Vlerke vir almal deur Marion Erskine: ’n resensie

  • 2

Vlerke vir almal
Marion Erskine

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798174510

My eerste kennismaking met Marion Erskine was in 2012 toe ek sy roman Oos (2007) by ’n boekwinkel in Grahamstad gekoop het. Ek het die roman dieselfde dag klaar gelees en aangesien ek myself gedurende daardie tydperk in die onderwys bevind het, kon ek aanklank vind by Louis van Jaarsveld se karakter. Erskine se beskrywing van die vreemde kultuurpraktyke in die Verre Ooste het my enduit geboei. Dit is dus geen verrassing dat dié roman een van die finaliste in die “Ek is ’n skrywer!”-kompetisie was nie. Oos word in 2010 opgevolg deur Donatello en Volksie, die eerste Afrikaanse chicklit-roman deur ’n man.

Pas het Erskine se jeugroman, Vlerke vir almal, by Human & Rousseau verskyn. Nadene Kriel se treffende omslagontwerp trek dadelik die leser se aandag en die skoenlappermotief prikkel die leser se nuuskierigheid. Die roman word opgedra aan Amanda Todd. Amanda Michelle Todd was ’n vyftienjarige Kanadese tiener wat in 2012-selfdood gepleeg het nadat sy aanlyn geboelie is. Die tragiese verhaal van Amanda se lewe het via YouTube miljoene mense regoor die wêreld bereik en antiboelie-bewegings in talle lande en skole tot stand gebring. Die tragiese omstandighede rondom Amanda se dood het mense, maar veral ouers, onderwysers en tieners, weer eens bewus gemaak van die vernietigende effek wat boelies daagliks op miljoene kinders en tieners se lewens uitoefen. Selfs volwassenes word op kantoor deur boelies afgeknou.

Voor ek Erskine se roman begin lees het, het ek eers Todd se video gaan kyk. As oudonderwyser het ek ’n knop in my keel gekry. Ek self het jare lank op skool onder boelies deurgeloop en in my hoedanigheid as onderwyser verbonde aan talle hoërskole, het ek dié gedrag daagliks waargeneem.

Vlerke vir almal vertel die verhaal van Dewald Myburgh, ’n sewentienjarige tienerseun wat weens ’n tragiese gebeurtenis kort voor Kersfees van skool moet verander. Baie lesers wat tydens hul skoolloopbaan van skool moes verander, sal met Dewald se situasie kan identifiseer. Dewald moet gevolglik nuwe vriende maak, maar word bowenal met ’n spraakgebrek gekonfronteer as gevolg van die trauma wat hy vroeër deurgemaak het. Soos met Barrie Hough se karakter Danie in sy jeugroman My kat word herfs (1986) word Dewald se spraakgebrek op realistiese wyse verwoord en vorm dit ’n belangrike komponent van die narratief.

Dewald se paaie kruis tydens sy eerste skooldag met dié van Aldi, die skoolboelie vir wie almal doodbang is. Aldi voer ’n skikbewind by die skool, maar Dewald besluit om sy stem dik te maak en Aldi op haar plek te sit. Laasgenoemde gebeure skep op sigself ’n dilemma weens die patriargale orde wat steeds in die samelewing heers. Die vraag wat dus gevra moet word, is: Hoe moet ’n seun teenoor ’n meisie in so ’n situasie optree wanneer geslagsrolle wat weens die seksistiese, patriargale samelewing daargestel is, uitgedaag word? Erskine het ’n sensitiewe onderwerp besonder knap hanteer. Laasgenoemde besluit het egter onverwagte gevolge wat Dewald in sy wildste drome nie kon voorspel het nie.

Dewald en sy nuwe maats besluit om ’n ondersteuningsnetwerk te skep om die slagoffers van boelies by te staan. Die skoenlappermotief kom op amper poëtiese wyse hier ter sprake. Hul skoenlapper verskaf op simboliese wyse hoop vir tieners regoor die wêreld met ’n baie sterk boodskap: as almal saam staan, kan die gedrag en optrede van boelies in die kiem gesmoor word.

Tienerlesers sal by Erskine se roman aanklank vind. Die kernboodskap van Erskine se jeugroman draai rondom die rol wat boelies in skole speel en talle tieners sal hiermee kan identifiseer. Die verskil lê egter in die feit dat Erskine deur middel van die narratief praktiese raad aan tieners gee sonder dat die roman ’n prekerige toon aanneem. Geen tiener wil ’n roman met ’n prekerige toon of lewenslessie lees nie. Die karakters se gevoelens en ervaring van die gebeure is geloofwaardig en Erskine het duidelik deeglike navorsing vir die skryf van hierdie teks gedoen.

Temas soos selfdood, homoseksualiteit, vriendskap en die magtige rol van tegnologie kom in die roman aan bod. Alhoewel daar al vantevore in jeugromans soos Fanie Viljoen se Uit (2014) en Barrie Hough se Skilpoppe (1998) oor manlike gay karakters geskryf is, is Erskine die eerste Afrikaanse skrywer wat ’n gay vroulike karakter in ’n jeugroman geïnkorporeer het. Met Vlerke vir almal dra Erskine daartoe by om stereotipes oor homoseksualiteit af te breek.

Vlerke vir almal is een van daardie jeugromans wat nie slegs deur tieners gelees moet (en sal) word nie. Almal moet dit lees. Veral ouers van tieners, en onderwysers, móét hierdie roman lees. Vir té lank is boelies in die samelewing geduld. Te veel onderwysers het dekades lank die tendens in klaskamers en op speelgronde geïgnoreer. As oudonderwyser hoop ek dat hierdie jeugroman in soveel moontlik tieners se hande sal beland. Elke skoolbiblioteek moet ’n kopie aankoop en hopelik word dit by skole voorgeskryf. Vlerke vir almal is onontbeerlike leesstof vir alle tieners.

Die roman as geheel is ’n geslaagde en realistiese uitbeelding van aktuele temas waarmee tieners op daaglikse basis gekonfronteer word. Die skoenlappermotief is ’n besonders kreatiewe benadering om ’n sensitiewe onderwerp by die horings te pak. Die roman sal vir talle lesers inspirasie bied en vir die vlerklose tieners die nodige waagmoed gee om hul spreekwoordelike vlerke te sprei en hulself te wees. Erskine se roman gee inderdaad “Vlerke vir almal”.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top