Die ander dag môre toe die kinders soos gewoonlik vra “wat maak ons vanaand?” (die eintlike vraag is: wat eet ons vanaand?), toe besef ek net weer dat die waarde van kosmaak baie vêr bokant die voedingswaarde van die kos lê.
Kombuiskaskenades staan in baie van ons huise reg in die middel van gesin-wees. Tans in ons eiesoortige verhaal, staan die kombuis nie net so-te-sê in die middel van ons bestaan en saamwees nie, maar ook die huis!
Ek het eintlik nog nooit gesug om kos te maak nie. Ek hou net nie daarvan om ’n kombuis te deel nie – as ek kook, kan jy kyk as jy wil. Of andersom. Sommige mense sal dit heel waarskynlik as ’n enkelkind-ding beskou. My ouers het beide gewerk en vandat ek kan onthou, kon ek die kombuis vir myself hê. Destyds voorskool, toe ek vir Pa met ’n koppie koffie moes wakker maak om te gaan werk, of vir myself in die skoolvakansie ontbyt maak, was dit streng volgens Moeder se voorskrifte. Later sou dit eksperimentele broodjies uitkook en geniet raak. ’n Warm vars brood, kouevleis, tamatie en kaas was egter my gunsteling min-moeite ete na ’n rugbyoefening. Toe my pa skofte gewerk het en later sakeman was – het hy gereeld vir middagete huistoe gekom. Dan het ek vir hom ’n spek-en-eierbroodjie gemaak, of “French-toast”, of geroomde niertjies op roosterbrood, of wat ookal die tyd toegelaat het. Later toe die spanning en te veel suiwel en vleis hul tol begin eis het, sou ons groentesop, radysslaai en appelsap, soos die homeopaat voorgeskryf het, voorsit.
Wanneer Trustbank se boeke nie wou klop nie en Moeder en die tannies van die grootboeke ’n 2-sent fout tussen blaaie en blaaie papiere tot in die laatnag moes soek, dan het ek solank die “kos opgesit”. Eers net die groente, rys en aartappels. Ma het die vleis kom doen. Tot ek die “stoompot” ontdek het. Dit was die begin van my lewe saam met die bredie. Hier kon ek nou begin eksperimenteer met die samevoeging van smake en bestanddele. Hoender met muskadel, skenkels in rooiwyn, kerriemaalvleis en groente. Nie al die smake was wenners nie, maar met moeite en inspanning, was dit darem eetbaar. Daardie jare het ons nie juis baie vleis gebraai nie; dit het eers later jare ’n skadu oor ons mense se groei in kosmaak kom werp.
In afwyking eerder as in teenstelling met my kommentaar hierbo, is ek dankbaar dat ek en my beter-helfte wel ’n kombuis kan deel. Ons tweetjies kan saam ’n ete voorberei, sy die een deel en ek ’n ander. Dit is natuurlik wanneer ons die geleentheid kry, want ... Ons oudste seuntjie het êrens tydens die begin van sy tienerjare die vaardigheidslus vir kosmaak ontwikkel. Van toe-af, het dit met spronge en huppels toegeneem, so-by-so dat hy die kombuis tuis as sy eie beskou en ek en Mammie besoekende kokers geword het! Nie dat hy nie heerlike eetgoeters maak nie, inteendeel. Sy kulinêre vaardighede en nuutgevonde wysheid en kennis word nou die basis van die kritiese beoordeling van die res van ons se kombuispogings. Hier-en-daar slyp daar oomblikke in waar ek en Mammie oorweging daaraan skenk om die “slimstudent” met sy eie spesialis-messe op te kerf!
Kafee-kos en restaurant aansit is al vir baie jare nie meer ’n gereelde deel van ons gesin se eetplan nie. Alhoewel ons soms voel om die slim-kook-seun met potte en panne te verjaag, geniet ons tog die vrug van sy studies uit die kombuis. Die ekstra koker in die huis, is die afgelope jare die ontvlugting van “iets-aanmekaar-slaan” vir ete, na die lekkerte van kosmaak. Dit is veral oor ’n naweek wat ek darem ook nog ’n kansie in die kombuis kry.
Terwyl my gesin in vat-afstand van die gasplate of die Weber of die braaier sit of staan, kan ek ’n wyntjie neem en ’n mater se geselskap geniet. Ander kere, kan ons net rondom die kospotte staan en gesels; kan ek my seuns in die lengte van hul skaduwees oor die stoof in die middel van ons kombuis sien groei; dít in die middel van ons saamwees.
Eendag, moontlik nie so baie vêr van nou af nie, sal ons nie elke dag saam kan kosmaak nie en sal ons seuns voor hul eie kospotte en om hul eie gesinne se stowe staan. Wanneer ek daaraan dink, word ek hartseer.
Tot ek die vraag soggens hoor ... ”wat maak ons vanaand” en pleks van moedeloos te antwoord “ek weet nie”, kan ek net daarna uitsien om vandag se kosmaak saam te geniet. Want vandag se ete, raak so môre se voeding.
Lekker eet my volk. Soos André Brewis sou sê.
Hennie Fritz


Kommentaar
Ai Hennie,
Hierdie saamwees is wat elke gesin in hierdie land nodig het. Al klink dit of die kosmaak die hoofdoel is ,kan dit daardie samesyn nooit klop in waarde nie! Lekker gelees hier by jou, dankie.