25/12
sy onthou 'n Asem oor haar wang
in die windstil namiddag
wanneer sy die Ritseling hoor
en voel hoe 'n reuse-Waterlelie
diep in haar rypsagte buik ontluik
verstaan sy geen tyding of taal
slegs dat 'n Blom van verwondering
bestuif is en dryf in 'n verslete stal
dié nag skiet 'n Saad uit haar hande
deur die heelal se helder spiraal
en êrens is 'n kleurmal skare
al die engele en diere orals juigend
en die moedermaagd se krip
is meteens slykloos spieëlblink
sodat sy kan drink kan drink
uit die Vlam onder die water
wat haar stil na binne wink