Hallo Werner
Jou kommentaar onderaan my brief oor Wim en Jaco se vakansie verwys.
Jy's reg, alles is relatief. Ek het egter nie met my brief te kenne probeer gee dat mens jou nie aan die armes moet steur nie; mens kan beslis iets doen om hulle lot te verlig maar dit kom definitief nie daarop neer om aalmoese uit te deel nie soos ek glo jy ook probeer aandui het. Aalmoese vererger net die probleem – meer mense kom klop aan om hulp en op die ou end sit die nageslag met 'n groter probleem.
Ek stem nie heeltemal saam met jou siening van die Ethiopiese vrou met die 15 kindertjies nie. Miskien kan sy werk maar die kinders het nie gevra om daar te wees nie. Die probleem moes jare vroeër aangespreek gewees het; sy moes nie 15 kinders gekry het nie. Dis egter nou te laat om iets daaraan te doen; wat nou moet gebeur is dat die Ethiopiese regering haar 'n werk moet gee, hulle moet haar kinders versorg en sorg dat so-iets nie weer gebeur nie.
En ek stem heeltemal nie saam met jou oor die visstokke en die handleidings nie. Dit is die ergste soort van aalmoes, die skenk van tegnologie. Die derde wêreld is vol verlate fabrieke; hulle was net in produksie terwyl die skenkernasie die ontvangers touwys gemaak het en daarna het alles verval. So 'n fabriek is meer as masjiene, boute en moere. Hy is as't ware die manifestasie van eeue van ontwikkeling en ontvangers wat nie daardie ontwikkelingsproses deurloop het nie gaan hom nie kan bedryf nie. Die skenkernasie kan dalk help om daardie ontwikkelingsproses te verkort na dekades toe maar om die fabriek net so te skenk werk nie.
Wat erger is as fabrieke wat verval het, is om tegnologie te skenk wat maklik aanwendbaar is, soos wapens byvoorbeeld, of ontbossingsmasjienerie soos stootskrapers, kruiptrekkers en kettingsae, of vissersbote. Kyk hoe lyk van die dorpe en stede ten noorde van ons, vol gate geskiet. Met die verkeerde tegnologie word bronne binne 'n paar jaar vernietig of uitgeput.
Hulp is ook ongewens want in die meeste gevalle gaan dit meer om die halsbandjie as om die hondjie. Kyk hoe besoedel van die myne ons damme en riviere terwyl die eienaars en aandeelhouers, meeste van hulle oorsee, al hoe ryker word. Ek sê mos, daar was Malema reg; nasionaliseer die myne dan hou hulle ten minste op funksioneer en besoedel nie die land verder nie.
Jy mag nou vra nou maar wat bly oor; hoe moet ons dan armes en agtergeblewenes help? Ek dink demokrasie is die antwoord; elke volk het sy eie gebied met sy eie vlag en taal. Onmiddellik is daar dan ook 'n nasietrots; jy kan g'n nasie bou met honderde volkere in een gebied saamgegooi nie, kyk maar na Nigerië en Somalië of enige land in Afrika, ons ingesluit. Goeie buurskap is natuurlik 'n resep vir vrede en dit sal in ons belang wees om buurstate by te staan (en te beskerm teen invalle uit die Ooste of Weste uit).
Dit klink miskien vir jou na tong-in-die-kies-stories maar many a true word spoken in jest is nie verniet 'n ou spreekwoord nie.
Groetnis
Jan Rap

