Vlugteling

  • 0

Foto: Canva

Vlugteling

#Vrouens met gebalde vuiste
Niemand sien die vrouens nie
Hulle stap die strate met gebalde vuiste

Hulle kinders weet hulle loop so
Hulle kinders vra: Bring ons ma’s, ons oumas terug
Want ons het hulle vuiste nodig

#Ons is almal kwaad 
Jy sien dit in ons vuiste wat fok fok fok 
die hele tyd sê

#In die straat praat niemand nie
Jy kan in die straat praat oor ramaphosa of trump of die councillor of die
vreemdelinge

Jy wil
Jy probeer
Maar liewer nie 

Want netnou hoor die klipgooiers jou
En dink jy vertel die wêreld 
dat jy gesien het hoe hulle klippe 
Mense doodgemaak het
vir hulle selfone

#Engele in Gugulethu-karre
Dis OK huurkarbestuurder
Of jy van die VSA of Gauteng kom
Google Maps vat jou op die township-hoofpad lughawe toe

Jy sal dit nie vooraf weet nie, 
Maar wanneer jou passasier se kop vorentoe lê
Net nadat die klip haar getref het
En die hand die selfoon uit haar bewustelose hand gegryp het

Weet jy 
Om vorentoe te kyk vir die karre –
een na die ander 
het Engele in wat jou tot by die hospitaalhek vat
en dit vir jou oopmaak

#Ons gee die iPhone 14 vir mekaar
My broer langs my praat met sy voorouer-stem;

dalk sy oupa? Dalk sy ouma? Dalk al sy voorsate in een:
Fok seun – jy het die klip te hoog deur die venster gegooi
Jy wil net die iPhone vat
Jy wil nie die kar steel nie 

Maar nou is die vrou dood
Sy is die een wat haar lewe geleef het 
vir skole, vir onderwysers, vir kinders in nege provinsies van die land 
Sy is die een met die PhD oor authentic caring
Sy is die ouma van tien

Sy is die een wat nou dood is oor jy jou klip te hoog gegooi het

hardloop maar
ons gee die gemoorde iPhone 14 vir mekaar

#vraagtekengesigte
Ons loop almal werk toe

Ek gaan skoolhou
Ek gaan kliniek toe
Ek gaan babas oppas
Ek gaan my brood verdien

Ons staan gevries
Ons sien jou menseroof, jong man
En dit los vraagtekens 
op elkeen van onse gesigte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top