Vir Williams oor die bakermat en oor Afrikaans

  • 0

Jy sê jy het nog nooit enige kommentaar oor my kwansuise geweeklaag oor die agteruitgang van Afrikaans gelewer nie. Ek dink jy's reg want as jy iets wesenlik sou gesê het sou ek dit onthou het. Jou taktiek is mos om ’n wilde stelling te maak en dan op in die sand te druk; skiet af teen ’n tangent en praat oor iets anders.

Jy sê die probleem met "Afrikaans is hoeka die probleem met AFRIKANERS soos Jan Rap homselwers!!" Met die eerste deel stem ek saam; dis mos wat ek ook heeltyd sê, ’n taal se agteruitgang is geheel en al afhanklik van sy sprekers se houding. Met gatkruipers, agterryers, anglofiele en patete soos jy het die taal nie ’n kans nie.

Jy noem my ’n hater. ’n Hater waarvan? Ek is lief vir alles hier man, lief vir die voëls en die bome en die gras en alles. Wat ek wel haat is rioolpompe wat nie werk nie, slaggate in die paaie, die feit dat boere doodgemartel word, die feit dat belastinggeld in ’n bodemlose swart gat verdwyn, die feit dat jou maatjies nie onwettige haaivin-, renosterhoring-, leeuvel- en ivoorhandel kan bekamp nie. Hierdie haat is niks uitsonderliks nie; almal, behalwe die lakeie natuurlik, haat dit.

Die werklike hater is jy; jy haat die Afrikaner, jy haat die witmens, jy haat die Britte, die Amerikaners, die Duitsers, al wat Westerling is, veral die Kiwi's en die Aussies. Hoekom weet ek nie maar ek vermoed sterk dit is omdat hulle jou nie daar wil hê nie soos iemand hier op SêNet al beweer het. Wys van hulle; hulle wil nie hulle genepoel verarm nie.

Jy reken, oor die ondergang van Afrikaans, sal jy "persoonlik ... geen een enkele traantjie stort nie ..." Hoekom noem jy dit? Dit het met Afrikaans se oorlewing niks te doen nie; jy beskryf maar net ’n karaktertrek van jou. Churchill het op ’n kol gesê (aangehaal?) "Britons never shall be slaves" en, ooglopend, is jy nou van die wat nie daardie houding deel nie; jy is tevrede om jou eie te versaak en ’n lakei en agterryer vir ander te wees. Ons kan daaroor praat as jy wil maar met die taaldebat het jou gebrek aan nasietrots, en gevolglike ongeërgdheid teenoor Afrikaans, niks te doen nie.

Wat jou bakermatbrief betref is jy natuurlik weer hard besig om jou maatjies se matelose onbekwaamheid in die kollig te plaas. Jy sê "Ons in SA leef binne vermoëns, ons het verantwoordelike regering wat intelligent te werk gaan ..." terwyl die koerantink nog nat is oor die minister wat in ’n paar maande oor die R10m aan huurvlugte bestee het, ’n vorige polisiehoof tronk toe gestuur is vir bedrog, honderde polisiemanne se korrupsiesake hangend is, departemente in drie provinsies onder geregtelike bestuur geplaas is, hoë amptenare (onderwys of iewers) geskors is vir die verduistering van miljoene (nie duisende nie, miljoene) en daar daagliks berigte is van renosterstroping en perlemoensmokkelary. En dit is maar onder andere.

Ja-nee, soos jy sê, die NSA is in volle swang.

Jan Rap

NS Vir die interessantheid, hier's die Ethnologue se klassifikasie vir Afrikaans en Engels en die paar betrokke taalgroepe. Die skuinsskrif is groepe, gewone skrif is tale en die nommers is om ’n skets te vergemaklik (ek moet sê, dit lyk nie vir my heeltemal reg nie):

Indo-Europees
1 Germaans
1.1 Wes-Germaans
1.1.1 Friesies 1.1.2 Engels 1.1.3 Laersaksies-Laerfrankies
1.1.3.1 Laerfrankies
1.1.3.1.1 Afrikaans 1.1.3.1.2 Nederlands 1.1.3.1.3 Vlaams 1.1.3.1.4 Zeeuws

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top