Voetnota I vir Wouter

  • 0

Hallo Wouter

Afrikaans kon nie in ’n bevoorregte posisie gewees het nie.

Ek het reeds genoem van die tekeninge in die staatsdiens, tweetalig of Engels alleen en dit ten spyte daarvan dat die ouens wat die tekeninge moes lees hoofsaaklik Afrikaanssprekend was.

Kas van den Bergh het op die eienaardigheid gewys van winkels wat adverteer dat hulle kan Afrikaans praat (in hulle vertoonvensters). As Afrikaans in so ’n bevoorregte posisie was sou winkels mense gerusgestel het dat hulle Engels kan praat.

Ek was in ’n parallelmediumskool en in ons wiskundeklas was twee Engelssprekendes. Die wiskunde-onnie het getrou elke tweede les in Engels gegee. As Afrikaans so bevoorreg was soos jy reken sou die twee Engelse kindertjies maar moes inval by die Afrikaanse les.

Een of ander bywet, regulasie of reël was gemaak dat ontvangsdames tweetalig moes wees (dit het die Engelssprekendes hewig ontstig). Indien Afrikaans in ’n bevoorregte posisie was sou so ’n reël nie eers nodig gewees het nie maar Engels was so oorheersend (bevoorreg sedert uniewording) dat die arme Boere nog steeds Engels in die openbaar gepraat het.

Op universiteit was daar verskeie Engelse ouens in ons klas (Tukkies) en almal van hulle het gedurende lesings hulle vrae in Engels gevra en is deur die lektore in Engels geantwoord. Ek het een spesifieke ou in al die jare wat ek daar was nie een keer hoor Afrikaans praat nie. Ek was ook ’n rukkie op Wits en het nooit enigeen hoor vrae in Afrikaans vra nie. As Afrikaans in so ’n bevoorregte posisie was soos jy beweer sou dit andersom gewees het.

’n Vriendin van my dogter het regte op Kovsies geswot en moes in die aand klasloop omdat al die dagklasse Engels was (en dit was vóór '94). Op ’n skaal van 1 tot 10, hoe sal jy Afrikaans daar se bevoorregting takseer?

Die laerskool waar my kinders was het jaarliks ’n kompetisie vir ’n luukse kar gehou en die aand van die trekking was altyd ’n spoggerige affêre. Een van die dames op die raad het die kinders wat parkeerplekke aanwys dit in Engels laat doen. Op my navraag het sy verduidelik dat daar Engelssprekendes is wat kaartjies gekoop het. Dit was lááánk voor '94.

Die einste skool het ook vir fondsinsameling ’n soort van ’n waterkaskanades gehou waarin verkillende spanne met mekaar meegeding het. Al die spanne se name was Engels.

Sover my kennis strek is al die groepe van die Kaapse Klopse se name Engels.

Die hoërskool waar my kinders was het op ’n kol vir fondse ’n kooruitvoering gehou. Sover ek kon onthou was al die items in Engels en daar was twee swarttaalliedjies. Die enigste Afrikaans was deur die gas, Danie Niehaus, gesing (en ek is ook nie so seker daarvan nie).

’n Firma waarvoor ek gewerk het net voor ek universiteit toe was se baas het gereeld uit restourante gestap as daar nie Afrikaans op die spyskaart was nie. Een van die vennote het my vertel hulle het dit verpes om saam met hom te gaan eet want hulle was doodhonger teen die tyd wat hulle uiteindelik ’n eetplek gekry het. As Afrikaans in die bevoorregte posisie was het dit nooit gebeur nie.
In die kort vakansies, wanneer ek nie by die beursgewer gewerk het nie, het ek vir, onder andere, instansies gewerk wat marknavorsing gedoen het. As jy vir Engelse ouens Afrikaanse vorms gegee het, het hulle voor die voet aangedring op ’n Engelse vorm. Afrikaanssprekendes, wie se taal volgens jou in so ’n bevoorregte posisie was, het NOOIT vir ’n Afrikaanse vraelys gevra as jy vir hulle ’n Engelse een gegee het nie.

Ek het ook op ’n kol in die kort vakansies ensiklopedieë probeer verkoop (wat ’n goor job). Die hele verkoopstorie was Engels en net een ou (in Valhalla) het vir my gesê ek moet Afrikaans praat. Al die ander het maar na die Engels geluister alhoewel my Afrikaanse aksent duidelik deurgeslaan het.

Die Afrikaanse gedeelte van die Pretoriase Geelbaldsye was ’n breukdeel van die Engelse gedeelte en dit was glad nie ’n refleksie van die aantal Afrikaanse teenoor Engelse sake nie; net maar weer die Afrikaanssprekendes wat met mekaar in Engels besigheid doen.

Bogenoemde kan natuurlik ook aanduidend van die Afrikaanssprekende se slapg ... , 'skuus, sagmoedigheid wees maar, wat dit beslis wys, is dat Afrikaans nie in ’n “bevoorregte” posisie was nie.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top