Vir Wouter oor "Johannes se truuks"

  • 0

Hallo Wouter of sal ek sê hello

Jy beweer Johannes Comestor mismaak inligting wat geen strekking oor ’n onderwerp het nie. Het jy al na episodes van die programreeks Weird Connections gekyk? Scientific American het ’n ruk gelede ook ’n gereelde rubriek gehad oor juis hoe daar ’n draad loop tussen gebeure wat ’n mens ontgaan as jy nie spesifiek daarna let nie.

Wat Johannes dus doen is om vir die minder intelligente of ondersoekende siele soos ek en jy op hierdie skakels te wys. Hoekom dit jou so ontstig is waarskynlik omdat die waarheid so ontbloot, duidelik uitwys wie dwaal, wie lewe in ’n waas van ontkenning, die soort van ding.

In jou brief skets jy die benarde behuisingsprobleem in die land en, implisiet hierin, is natuurlik ’n oproep dat almal moet help om ’n oplossing te soek, eerder as om te kla. Wat interessant is, is dat jy self kla sonder om iets te doen; jyself bied geen oplossing aan nie, of probeer die oorsprong van die probleem identifiseer nie. Voorkoming is tog beter as genesing, nie waar nie? ’n Oplossing wat die oorsake aanspreek is die regte ding, eerder as om simptome te dokter, of hoe? En dit is wat Johannes vir ons wys met sy, noem dit verbindings, sy ’truuks’ soos jy dit wil hê. Dit sal jou dus betaal om met meer aandag Johannes se briewe te lees.

Daar is egter een ding in jou brief waarop ek jou kan komplimenteer – jy praat van ’n ’miljard’ en nie, soos so baie mense verkeerdelik praat, van ’n ’biljoen’ nie.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top