Vlugteling

  • 0

Dis Maandag. Haar voete is swaar. Swaarder met elke trap boontoe. Dae, weke, maande en jare se klim, werk jouself boontoe. Hoe hoog is boontoe?

Klik, klik, klik die sleutels op die sleutelbord. ’n Eentonige hamer wat die wete oor-en-oor op die kop kap. Die wete dat sy seker nooit bo sal kom nie. Haar vingers hardloop veertig woorde per minuut oor die vuil gevatte alfabet. Koffie word jou kos, dit word jou toevlug. Nege ure per dag vasgepen agter die monitor wat geheime kodes van toevoer, verwerking van data tot inligting, afvoer. Herhaal die proses weer. Weer en weer.

Beep-beep. Haar gedagtes word halt geroep deur haar slimfoon wat uit haar handsak vibreer. Verskrik gryp sy daarna. Hoe kon sy vergeet om dit af te sit, haar pols klop vinnig. As hulle haar moet vang met haar foon ... Die blou liggie wat flikker in die hoek van die glasskerm tempteer haar. One unread message. Dit blyk almal is besig met hul werk en sy gryp die kans aan.

“Koen?” Sy skrik vir haar verslae stem. Hoe kan Koen vir haar ’n boodskap stuur? Haar bestuurder wat nooit eens boe of ba sê nie. Kry my in die parkeerarea. Dis al. Dis vreemd.

Haar hakke loop ritmies verby al die “Zombies” wat voor hul monitors vasgevang word. Haar netbalknie kraak by elke trap. Die parkeerarea is donker. ’n Buislig flikker. Hy staan in denims en ’n gholfhemp langs ’n VW-bussie.

“Wat op dees aarde Koen?”

“Ek kan dit nie meer hou nie Pop!” Pop? Die man is die kluts kwyt, “jy vul al my drome. Jou stem speel soos ’n plaat in my gedagtes. Oor-en-oor.”

“Koen?” Miskien is hy op drugs.

“Kom saam met my weg asseblief.” Hy staan nader aan haar.

“Weg?”

“Net vir twee dae. Ons het die rus nodig.”

Nee, Koen, ék het die rus nodig. Sy sê dit nie. Die donker kringe onder haar oë en die lustelose uitdrukking op haar gesig wat sy in die bussie se weerkaatsing sien oorreed haar.

“Waarheen gaan ons?” Hy glimlag en swaai haar in die rondte.

Die bande tref die teer. Wit lyne flits verby. Vragmotors kruip moeisaam die bulte van die N1 uit. Queen sing van vryheid uit die krapperige luidsprekers. Die stywe bolla op haar kop het sy reeds losgemaak. Haar blonde hare wapper by die oop venster uit terwyl sy agteroor lê.

“Jy is só mooi.” Sy voel gevlei deur sy woorde, gaan lê met haar kop op sy skouer.

Kosmosse van wit en pers dans langs die pad. Sy lag uit haar maag. Die klank vreemd. Die vryheid vreemder.

“Ons is nou amper daar.” Valke sit op die telefoondrade en stoot die nostalgie in haar op. Sy word weer ’n kind wat feetjies op die mielies sien dans. So vry.

Met toegeslaande ore stop hulle by Meiringspoort.

“Was jy al hier?” Haar verstomming oor die landskap is ’n duidelike antwoord op sy vraag.

“Kom ek wil jou iets gaan wys.” Hy kyk na haar voete, sy het lank reeds haar skoene uitgeskop. Hy haal ’n paar Levi’s tekkies uit ’n sak.

“Trek dit aan.” Sonder om te stry trek sy die vreemde skoene aan. Haar oë steeds vas op die majestueuse klipmuur om haar.

“As kind het ons net van Bloemfontein tot in Bothaville gery met vakansies.” Sy haak by sy arm in. “Nooit uit die Vrystaat nie.” Hulle klim die steil trappe. Hy agter haar vir ondersteuning, sy oë brand op haar rug. Hulle name word vasgepen op ’n muur, tussen honderde ander name. Haar verwondering is die van ’n kind.

“Dis die mooiste poel wat ek nog gesien het.” Hulle is alleen. Die kranse om hulle koggel hulle met ’n nabootsing van hul stemme. Sy hemp is reeds uit en hy is besig om sy veters los te maak toe sy weer vir hom kyk. Hy is mooi.

“Wat nou?”

“Nou swem ons.” Hy plons in die water. Hul hartkloppe jaag. Longe gryp na suurstof. Hul liggame word een.

Die afdraandes van Meiringspoort maak haar kop dronk en sy leun met haar kop teen hom.

“Dankie.” Sy stem maak haar rustig.

Die reuk van see sit dik in die lug. Sout is oral, op lippe en in neusgate. Die Suidooster ruk die bussie rond. Tafelberg lyk mooier as wat hy ooit was. Dik mis borrel oor die kante van die berg. Bote woel in die hawe se waters.

Die bussie se wiele raak stil langs die witste strand. Branders baklei teen die wind. Toeriste se vreemde tale vul hul ore.

“Dis mooi!” Die eerste maal in die Kaap en haar hart is klaar verlore.

“Ons slaap vanaand in hierdie bussie onder die hemel se kombers.” Hy vryf oor die vodde stuurwiel. Haar lyf is moeg. Anders moeg as vanoggend. Tevrede moeg.

Die warm sand brand haar voete. Hulle draf tot by die water. Koue water. Vrek koud.

Skemersonstrale speel saam met sy vingers deur haar hare. Hoendervleis oor hul lywe. Hy soen haar sag. Sterre skiet op in die swart hemel. Twee mane wink vir hulle. Een hoog en solied, ’n ander dansend saam met die branders. Iewers speel musiek en jong stemme baljaar. Haar ore hoor die branders, die naggeluide. Hoor sy hartklop teen haar oor. Sandkorrels vorm ’n snoesige kombers onder hulle. Dis onwerklik. ’n Paar uur later en sy voel soos ’n ander mens.

“Ek is honger.” Sy sit regop.

“Mens kan seker nie net van son en liefde lewe nie.” Hy is nog mooier wanneer hy lag. Koue vis en skyfies uit koerantpapier was nog nooit so lekker nie. Koningskos. Met die see as musiek.

Die sterre word hul dak. Sy arm haar kopkussing. Die wind sing ’n lullaby. In haar moederskoot het sy laas só geslaap.

Die branders roep haar naam ...

“Bruwer ...” Haar oë is loodswaar. “Bruwer! Slaap jy wragtig in werktyd?”

Kantoorklanke vervang die branders.

“Hoe vorder my vakansiereëlings?”

Op haar wange die afdruk van ’n sleutelbord.

“Amper klaar, Koen.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top