Julle opmerkings onderaan my brief van 18 April verwys.
Kêrels, moenie op julle perdjies spring nie; daar is baie waaroor ons saamstem en, dit waaroor ons nie saamstem nie, kan ons mos logies en nugter bespreek – met verwysing na feite natuurlik – om te sien wie die naaste aan reg is.
Wouter, ek stem byvoorbeeld saam met jou dat die wonderlike groeikoers in die laat 60’s tot ’n einde gekom het, die presiese tyd wat die NP van beleid verander het. Jy sal jou herinner dat ek verskeie male daarop gewys het dat die Nasionale Party net vir 18 jaar aan bewind was. Ek het nou wel in my vorige brief gepraat van 10 –15 jaar oorgangsregering maar ek het tog al baie gesê die skrif was sedert ’69 al teen die muur.
Jy’s ook reg dat die land nie demokraties was nie, wel, nie heeltemal nie want die Kleurlinge het nie stemreg gehad nie. Die swartes het egter almal stemreg gehad (of was op die punt om te kry in hulle eie outonome state). In die teenswoordige opset het niemand egter stemreg nie of, laat ek dit so stel, soos my Engelse vriend se pa altoos sê, die stem wat jy het is not worth a bucket of cold piss (jammer vir my Engelse vriend se pa se Frans).
Jy kan stem tot jy blou in die gesig is maar die riool loop al hoe meer in die paaie vol slaggate af en die stadsklerke ry al hoe meer en duurder karre en my en jou taal word al hoe meer vertrap. Afrikaanse straat- en plekname word al hoe meer weggevee en jy kan nie eers meer jou eie taal praat by instansies waar jy betaal (belasting, heffings, tariewe ens) om van ’n diens voorsien te word nie. Dit is duidelik dat hierdie regering die Afrikaner afjak en wat ’n verleentheid is dit nie dat Afrikaners soos jy verlief daarmee neem, nog so ver gaan om dit te verdedig ook.
Jy kom al weer uit met ’net soos’, jy sê "net soos Afrikaans geen reg het om aanspraak te maak tot spesiale behandeling nie." Net soos wat? Ek verstaan jou nie. Ek kan jou egter dít sê, Afrikaans het NOOIT spesiale behandeling gehad nie en maak ook nie nou, soos jy beweer, aanspraak op spesiale behandeling nie. Waar kom jy daaraan?
Wouter, tyd verhoed my om weer vir jou uit te wys waar jy met elke stelling kleitrap maar ek wil jou darem wys op hierdie groot borrel wat jy gehap het, waar jy sê die parke was skoon omdat die grootste gedeelte van die bevolking uitgesluit was. Jy sê dus dit is die grootste deel van die bevolking wat die parke vuil maak? Ek dink ’die grootste deel van die bevolking’ sal nie baie van hierdie stelling van jou hou nie.
Stephan, klein-apartheid kom al (veral) van die Engelse administrasie af en ek stem saam met jou, die blikbord- en erdebekerstorie was kwetsend. Gelukkig bestaan dit nie meer nie. Of hopelik nie meer nie want ek weet, eerstehands, van so’n praktyk wat deur ’n bruin gesin ten opsigte van hulle swart huishulp beoefen is.
Ek het al in vorige briewe gesê rassisme is die oortreffende trap van jaloesie en nie snobisme nie. Mev professor doktor Pompies (jou voorbeeld), uit hoofde van haar snobistiese houding, sal nie klere by Mr Price koop nie (dis terloops daar en by Meltz wat ek my klere koop) en, as haar snobisme vererger of toeneem teenoor Mr Price, sal dit nie manifesteer in brandstigting nie; sy sal die winkels net meer vermy. Wanneer jaloesie egter vererger word dit rassisme en manifesteer dit in sinnelose haat wat lei tot brandstigting en volksmoord, soos wat hier aan die orde van die dag is.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan,