
Foto: Canva
Vloei
ek sit – leeg –
op die rivieroewer
en staar na jou wese
– my naaste – ook leeg
God is die oorsaak en gevolg van my sit
asook jou sit dáár aan die ander kant:
alles wat vloei
voort uit dit wat is
niks vloei
voort uit (die) niks nie –
Is God daarom
die my-staar-na-jou
of die jou-staar-na-my
of bloot net die rivier
altyd vloeiend tussen die twee van ons?
(wat afstand bring vir die kyker van geen illusie –)
die wisselwerking van die rivier tússen ons
die ritme wat die eb-en-vloed omvat:
nie verstand nie – nee (!) – nooit nie:
die teweegbring van verstand se wese –
die teweegbring van gees se wese –
die teweegbring van lig
as wese van die waarheid –
man en vrou
wat hand aan hand deur die strate stap
en mekaar kan liefhê
soos vreemde voëls
op die vlerke van die wind
en die rivier vloei aaneen
soos ’n leë polsing van die niet
soos die is wat nie (waar) is nie

