Vir twee stemme

  • 0

Vir Stemme, LitNet se dialoogprojek saam met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV, is tien dramaturge genader om kort dialoë te skryf. Twintig akteurs is gevra om daarin te speel en tien regisseurs het elkeen ’n stuk afgerond.

In Pieter-Dirk Uys se dialoog Vir twee stemme vertolk Elzabé Zietsman en Dean Balie die rolle. Oscar Petersen was in die regisseurstoel.

Vir twee stemme (of meer):

Die Stem van Taalfeesjaar

1.

Uit die blou van ons toneelkuns
Uit die diepte van ons taal
Oor ons ewige gebergtes
Waar verkramptes woelig maal

Deur ons onderdrukte skryfkuns
Na die kreun van Broederstroom
Ruis die stem van ons frustrasies
Los ons uit, ou sensor-oom

Ons sal antwoord op jou klagtes
Ons sal luister wat jy vra
Ons sal skrywe, altyd suiwer
Ons vir jou Suid-Afrika

2.

Met die swart ink van ons penne
In ons boeke, woord en gees
In ons roem op ook ’n toekoms
In ons hoop op wat sal wees

In ons wil en werk en handel
Van ons wieg tot aan jou graf
Deel geen ander taal ons liefde
Trek geen ander spraak ons af

Afrikaans!
Ons sal die adel van jou naam met ere dra
Waar en trou as goeie skrywers
Kinders van Suid-Afrika.

3.

In die songloed van verbannings
In selfsensuur se kou
In die hitte van ons woede
In die stilte van ons rou

By die klank van skandvlekname
Deur die bloeding van ons werk
Streel jou stem ons nooit verniet nie
Al klink jy anders in die kerk

Op jou roep sê ons nooit nee nie
Laat ons woorde maklik dans
Jy wil lewe; waarvoor sterwe
Jy’s my pel, ons Afrikaans!

4.

Op hul eerlikheid vas vertrouend
Het ons skrywers al gebou
Skenk ook ons die hulp, Suid-Afrika
Om te handhaaf en te hou

Dat die erwe van ons vadere
Vir ons kinders erwe bly
Met ’n Afrikaans wat lewe
Teen die hele wêreld vry

Soos die GRA vertrou het
Inspireer dan ook vir my
Met ons taal en met ons nasie kan dit wel wees
Maak ons vry

6.

In die naam van die skrywers,
die lesers en die Afrikaanse kultuur.
Amen.

(Pieter-Dirk Uys, Kaapstad, Julie 1975)

***

Stemme is supported by the National Arts Council.

Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme in 2023 | Tien dialoë

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top