Ek ondersteun die Franse rugbyspan al sedert die huidige spanbestuurder, Jo Maso, se speeldae. Ons het hom nooit hier op sy beste gesien nie, maar die mense wat weet, beskou hom as een van die beste losskakel/senters wat ooit in NZ getoer het.
Nog ’n legendariese speler, wat ons nooit hier gesien het nie as gevolg van die sportboikot, was Serge Blanco, vleuel en heelagter. Hy was glo die verpersoonliking van Franse flair en onvoorspelbaarheid.
Die beste Franse spanne kon drieë druk uit oënskynlik onmoontlike posisies. Hulle was nie behep met “struktuur” of “spelpatroon” of “wedstrydplan” nie. Hulle kon spasies skep deur die bal rond te gooi en onverwagse lyne te hardloop. Daar is heelwat voorbeelde te sien op YouTube, onder andere die beroemde “drie van die eeu” of essai du bout du monde teen die All Blacks in 1992.
Helaas is flair nie iets wat ’n mens eintlik meer sien in hedendaagse rugby nie. Al die spanne speel min of meer dieselfde. Die AB is atleties en opwindende hardlopers, maar veels te klinies om te kwalifiseer as verteenwoordigers van ’n meer romantiese speelstyl.
Die Franse spanne van die laaste paar jaar speel oor die algemeen ook maar die gestandaardiseerde rugby wat die beroepsera kenmerk.
Die span van 2011 is geen uitsondering nie. Afgesien van Vincent Clerc het nie een van hulle nog enige tekens gewys van daardie beroemde flair nie. Niemand gee hulle ’n kans teen die AB nie, die vraag is net hoe ver hulle gaan verloor.
Wen of verloor, dit maak nie saak nie. Al wat tel, is dat hulle ’n slag weer soos Franse sal speel. As hulle in die proses daai nat landjie anderkant Doer Onder in rou dompel, sal dit baie snaaks wees, maar dis nie belangrik nie. Wie weet? Die Franse voorspelers sal nie so erg vou soos die Wallabies nie.
In elk geval het hulle niks om te verloor nie. Ek hoop net hulle wys dat daar selfs in die beroepsera nog ruimte is vir andersheid en aweregsheid, en ek bedoel nou nie die opgepompte soort andersheid van ’n ou soos Quade Cooper nie, wel daardie soort wat spontaan en asof uit die niet verskyn.
Gerhard

