Von Wielligh se Versamelde Boesmanstories: ’n uiters welkome publikasie

  • 0

So pas het daar 'n welkome heruitgawe verskyn van GR von Wielligh se Versamelde Boesmanstories (Deel 1). Von Wielligh het oorspronklik sy Boesmanstories in vier dele uitgegee; wat nou verskyn het, is 'n heruitgawe van die eerste twee van die vier dele, wat die "Mitologie en legendes" van 1919 en die "Dierestories en ander verhale" van 1920 bevat. Die bedoeling van die uitgewer is dan blykbaar, hoewel dit nie eksplisiet gesê word nie, dat daar 'n Versamelde Boesmanstories (Deel 2) sal verskyn wat die derde en vierde dele van Von Wielligh se versamelings sal bevat.

Vir Engelssprekende belangstellendes in Boesman-verhale is die navorsing van Bleek en Lloyd oor die Boesmans se taal en vertelkuns die alfa en die omega. Helize van Vuuren het egter, in 'n insiggewende artikel, gewys op die belang van die Boesmanverhale wat Von Wielligh versamel het (Van Vuuren 1995). Sy wys daarop dat "by 'n herwinning van die inheemse stem van die /Xam en 'n rekonstruksie van hul mondelinge tradisie is hier materiaal wat nêrens anders beskikbaar is nie" (p 30).

Van Vuuren raak ook 'n ander belangrike kwessie aan, die etiese een: "Hoe regverdig mens die rekonstruksie van die mondelinge tradisie van 'n uitgedelgde groep inheemse inwoners van die land, uitgedelg deur die Afrikaanse boere in wie se taal jy nou die herkonstruksie van hul kulturele erfgoed pleeg?" (p 30). In Von Wielligh vind ons dan die boeiende teenstrydigheid van 'n man wat aan die een kant deel was van 'n groep wat die Boesman meedoënloos gejag het, maar aan die ander kant 'n hoë waardering gehad het vir die kosbaarheid van die Boesmankultuur – sodat hy hul verhale en gewoontes met volhardende ywer versamel en neergeskryf het, ondanks sy swak sig wat hiervan so 'n moeitevolle taak gemaak het.

In sy inleiding tot Boesmanstories 1 wys Hennie Aucamp daarop dat Von Wielligh die stories op 'n natuurliker manier gehoor het as Bleek en Lloyd. Von Wielligh het die stories gehoor "in die veld, by kampvure en met 'n meelewende publiek om die verteller geskaar" (Aucamp 2009:14), terwyl Bleek sy informasie gekry het deur Boesmans wat die stories aan hom gedikteer het. Verder wys Aucamp daarop dat die Boesmans die stories in Afrikaans aan Von Wielligh vertel het – Afrikaans het deel van hul belewingswêreld geword. Aucamp sien hierin 'n bevestiging van die belangrikheid van "Afrikaans as brugtaal by die vaslegging en bewaring van volkskultuurkundige materiaal" (p 12).

Hoewel Von Wielligh se versameling wel in sekere opsigte 'n groter egtheid en natuurlikheid besit as die opgetekende verhale van Bleek, is dit natuurlik so dat die oorspronklike vertellings vir goed verlore is. Von Wielligh het die herhalings van die Boesmans soms uitgelaat; en in die huidige versameling word in 'n redigeernota genoem dat "(w)oorde en stellings wat aanstoot gee, vervang of weggelaat (is)". Maar die belangrikste van alles is dat die danse, die geluide, die gebare en veral die interaksie tussen verteller en luisteraars nie skriftelik weergegee kan word nie. Dus, wat ons het, is nie 'n herwinning van die oorspronklike nie, maar helaas 'n gewysigde, verarmde weergawe. Maar almiskie! Dit is veel beter as niks.

Die eerste helfte van die versameling bevat stories oor die "Mitologie en legendes" van die Boesman. Hierdeur word die leser ingetrek in die wonderwêreld van die Boesman-kosmologie. Dit is 'n animistiese wêreld met geen vaste skeiding tussen mens, dier en natuur nie, 'n wêreld waarin diere in mense verander en mense in diere, waarin Son die kop van Danser Vuurman is en Maan die skoen van Hottentotsgot. (Fransiskus van Assisi sou dit goed kon begryp, want hy het geweet van Broer Son en Suster Maan; maar die moderne mens het helaas hierdie kosmiese-eenheidsbesef verloor.)

Dit is 'n wêreld gekenmerk deur die wonderbaarlikste transformasies en metamorfoses. Die rasionalistiese moderne mens kan maklik neerbuigend oor hierdie vertellings glimlag – en vergeet dat natuurwetenskaplikes vandag insien dat metamorfoses deurentyd op die aarde plaasvind; dat ons liggame byvoorbeeld opgebou is uit atome waarvan sommige miskien destyds tot Julius Caesar behoort het en ander tot Hitler. (Geen wonder ons is so deurmekaar nie!) Die Boesmans het nie van atome geweet nie, maar wel van metamorfoses; hul kennis van die wetenskap was aansienlik swakker, maar hul kennis van die wonderbaarlike aansienlik beter as ons s'n.

Die Boesmanstories gee op verbeeldingryke wyse 'n narratiewe "verklaring" vir allerlei verskynsels; in die eerste plek vir die ontstaan van die wêreld. Soos in die Genesis-verhaal heers duisternis hier aan die begin. Dit is interessant wat hulle as die "eerste dinge" in die aardse geskiedenis beskou: naas duisternis, ook berge, weerklank, vlaktes, opgeefsel, vuur en water. Die belangrikheid wat hulle heg aan water, vuur, wind/lug en berge/vlaktes, herinner aan die vier basiese elemente wat so 'n belangrike rol in die antieke Griekse en latere Westerse denke gespeel het – water, vuur, lug en aarde. Ook in die Boeddhistiese en Hindoeïstiese tradisies is daar parallelle sienings van die "basiese dinge". En nie verbasend nie – die Boesmans was mos ons almal se voorouers!

Die tweede helfte van hierdie heruitgawe bevat dierestories van die Boesmans. Die dierestories is eintlik karaktersketse, en die diere vertoon, soos reeds genoem, besonder menslike eienskappe. Byvoorbeeld: "Kraai is 'n ou windmaker en praat meer as wat hy doen. Maar Aasvoël is 'n man wat diep kan dink en doen meer as wat hy mee voor die dag kom" (p 146). En van Hasie word die volgende gesê: "Hasie het nooit van jag gehou nie maar dans was sy voorliefde. Hy rinkink die hele nag deur en in die dagtyd, wanneer daar gejag moet word, dan slaap hy sy lyf uit" (p 160).

Die karaktersketse is op fyn waarneming gebaseer; tereg verklaar Von Wielligh dat ons te make het met "verdigsels van werklikhede" (p 142). Vlermuis en Ystervark se nagtelike aktiwiteite word soos volg beskryf:

Daarna kom Vlermuis met haar klein karossie uit. Sy hou met haar handjies twee punte vas om as vlerkies te dien. Vrolik vladder (sic) sy deur die lug en begin dadelik die muskiete en klein goggatjies wat rondvlie, te vang ...

Arrie, wag, hier kom Ystervark uit. Hy luister of hy iets hoor. Daarvoor staan hy botstil, want hy kan baie fyn hoor. Voetjie vir voetjie, sonder om te raas, gaan hy voort – altyd met die neus teen die wind op want net so fyn as sy gehoor is, net so skerp is sy reuksin. Hy ruik hierdie kant toe, dan weer daardie kant toe om seker te maak dat alles veilig is. (227-8)

Met so 'n noue verbintenis tussen mens en dier is dit nie verrassend dat die stories dikwels die vorm van fabels aanneem nie, sodat die menslike leser van die dierlike karakters kan leer. Die verhaal "Kraai se vernedering" eindig so:

Toe eers vind Kraai – al blink sy klere so – tot sy leedwese uit hoe min ander van hom dink en hoe min hulle van sy grootpraat en skel maak. (150)

Ook Wolf leer 'n alte menslike les wanneer hy 'n tweede vrou soek:

En dit het 'n spreekwoord onder die Boesmans geword as iemand straf verdien: "Gee hom twee vroue", want die jong vrou trek sy grys hare uit om hom jonk te maak en die ou vrou trek sy swart hare uit om hom oud te laat lyk. (219)

Wat my dikwels veel plesier verskaf het, was die voorbeelde van sprankelende taal- en beeldgebruik. Moontlik het Von Wielligh hierin ook 'n rol gespeel, maar dit lyk tog of die meeste van hierdie segswyses hul oorsprong by die Boesmans het. Ek gee 'n paar van die mooiste voorbeelde:

Kraai se dinkertjie staan toe stil: Hy kyk voor hom op die grond, krap sy kop aan die een kant, dan aan die ander kant; hy pik aan sy een poot, dan weer aan die ander poot en hy bevind hom in die middel van ek-weet-nie. (148)

Die dogter begin toe eers hierdie kant toe te praat en toe weer daardie kant toe te praat en sy raak so deurmekaar dat sy sommer alkant toe praat. (200)

Soos gewoonlik praat die dogter weer hierdie kant toe, daarop daardie kant toe en toe sommer alkant toe, dat sy nes 'n vlieg in heuning vassit. (p 201)

Om hierdie rede het almal hulle maar teenoor hom gedra nes vuur: Buitekant mooi en blink, maar binnekant vuurwarm en boos. (249)

Van taal gepraat: die taalversorging van die verhale is nie sonder smet nie. Behalwe die bostaande "vladder", lees ons ook die volgende: "Peil reguit af" (p 41), "'n eensame lewe ly" (p 161), en "uitwy" (p 200).

Desondanks: hierdie heruitgawe van die eerste twee dele van Von Wielligh se Boesmanstories is 'n uiters welkome publikasie. Die Boesmans, wat op 'n nerf na uitgeroei is, het soos hul vereerde Kaggen die Hottentotsgot uit die dode opgestaan en deur hul rotskuns en vertellings 'n herverskyning gemaak – en hierdie publikasie dra in 'n belangrike mate daartoe by. Saam met Hennie Aucamp wil ek die wens uitspreek dat die stories ook in Engels vertaal sal word, "sodat die nalatenskap van GR von Wielligh uiteindelik ingeskakel kan raak by 'n uitkringende diskoers, plaaslik maar ook wêreldwyd, oor die Boesman en sy kosmologie" (Aucamp 2009:17).

Verwysings

 Aucamp, Hennie. 2009. Gideon Retief von Wielligh (1859-1932): die herontdekking van 'n profeet. In Von Wielligh 2009:7-17.

Van Vuuren, Helize. 1995. Die mondelinge tradisie van die /Xam en 'n herlees van Von Wielligh se Boesmanstories.Tydskrif vir Letterkunde 23(1), Februarie, 25–35.

Von Wielligh, GR (samesteller). 2009. Versamelde Boesmanstories I. Met 'n voorwoord deur Hennie Aucamp. Pretoria: Protea Boekhuis.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top