Voëlvrou deur Marlize Hobbs: ’n resensiebrief

  • 3

Voëlvrou
Marlize Hobbs
Protea
SKU: 9781485311133

Hei M

Ek het toe jou nuwe boek gelees.

En so gaan my gedagtes op loop, ver terug. Seker na 2007, dalk self 2006. Die eerste SMS wat jy vir my gestuur het, was om te sê dis reg, ons kan ’n storie oor jou doen vir die TV-program waarvoor ek daai tyd gewerk het. Die tweede SMS was ’n baie flou grappie oor Kakamas. Ek onthou dit, want ek het gewonder hoe iemand wat so mooi kon skryf, so ’n omvattend vervelige grappie kon aanstuur vir iemand wat hulle glad nie ken nie.

Flarde het my een hele nag wakker gehou. Ek het sonder veel verwagting in die bed gaan klim met die klein novelle wat elke blerrie prys moontlik losgeslaan het. ’n Paar uur later het ek asemloos in ’n nagdonker, stil suburban Linden gelê en wonder oor die mens wat dié verhaal opgetower het. Dit was magies. Dit was mooi. Dit het klein stofdorpies name gegee wat ek nog nooit gehoor het nie. Daar was ’n rou ontbloting wat my aangegryp het.

Wie is Marlize Hobbs? Ek wou weet.

So het ons begin gesels. Briewe geskryf. Soms korter boodskappe. Nie als mooi of heilsaam nie, helaas. Ek het die skrywer leer ken wat tussen die reëls van die storie gepraat het. En die een wat haar oopmaak op papier. Jou stories is jy en jy is jou stories. Hoewel jy soms in die openbaar verklaar dat jy maar net verhale skryf, laat jy in Voëlvrou iets deurskemer van dit wat jou dryf:

Al moet ek dieselfde boek tien keer op verskillende maniere oorskryf, totdat ek al die stiltes verbreek het, al die ongesêde dinge uitgeskree het; al moet ek oor en oor na dieselfde stories terugkeer om uiteindelik ’n stem te gee aan dié wat tot stiltes gedwing word; sal ek dit doen, want die fok weet, iemand moet dit sê. (51)

So kom jy keer op keer, boek na boek terug in dieselfde en in ander gedaantes. Minerva, Miesa, Iza. Lisa. ’n Toordokter, die vrou van Jasmyn, die ma van Naledi, ’n gebroke vrou met vlerke soos dié van ’n voël. Of ’n onwaarskynlike engel dalk.

Toe ek sien die boek is tydens grendeltyd geskryf, het my moed tot in my voosgeloopte Mongolian pantoffels (grendeltyd-gear) gesak. Is hierdie dan nou die eerste van ’n duisend distopiese boeke waardeur ek vir die volgende paar jaar ad nauseam gaan moet wroeg? Want, kom ons wees eerlik, we are busy living it – nie lus om dit te lees ook nie.

Maar jy stel nooit teleur nie, M. Jy is waarskynlik so voorspelbaar soos die Wes-Kaap se weer in Oktober. Om vir een oomblik te wou dink dat jy The road of nog ’n Koors op my gaan loslaat, was bloot kortsigtig. Niks wat jy skryf sal ooit normaal wees nie. Jy speel doodeenvoudig te lekker met die verwondering én die verwonding van woorde. Jy gooi jou pyn uit soos ’n toordokter sy dolosse. Jy verklap jou seerkry soos ’n pasiënt op haar shrink se couch. Jy spook by dié wat jou en ander magteloses te na kom. En oor die magteloses kan mens seker nooit genoeg skryf nie. Veral in die “ander soort jaar”, soos jy dit noem. Dit was nog altyd ’n probleem, nè? Geslagsgeweld. Maar 2020 het ’n vergrootglas op alles gegooi, veral op mense wat hard afkak onder die hande van wreedaards wat hulself heel moontlik ’n geliefde noem. Jy spreek dit nogmaals in Voëlvrou aan. Jy skryf dit wawyd oop. Dis baie, baie ongemaklik om te lees. En baie, baie maklik om te verstaan dat jy wens mans was meer soos vroue. Sal mens ooit genoeg hieroor kan skryf? Ek dink nie so nie. Laat almal wat onrustig in hulle stoele rondskuif, weer en weer lees van hierdie tipe ongeregtigheid. Dankie, namens vroue en kinders – en as ons eerlik moet wees, ook baie mans. Selfs al is jy nie te gaande oor hulle nie.

Destyds het jy een of twee geheime vir my uitgelap. “Wie is die diamantman in Flarde?” Ha! Al die tyd iemand wat ek ken. “En dié en daai in Score my ’n gwai?” Jy het in my Facebook-ore gefluister. Mettertyd het ons minder en minder begin praat. Jou stem was stil. Ook op papier. Toe kom jy terug met As sy weer kom, en as ek eerlik mag wees, M, was dit my least favourite van al jou boeke.

Maar hier is jy weer. Met Voëlvrou. Ek voel myself terugklim in ou gemaklike pantoffels. Plekke en mense, stories en name. “Kan ons raai-raai speel?” sou ek jou seker per SMS of Facebook kon vra. Maar dit maak regtig nie meer saak nie. Dis universeel. Dis verskeie mense in een. Dis ek én jy, al sê jy ook al jou herinneringe is opgemaak. “Jy kan mos nie ’n storieverteller wil vertrou nie.” Wat ek wel vertrou (en dis waar van al jou boeke), is dat die vrouekarakters altyd en immer sterker is as hoe hulle aanvanklik voorgehou word. In Voëlvrou doen jy dit dan óók so. Elkeen van die vroue het haar eie las wat sy dra, haar eie persoonlike inperking. Almal se stemme is stil of word stil geforseer. Deur ’n varklike pa, deur outisme, deur ongemak of uit vrye wil. Maar uiteindelik word almal vrygelaat uit fase 4 en elkeen kry haar eie unieke stem. Jy is bevry, M. Jy, jou vrou, jou kind. Vir die oomblik altans, tot die volgende herskryf en die volgende magiese karakter weer kom aanklop. Is die magiese ’n makliker realiteit om mee te deal? Is ’n hergeboorte ’n versugting? Wens jy ook jy kan terugkom as iets anders? Ek wonder sommer hardop, want ek vermoed dis maar vir die meeste van ons waar.

Ek het gehou van jou boek, M. Ek het gevoel soos na Flarde, behalwe, ek het dit in die dag gelees. En ek bly lankal nie meer in Johannesburg nie. Ek kan uitbrei oor al die temas, die paar redigeerfoute, die ooreenkomste met jou vorige boeke en die duidelike verwysing na Raka, so met die intrapslag op bladsy 7. Maar ek gaan nie, want jy weet dit als. Ek gaan terugstaan en ’n verbeelde buiginkie in jou rigting maak.

Ek gaan nie maak of ons vriende is nie – ons is bloot verloopte kennisse van vroeër jare – maar ek hoop, liewe M, dat ander mense dalk dié brief onderskep en jou boek gaan koop. Want daar is steeds, na al die jare, toorkrag in jou woorde.

Liefde

Nadine

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top