Die stoeiende gedagtes van die afgelope klompie uur, wat hulle as ’n skryfding nou gestalte wil gee, is moontlik nie net gevorm in die uitvoering van ’n dagtaak nie, maar was moontlik ook die resultaat van ’n stuk nuuskierigheid. Daarom, en seker ook om my sogenaamde heilige onskuld te beskerm, moet ek noem dat die ondervinding van gister in werksverband was – suiwer aldan nie.
Dit het my ’n tydjie geneem om die sinneloosheid en die leegheid van wat geadverteer word as ’n “unieke volwasse ervaring” te verwerk. Inteendeel, die mistieke verdamp wanneer mens onder die helder geel en rooi neonteken die gebou binnegaan. Die blou mure van die doolhofingang – om nuuskieriges se soekende oë buite te hou, of dalks in te lok – is skoon en netjies. Binne is die winkel redelik helder verlig met winkelrakke soos in die CNA en ’n glaskastoonbank onder ’n kasregister soos in Mr Video. Die verskil is net dat die rakke voorraad bevat wat mans mag gebruik om vroutjie na te boots of vroutjie voor te berei vir die intimiteitsaanslag of selfs om vroutjie se skaamte te vervang. In die glaskas onder die kasregister is hordes voorraad uitgestal wat vrouens mag gebruik om ’n sekere deel van manlief te vergroot, te versterk, te geniet of wat ookal mee te maak. In my lewe het ek nog nooit ’n punt daarvan gemaak om ’n ander geslagsvennoot se affêre te bekyk nie, maar die omvang van silikoon speelgoed wat hier rondlê, kan sekerlik nie die norm wees nie; behalwe natuurlik by ’n oorhoopse perdeveiling saamtrek.
Die “CNA” boekrakke is opgehelder met mond-oophang tydskrif- en dvd omslae vir die man wat van mans hou en die man wat van vroutjies jonk, ouer, groter en kleiner hou. Moontlik het ek nie al die rakke aandagtig deurgegaan nie, maar in nabetragting was dit opvallend dat ons nie op hierdie rakke soortgelyke lees- en kykgenot vir die vrou dadelik opgemerk het nie. Moontlik is dit daar. Of moontlik is dit die uitgewers se idee van ’n vrou se genot. Wie weet.
Die interessante was egter ook die “sitkamer”. Persoonlik sou ek ook wou sien hoe die “privaatlosies” lyk, maar dié was ongelukkig beset. Die “sitkamer” is ’n baie donker kleinerige vertrekkie met swart mure en plafon, 3 wit plastiekstoele, rolle toiletpapier en ’n televisie – ook nie juis ’n groot skerm nie, maar darem so dat ’n “volwasse” film vertoon kan word. Daar’s twee van hierdie vertrekkies – een vir mans en mans-met-mans-films en een vir mans met mans-met-vroutjies-films. Jammer, geen vertrek vir dames met watookal films nie. Die een driestoelvertrek was leeg, behalwe vir die twee jonges wat soos rondloperhonde op die skerm hyg. In die ander vertrek was een verlore jongman met sy hande strategies gevou terwyl hy na die ander twee jongmans doenig op die skerm staar. Toe moes ek uit.
In die rakgang na die voordeur stap ek verby twee middelarige mans, een met ’n blou oorpakbroek met ’n hemp waarop een of ander “cable” onderneming gedruk is en die ander in die volgende gang, ’n netjiese gryser weergawe van George Clooney. Ek hoop julle vind wat julle soek en sommer ook die ontwykende bevrediging van daai lus. Welke moontlik nie hier is nie.
Langs die winkel in goedversorgde lugverkoelde kantore sit die eienaars van hierdie “unieke volwasse ervaring”, trots op die smaaklike voorskou wat hulle aan ons kon opdis in aanloop tot die sluiting van ’n huurkontrak by ’n perseel van ons. Dit is eienaardig hoe min ek verder van die sakegesprek kan onthou. Soos die half bekende gesette ligtekop man oor die uniekheid van hul sakeplan praat, sien ek sy lippe beweeg en sy kop weerskante toe kantel, maar ek hoor die stem van die verkoopspersoon agter die kasregister wat terloops aan ’n kollega die gebruik van die een of ander salfaanwending verduidelik. Ek dink nie aan die huur per maand, die terme van die ooreenkoms of die voorgestelde uitleg wat die sakekenner in detail verduidelik nie; ek dink aan die outjie wat 15:00 op ’n Donderdagmiddag alleen in ’n koue swart driestoel vertrek lustig na ’n seksfilm kom loer. En, wat is dan volgende?
Ek groet die voornemende huurder en sy agent en stap eintlik bedroef-onsteld na my motor aan die anderkant van die pad. Verby twee luukse voertuie onder skadunet by die voordeur van die gebou. Die blinke Prado tref my oog; sjoe, mooi bly maar mooi, dink ek.
Dit is daar, halfpad na my kar toe wat ’n koue rilling my bene swak maak. Hierdie voornemende huurder se gesigsbeeld sit vasgevang in my geheue, ek moes dit net oopgrawe. Want, in my kar se tru-spieël het ek een middag maande gelede die ontstellende gedagtevoedsel vir ’n gedig gekry en die Prado, sy spieëlbeeldgesig en die meisie op die hoek, was meteens saam met my terug in Voortrekkerweg, Parow.
Met al die “toerusting” tot sy beskikking, moet selfs die eienaar van die “volwasse ervaring”, sy lus-heil elders gaan soek.
Vir ’n nuwe perseel ook.
Hennie Fritz

