Jy maak die volgende aardskuddende stelling:
Afrikaanse universiteite en so ook die skole moet daarom ’n stille dood sterf en die opvoeding van die totale bevolking in Engels geskied.
Waar op aarde gaan jy ’n spreker van taal X kry wat propageer dat taal X moet terugstaan vir taal Y? Veral in die lig van die feit dat taal Y al honderde (oukei, tientalle) tale vermoor het en in elk geval in die proses is om taal X te versmoor.
Ek glo in geen ander land sal mens so-iets kry nie maar jy doen dit. Vir so ’n uitsonderlike uitkoms moet daar gewigtige redes wees en jy verskaf toe die volgende:
Afrikaners het, toe hulle aan bewind was, Afrikaans bevoorreg.
Afrikaners het, toe hulle aan bewind was, TIEN MAAL meer aan wit kinders se onderwys bestee as aan swart kinders s’n.
Afrikaners het, toe hulle aan bewind was, ’n wet gemaak wat swart studente verbied het om aan wit universiteite te studeer.
Afrikaners het, toe hulle aan bewind was, ’n sisteem genoem “Bantoe-onderwys” ingestel wat minderwaardig was.
Afrikaners het, toe hulle aan bewind was, swartes burgerskap ontsê.
Hierdie is nie goeie redes nie Wouter, hulle is gewigloos. Nommer een, byvoorbeeld, is onwaar; op die ergste het hulle hul flou gesukkel om Afrikaans te handhaaf soos ek al in meer as een brief aan jou verduidelik het.
Nommers twee en vier is ondeurdag en onregverdig; ek het al vir jou gesê dat, wat onderwys vir swartes betref, die Afrikaner aansienlik meer gedoen het as die Engelse goewerneur. Jy moet ook aanwas deur immigrasie in gedagte hou, die belastingbasis destyds en die feit regering besig was om, soos die Engelse goewerneur met Swaziland en Basoetoeland, onafhanklikheid aan die ander bevolkingsgroepe te gee.
By nommer drie verswyg jy die bestaan van Universiteit van die Noorde en Medunsa. Buitendien, sover my kennis strek, was wit universiteite, die Afrikaanses ingesluit, al “oop” lank voor '94.
Nommer 5 is nie waar nie want, soos ek gesê het, dit was beleid dat swartes burgerskap van hulle eie onafhanklike lande kry (soos Swaziland en Basoetoeland, deesdae Lesotho).
Bogenoemde, as grond waarom vandag se studente en skoliere van moedertaalonderrig ontneem moet word, is absurd. Om die waarheid te sê, dit is so infantiel en sonder substansie dat jy óf besig is om spaas te maak, óf gekondisioneer is, kompleet soos iemand in ’n soort van ’n trans.
Groetnis
Jan Rap
NS Jou vraag oor of mens in taal dink: Mens dink nie in ’n taal nie.

