Dagsê Wouter, ek verwys na jou kommentaar van die 27ste onderaan my brief aan Angus ook 27 deser.
Jy maak ’n groot storie oor wat MY standaard sou wees ten opsigte van Afrikaanse spreektaal, so al asof ek hierdie moerse taalpuris is. Wel, ek is nie, kyk maar na my briewe en ek het dit al by meer as een geleentheid gesê. Jy het ’n geneigdheid om aan te dik; my Afrikaans teenoor 7miljoen ander mense s’n. Praat 7 miljoen ander mense van 'experience' in plaas van 'ondervinding' byvoorbeeld?
Indien iemand ’n Engelse woord gebruik is dit gewoon nie Afrikaans nie. Wat is so moeilik om te verstaan? Nog ’n ding wat jy in gedagte moet hou is dat daar byna daagliks tale uitsterf en voor die taal uitsterf word hy ingeneem, kan jy maar sê, deur die taal wat hom verdruk. Die sprekers van die taal wat aan die uitsterf is word nie op ’n dag stom omdat hulle taal nie meer bestaan nie en dan gaan leer hulle maar Engels of Spaans of Portugees nie; die vreemde taal neem die taal geleidelik oor.
Dit is myns insiens besig om op die oomblik met Afrikaans te gebeur en ek het die redes verskaf: Luister na inbellers byvoorbeeld op programme soos Soekhoek en Werksoek; die mense kan nie meer Afrikaans praat nie; party kan nie eers hulle telefoonnommers in Afrikaans gee nie. Omroepers is ook nie so onskuldig nie, luister maar hoe wemel dit van die anglisismes as hulle praat.
Voeg hierby dat Afrikaans nie meer amptelik gebruik word nie, dat almal by die werk net Engels praat en dat in, onder andere in die reklamewese, Afrikaans al hoe minder gebruik word en die prentjie word nog donkerder.
Ek mag verkeerd wees en dit staan jou vry om my te wys waar jy reken ek dwaal. Die beskuldiging dat ek dink die taal behoort net aan my is nie ’n redenasie nie; jy kan mos nou self dink man. Buitendien, ek praat nie van dialekte en aksente van Afrikaans nie, ek praat van Afrikaans wat al hoe meer deur Engels besmet word. So om te noem dat daar in Engeland of waar ookal dialekte en aksente is wat onderling onverstaanbaar is werk ook nie. Ek praat van ’n taal wat besmet is, soos byvoorbeeld Engels sal wees as dit deurspek is met, sê, Duitse woorde.
Jy vra of die taal aan 7miljoen behoort of " ... net aan Jan?" Natuurlik aan almal wat Afrikaans praat; hoekom maak jy die aanname dat hy net aan my behoort omdat ek wys op agteruitgang? Al praat ek self die taal skeef en krom verhoed dit my nie om bekommerd te wees oor, wat ek dink, agteruitgang is nie. Jy hoef byvoorbeeld nie ’n geofisikus te wees om ’n rotsstorting of ’n aardbewing op te merk nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Hello Jan,
Hallo Wouter
Jy het nou die spyker mooi netjies op sy kop geslaan! Plaas laat jy dit lankal gesê het dan het jy my baie asem gespaar. Jy is heeltemal reg, dit is taalvermenging wat my so dwars in die krop steek; daar sê jy toe in een woord wat ek in ellelange opstelle probeer sê het.
Taalvermenging is nie mooi nie en dit verteenwoordig NIE groei nie maar agteruitgang.
Wat die "gatkruipery en gedienstigheid" betref .... wel, dis maar net 'n opgewende manier (allermins opgewonde) om te sê dit is 'n onnodige en oorbodige uitreik ten koste van Afrikaans.
Groetnis
Beste Jan,
Hello Jan, Angus,
Baie dankie, en aan Angus vir daardie "ontlening", wat leersaam was.
Wouter