Vir Yuri oor sy "Afrikaans, name en kleur" van gister

  • 0

Hoekom sê jy jy het ’n radikale houding teenoor Afrikaans? Is die feit dat jy aangedring het op Afrikaanse inskrywingsvorms (jy het dit so’n ruk terug genoem) ’n voorbeeld van hierdie radikale houding? Indien wel is dit glad nie radikaal nie; Engelssprekendes doen dit deur die bank, al die jare nog.

Jy sê in die Noord-Kaap het jy gesien dat alle kleure passievol Afrikaans praat. Hoekom noem jy dit; het jy dit nie verwag nie? Verder sê jy op ’n kol dat daar nie vir Afrikaans gelag word nie. Selfde vraag; het jy dan verwag mense moet lag vir Afrikaans? Indien wel, hoekom?

Jou stelling dat " ... die FAK, die ATKV en sulke organisasies is nog te elitisties ..." gee aanleiding tot ’n klomp vrae, onder andere: Hoekom sê jy hierdie organisasies is elitisties? Indien hulle wel is, hoekom moet hulle plebisties – ek neem aan dit is die teenpool vir ’eltisties’ – word? Is hulle wel in die proses om plebisties te word en hoekom behaag dit jou (die vordering is net te stadig soos aangedui deur jou ’nog’)?

En hoekom sê jy daar is nie so ’n volk soos die Boere nie? Weer lei hierdie stelling tot ’n klomp vrae: Indien jy wel glo dat daar nie so ’n volk is nie, watter skeidslyne moet vervaag; tussen wie en wie is hierdie skeidslyne? En as daar nie Boere is nie, wat het van hulle geword (want daar was ’n klomp van hulle wat in ’n oorlog met die Empire gewikkel was)? Het almal dan gesneuwel?

Yuri, jy het duidelik hier ’n uittrapbrief geskryf; ek kan sien hoe jy selfvoldaan terugsit en by jouself reken jy het hulle darem nou weer mooi gewys maar wie sou die ’hulle’ wees? Die Boere bestaan nie vir jou nie so dit moet die wittes wees.

Hoekom? Daar is baie van ons wat met jou saamstem dat die ouens in die Noord-Kaap praat mooi, wat saam met jou stem dat baie ’Afrikanerrolmodelle’ uiters slegte taal gebruik (veral ek stem saam; kyk maar hoe kla ek oor RSG om nou maar een voorbeeld te noem) en dat ons wyd en syd moet Afrikaans praat, by die skool, restourante, parke, oral.

Hoekom konsentreer jy nie op hierdie raakpunte nie eerder as om nou wittes uit te trap en te verwag hulle moet nou tot een of ander aksie (wat dit ookal mag wees wat jy verwag) oorgaan?

Nee wat ou Yuri, dis tyd dat julle moue oprol en hand in eie boesem steek en vinger trek. Alles kan nie net altyd van die wit kant af kom nie.

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top