Hallo Wouter
Ek verwys na jou opmerking van 7/7 onderaan my brief aan jou van 5/7.
Ek betwis nie die feit dat Afrikaans in 1925 'n amptelike taal geword het nie; wat ek sê dat jy dit nie as rede kan aanvoer vir jou stelling dat Afrikaans daardeur "tot taalsuperioriteit gelegitimiseer" is nie. Ek sê ook weer eens vir jou dat Afrikaans nooit in 'n bevoorregte posisie geplaas is nie.
Indien jy by 'n plek gewerk het waar alles Afrikaans was, was dit heel waarskynlik bloot omdat die Afrikaanssprekendes by verre in die meerderheid was en jy was gelukkig in die opsig. Maar, soos ek reeds gesê het, selfs onder Malan, Strydom, Verwoerd, Vorster en Botha het Afrikaans aan die agtertiet gesuig, sy status as amptelike taal ten spyt.
Jy praat ook gedurig daarvan dat ek "staaltjies" vertel en die geskiedenis ignoreer. Wouter, die hele geskiedenis is staaltjies: Waterloo, Bloedrivier, verkiesing van Churchill as eerste minister, insweer van Lyndon Johnson as president ens, ens.
As jy met "staaltjies" bedoel dat ek lieg dan moet jy, soos ek al telkemale gevra het, hierdie staaltjies identifiseer sodat ek kan regmaak en verskoning vra.
Groetnis
Jan Rap

