Dagsê Yuri
Ek kyk nou die dag weer, na jare der jare, na Die Kandidaat. Wat ek destyds van die fliek onthou was hoofsaaklik die voorprent voor pouse, ’n klomp vliegmaneuvers van ’n eskader Impala’s (Aero Macchi’s) wat die lugmag op daardie stadium pas aangeskaf het.
Wat onthoudenswaardig was (’merkwaardig’ werk nie hier nie alhoewel dit ook van toepassing is), was dat al die bevele deur die bevelvoerder in kalm Afrikaans gegee was. "Maak gereed om te breek .. breek ... nou" en die vliegtuie skil so een vir een van die formasie af. Of "maak gereed vir ’n lus ... maak ’n lus ... nou" en grasieus, soos een man, maak die formasie ’n lus. Ek wens iemand kan dit opdiep uit een of ander filmargief en weer wys. Daardie vyfhoekkenteken (die kasteel) en die kalm Afrikaans het ’n ou se hart laat swel. Waar is daardie dae.
Die fliek self was niks om oor huis toe te skryf nie. Om die waarheid te sê, dit was eintlik ’n stukkie Boerebashing soos gesien kon word aan die geboelie van die arme ou Engelse meisietjie deur die superafrikaners, die edele kandidaat wat so verguis word omdat sy aster Engels is en die rebelse raadslid wie se hoofdoel dit is om superafrikaners terug grond toe te bring. Tipies van die vele klimtogte na (gewaande) hoër morele grond wat toe, soos sampioene na nat weer, gevolg het.
Oor die algemeen was die karakters ook nie baie oortuigend nie, nie meer as dié in Stoute Boudjies in elk geval nie. Gedurende die raadsvergadering het die rebelse jong raadslid soos ’n wafferse cowboy gesit-lê op, of liewer in, sy stoel en toe hy ’n spreekbeurt neem slenter hy deur die hele raadsaal rond en maai gewaande heilige koeie links en regs af. Die arme Engelse meisietjie, wat lyk soos ’n karakter uit Interster, se onderhoud met die raadslede het die Spaanse Inkwisisie se onderhoude (soos in Goya’s Ghosts) na sondagskoollessies laat lyk.
Wat humor betref was Stoute Boudjies ook ver bo flieks soos American Pie en Hangover waaroor almal so gaande is. Die vernielsug van Amerikaanse brats was nog nooit snaaks nie. Stoute Boudjies was skreeusnaaks en ek sal dit aanbeveel vir enigiemand wat binne ’n uur of wat van al sy stres ontslae wil raak.
Nee wat ou Yuri, ek sal eerder dat die Afrikaner takseer word aan die hand van karakters soos Wors en Molly (wat ’n paar oulike beentjies, en kroppie, het sy tog nie ... terloops, ek het eenkeer ’n fliek van Sandra Bullock gesien waar haar bene nie eenkeer gewys is nie – so’n regisseur behoort geskiet te word maar ek dwaal af) as die een deur Cobus Rossouw vertolk in Die Kandidaat. En, met die luukse van terugblik, sou ek sê dat, indien daar ’n knou aan Afrikaans toegedien was, dit deur Jans destyds was en beslis nie Willie nou nie.
Groetnis
Jan Rap

