Vir Wouter oor woordeboekuitlegte

  • 0

Hallo Wouter

“Hello” klink nie reg nie maar dit net terloops.

Ek stem saam woorde alleen, sonder dat in konteks gesien word, se betekenis is beperk. As dit nie so was nie sou enigiemand ’n vertaler kon wees; jy soek net die ekwivalente woord op en siedaar, jy't ’n stuk teks van een taal na ’n ander vertaal. Dit is egter nie so maklik nie.

Maar, aan die ander kant nou weer, dit is so dat ’n sekere woord ’n sekere betekenis het. Jy kan byvoorbeeld nie die woorde “verkneukel” en “heul” gebruik as sou hulle respektiewelik beteken
“verguis” en “protesteer” nie en, as iemand jou op jou dwaling wys, aanvoer dat dit is hoe jý dit wil gebruik nie. So, woordeboeke het ’n plek.

Wat betref Jan Rap: Lank gelede, toe ek begin het om hier op die Sê ook ’n stuiwer in die armbeurs te lê, het een of ander intellektueel die voorstel gemaak dat net intellektuele hier moet skryf. Ek het spesifiek die naam “Jan Rap” toe gekies om te wys dat die gespuis ook ’n plek het, al is dit ook om net kers op te steek by die hogeres.

Ek is heeltemal gemaklik met “gespuis” alhoewel in Afrikaans die betekenis miskien meer na “Jan Alleman” toe oorhel as wat die geval in Nederlands is. Jy moet ook maar versigtig wees vir Nederlands as jy na die Afrikaanse betekenis soek; daar is ’n magdom “valse vriende”. Dink maar aan “vaak”; ons woord vir die Nederlandse “vaak” is “dikwels” en hulle woord vir ons “vaak” is “slaperig”. Dink ook aan ons “kat” ...

Groetnis

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top