Dag Wouter
Jou brief van 25 deser verwys.
Ek sien daar is iemand wat vir jou geskryf het oor die Franse wat in Frankryk stem en die Duitsers wat in Duitsland stem en so aan. Eintlik sinneloos as dit nou as voorbeeld gebruik was om te wys SA is nie ’n demokrasie nie want jou antwoord daarop kon wees dat Suid-Afrikaners in Suid-Afrika stem. Terloops, snaaks, jy het nogtans gekies om nie daardie ou te antwoord nie.
Jy moet versigtig wees met die redes wat jy verskaf of iemand nie te antwoord nie want dit lyk meestal na ’n klap op die mat, ’n oorgee-aksie. Om te sê jy antwoord iemand nie omdat dit hom nie van sy mening sal laat afsien nie is om te erken jy het a) nie die skietgoed nie en/of b) jy antwoord niemand nie as jy nie oortuig is jy gaan hom van sy mening laat afsien nie. Dis mos nou simpel; dis juis hoekom mens in debat betrokke raak, om die ander ou van jou mening te oortuig of die inligting te verkry om dan in te sien dat die ander persoon reg was en jy jou mening dienooreenkomstig verander.
Ewentwil, die redes wat ék jou gegee het oor hoekom SA volgens my nie ’n demokrasie is nie is eenvoudig (ek mag natuurlik die kat aan die stert beet hê en sal dit verwelkom as jy of iemand my kan reghelp).
Eers bietjie agtergrond wat ek reeds vir jou gegee het maar ek gee dit maar weer: Die grense in Afrika is onnatuurlike grense wat NIE deur die Afrikane getrek is nie maar deur die eertydse koloniale magte. Dan is daar oor die 2000 verskillende nasionaliteite in Afrika en dié is in bondels wat wissel van so 10 tot 300 in hierdie onnatuurlik-begrensde lande (so 60+ van hulle) gegooi deur die koloniale magte. Na die Tweede Wêreldoorlog het hierdie koloniale magte hulle kolonies "onafhanklikheid" gegee en sedertdien is daar struwelinge in elkeen van hierdie kunsmatige lande want daar is wrywing tussen die verskillende etniese groepe (soos maar oral op aarde, vandaar die verskillende lande).
In Suid-Afrika is so elf na twaalf verskillende etnisiteite saam geforseer, dus kan daar nie sprake wees van 'regering deur die volk vir die volk' nie want daar is ’n magdom verskillende volke. Die blote feit dat die president die SA-burgers in ’n vreemde taal aanspreek is ’n klinkklare bewys van die kunsmatige toestand.
Ware demokrasie sou wees dat elk van hierdie elf of twaalf groepe sy eie land en regering sal kry. Dit behoort nie vir jou vreemd te lyk nie want die eerste twee onafhanklike state, midde-in die onnatuurlike grense bestaan reeds (deur die Engelse daargestel destyds), te wete Basoetoeland en Swaziland.
Die destydse NP was besig om hierdie onnatuurlike toedrag van sake te herstel toe die 'wêreld' (met die hulp van ’n groot 5de kolonne hier) ’n stokkie daarvoor gesteek het want dit sou ’n stabiele suider Afrika tot gevolg gehad het wat dit baie moeiliker sou maak om die plek se grondstowwe (koper, yster, chroom, diere, gas, steenkool ens) te roof. Die hondjie wat hulle geskep het om die halsbandjie te kry was 'menseregte' en met ’n magtige pers het hulle die hele wêreld op loop gehad; die bose Boere moet gestuit word. Daar is vandag nog mense wat die storie glo en met ’n moerse chip op die skouer loop (en wraak pleeg) omdat hulle so verontreg sou gewees het.
Soos ek vir jou gesê het, ek mag verkeerd wees en ek sal bly wees as jy ’n beter poging kan aanwend om my te wys waar (dis nou as jy nog dink ek is verkeerd). Dit help nie jy kwoteer ouens soos Van Zyl Slabbert nie; hulle het hulle be-ywer vir die huidige toestand en, soos jy sien, is dit ’n misrabele mislukking; dis ’n gemors. Net gister weer hoor ek van ’n LUR wat R15miljoen verduister het en klippe en takke saam met brandende bande weer in ’n ander plek as twee dae vantevore.
Terloops, die syfers wat ek uit my duim sou suig. Die 22000 moorde per jaar was definitief die laaste syfer wat ek gehoor het, die teenswoordige 16000 is ’n nuwe syfer en ek sal nie verbaas wees as dit ’n 'kreatiewe' syfer is nie soos ek glo die 22000 ook was. Die bron vir die 45000 verkragtings per jaar is RSG en in dieselfde program is ook gesê dat net een uit 25 (nie seker van hierdie getal nie) verkragtings aangemeld word.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Hello Jan,