Vlam uit die vlaktes kweek 'n herwaardering van byna eeu-oue werke

  • 0

Vlam uit die vlaktes: ’n Keur uit die prosa van E de Roubaix
Ingelei en saamgestel deur Pieter Strauss
Uitgewer: Benedic Boeke
ISBN: 9780981440811
Prys: R150
 


 

“Hy het gelééf as hy ander kon dien en help en het altyd meer aan andere gedink as aan homself.” So sê Willem de Roubaix van sy pa, Manie, oftewel Emanuel de Roubaix, wat daarop aangedring het dat sy twee seuns hom as Manie aanspreek. Loop ’n mens op die spoor van Emanuel de Roubaix, soos Pieter Strauss gedoen het, dan kom jy agter dat hierdie man waarlik omgegee het vir sy mense. Hy het sy lewe gewy aan die onderwys van veral arm en behoeftige kinders. Op Paardekraal, noord van Niewoudtville, het hy uit sy eie sak ’n stuk grond gekoop en die Departement van Onderwys oortuig dat ’n skool daar broodnodig was. Soms was daar tot veertig arm en verwaarloosde kinders in sy skool wat hy op eie onkoste gehuisves en gevoed het.

Vlam uit die vlaktes,wat deur Pieter Strauss bymekaar gebring is, is ’n bundel verhale wat kom uit drie bundels van E de Roubaix: Boesmanlandse sketse en verhale (1926), Uit Boesmanland – Kykies in die volkslewe (1928) en Giel Ool en ander verhale uit Boesmanland (1928). Die publikasiedatums vertel alreeds ’n verhaal: Afrikaans is pas (1925) deur die Parlement as ’n amptelike landstaal erken; die mode onder Afrikaanssprekers om Engels te skryf, en soms te praat, het in die twintigerjare nog nie heeltemal oorgewaai nie; die Bybel het nog nie in Afrikaans verskyn nie. In dié omstandighede skryf E de Roubaix in Afrikaans oor die Boesmanland en sy mense en slaag daarin om drie bundels met sketse kort na mekaar gepubliseer te kry.

Vir die Afrikaanse leser van vandag val baie woorde en uitdrukkings, maar ook die skryfstyl, vreemd op die oor. Dit is veral die dialoog wat De Roubaix in sy karakters se monde lê wat soms verstok klink. Maar hoe dan anders? Dit is 85 jaar gelede geskryf en ’n taal is mos dinamies! Tog kon De Roubaix, toe die taal nog in sy kinderskoene gestaan het, reeds die raaksê-eienskappe van Afrikaans laat praat: “die jongman wou iets koop om sy ’moestas so ’n bietjie aan te klam’ – van daai pap wit goed wat hulle kosmetting noem” (102); “sulke verspotte spronge […] uit ons eie bed na die verdorsvloere van verknorsing toe” (98); dis die “uitsonderlike bok […] die hoënekbok wat so kraakstewels loop” (61). Hy laat ook die Boesmanland praat met sy mooi plantname soos soetgousblom, haasgras, gansogies, lytjiesbos en driedoring; en hy laat die Boesmanlandse mense praat met hulle kostelike byname soos Jannie Vetman, Dirk Jollieman, Jakob Langjan, Willem Koffiekan, Poultjie Pluskeil en Sammie Speksny, ouma Janetjie Grootjan, tant Hannie Oompie en Skraperoor; met hulle vlymskerp beskrywende plekname soos Breekknie en Dooddrink, Lelikbakkies en Drobakkies, Kamkierie, Koeibees en Knersvlakte, Omdraaikolk en Nuwefontein. En hulle sing: “Ek pollies my beste skoene/ gaan steel dan honderd soene/ vanaand by Saartjie Kriel/ die trooster van my siel …” (103).

Pieter Strauss sê in sy voorwoord dat Hennie Aucamp hom aangemoedig en geïnspireer het om ’n keur uit De Roubaix se werk weer uit te gee. Strauss het met toewyding hierdie “opdrag” uitgevoer en nie alleen ’n keurige bundel daargestel nie, maar ook baie moeite gedoen om hierdie merkwaardige skrywer se lewensloop na te gaan. Hiermee gee hy aan die leser ’n blik op die beskeie, nederige en selfopofferende lewe van “’n bitterlike slim man” (146).

Strauss bied ’n hele afdeling aan die einde wat woorde en uitdrukkings verklaar. Dit moet moeilik wees om met ’n ou Afrikaanse teks te besluit watter woorde en uitdrukkings onbekend mag wees aan die leser van vandag. Hier is heelwat ingesluit wat darem algemene kennis is, en ander wat vandag selfs nog algemeen gebruik word, byvoorbeeld voorbode, tabberdjies, baldadige stalperd, blootsvoet, kaatjie-van-die-baan, uitspanning, en so meer.

’n Verdere lys bied verklarings van streek- en plekname. Die teks gee egter by baie name slegs ligging aan en ’n aanduiding of dit vandag nog bestaan, maar geen verklarings nie. Die bron van CR Burger, ’n Ondersoek na die oorsprong en betekenis van plek- en plaasname in die landdrosdistrik Namakwaland (ongepubliseerde DPhil-proefskrif), wat nie in die bronnelys verskyn nie, sou waarskynlik ’n addisionele paar name kon verklaar. By die koördinate word ongelukkig E (vir Engels East) vir rigtingaanduiding gebruik in plaas van die Afrikaanse O (Oos) (byvoorbeeld 30 45S, 19 40E).

Ander aspekte wat pla, is deels tegnies en deels inhoudelik. Ek vind dit hinderlik dat die leser nie met die lees van die inhoudsopgawe kan sien uit watter bundels die sketse kom en hoe Strauss dit ingedeel het nie. Laasgenoemde word in die voorwoord verduidelik. Hy dui ook nêrens aan op grond waarvan die seleksie van verhale gemaak is nie.

Ten spyte van bogenoemde lastighede is Vlam uit die vlaktes ’n baie besonderse bydrae tot ’n kategorie van die Afrikaanse letterkunde wat in 2010 ’n herwaardering van byna eeu-oue werke wil kweek. Strauss het ’n reuse- en lofwaardige taak met groot sukses verrig. Afgesien van die letterkundige waarde, stel hy die Afrikaans-leser van vandag bloot aan aspekte van die kultuurgeskiedenis en volkskunde van die Afrikaanse platteland wat andersins in die vergetelheid sou bly. Die kunstenaar Erich Mayer sê van Manie de Roubaix: “[U]it sy pen het ons die kostelikste sketse van Boesmanland se boerelewe, soos niemand dit ooit weer sal skryf nie. Dis ware volkskuns …” (156).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top