsing behoorlik gedoen het nie, en dit bring nie alleen regsonsekerheid mee nie, maar tas ook die geloofwaardigheid van die hof aan. Die hoop word uitgespreek dat daar in die nabye toekoms ’n geleentheid sal wees om hierdie onsekerheid uit die weg te ruim.


Bibliografie

Currie, I. en J. de Waal. 2013. The bill of rights handbook. 6de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Hutchison, D. en C.-J. Pretorius (reds.). 2012. The law of contract in South Africa. 2de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Van der Merwe, S.W., L.F. van Huyssteen, M.F.B. Reinecke en G.F. Lubbe. 2012. Contract. General principles. 4de uitgawe. Kaapstad: Juta.

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top