Wat is ’n virus?
mense vra nie meer nie
hulle kruip weg
hy kom kry verblyf
asof jy ’n airbnb is
en glip soos ’n oneerlike gas
by die deur uit met jou asem
hulle het hom in die mikroskoop
onder korrel gekry
onskuldig, rond, vol pennetjies
lyk soos familie
van ’n noorsdoring
Euphorbia stellispina
ons open ’n dossier vir diefstal
onder die naam SARS-CoV-2


