Vir Thys oor die oneindige heelalle

  • 2

Hallo Thys, dit gaan oor jou opmerking van 14 deser onderaan my brief van 13 deser oor ontleder se persoonlikheidstipes.

Ek kan sien dat, as daar oneindige heelalle is maar terselfdertyd is daar 'n eindige aantal moontlike boustene – molekulêre strukture soos elemente, molekules, chemiese verbindings, knipmesse, koppies en pierings, brandweerwaens, olietenkskepe, olifante, arende, muskiete, erdwurms ens – dat daar identiese konfigurasies, momentaan, iewers in die algeheelal (wat uit 'n oneindige heelalle bestaan) kan gebeur.

Ek sê 'momentaan' en gebruik die woord 'gebeur' want enige konfigurasie verander nanosekondes na hy tot stand gekom het. Die boustene is nog dieselfde maar daar is geen manier om die dinamika tussen, sê 'n Boeing 40 000 voet bokant Timbuktu en 'n erdwurm in jou agtertuin, te kwantifiseer nie. 'n Parallelisme (nog nie in die woordeboek nie) is nie 'n statiese rangskikking nie, dis 'n kinetiese gewoel met weliswaar 'n eindige aantal onderdele maar oneindige aksies tussen die onderdele. En nie noodwendig opeenvolgende aksies nie; die smaak van die bier wat ek nou sluk is beïnvloed deur die spreekwoordelike klap van 'n vlinder se vlerk in die oertyd.

Vir dus 'n parallelle heelal om te bestaan ... ag, laat staan heelal, selfs aarde of dorp; vir 'n parallelle huisgesin om te bestaan, moet die hele dinamika van die geskiedenis dieselfde wees; daar moes 'n Van Gogh gewees het en hy moes presies dieselfde skilderye gemaak het (want in die een dogter se kamer hang 'n afdruk van sy selfportret), Napoleon moes verloor het, Vesuvius moes op dieselfde oomblik gespuit het en die dinosourusse moes presies soveel jare vantevore uitgewis geword het ens ens.

Dis hier waar die voorstanders van 'n parallelle heelal se storie vir my in duie stort. Hulle sê byvoorbeeld in die parallelle storie kon, sê Hitler, die oorlog gewen het. Maar dit kan dan gebeur het dat in 'n parallelle wêreld die Romeine die Germane uitgeroei het en Hitler was dan nooit gebore nie! Buitendien, 'n ou lyk soos hy lyk omdat sy ouers lyk soos hulle lyk so vir jou om in 'n parallelle heelal te bestaan moes jou pa jou ma in in daardie heelal op dieselfde tyd getrou het. Al die alternatiewe besluite ten spyt moes jou ma en haar voorgeslag, en jou pa en al sý voorouers presies dieselfde geskiedenis gehad het as hulle eweknieë hier op aarde. Hoe vereenselwig die wetenskaplikes wat hieraan glo dit met die feit dat daar alternatiewe geskiedenisse kan wees?

Hierdie anomalie systap hulle deur te sê met elke besluit gaan die alternatief in 'n ander heelal voort. So vir elke besluit – en daar is miljoene besluite oor die aarde op enige gegewe oomblik deur mans, vrouens, kinders, reuns, tewe, ramme, bulle, koeie, ooie en selfs insekte – gaan die twee of drie of 17 alternatiewes voort in 'n ander parallelle heelal, en net 'n oomblik daarna gebeur dit weer, en weer, en dieselfde gebeur in in al die heelalle waarin hierdie alternatiewe geskiedenisse begin.

Maar bo- en behalwe dit nou alles: Gestel die aarde bestaan uit 10^x molekules. Aangesien oneindigheid aan die orde van die dag is moet daar dan ook 'n soortgelyke aarde iewers bestaan met daardie hoeveelheid molekules plus een, en ook 'n aarde met daardie hoeveelheid molekules minus een enkele een, of minus twee, of plus 10^y. Hoe lyk daardie 'aardes'?

Nee wat Thys, die hele storie is vir my absurd en daar is 'n paar verklarings oor hoekom: Een daarvan is dat ek nie verstaan wat hulle bedoel met 'n parallelle heelal nie en uit hoofde van my gebrek aan kennis en/of verstand die absurde gevolgtrekkings hierbo maak. 'n Ander verklaring is dat dit nie goed verduidelik is nè, ek kan dit dalk met 'n bietjie inspanning verstaan as hulle ordentlik verduidelik wat hulle bedoel. Dan, natuurlik, is daar die moontlikheid dat dit wel 'n klomp onsin is.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    JR, ek dink daar is 'n verskil tussen die konsep van paralelle heelal (of paralelle bestaan van wat ook al) en die veelal-heelalle konsep wat Hawking nou nie juis in "glo" nie, maar as 'n teoretiese moontlikheid beskou. Ek kry nie die indruk uit sy jongste werk dat hy die "paralelle konsep" eens aandag gee nie - ek kry nie so 'n term in die baie deeglike indeks tot The Grand Design nie.

     
    Ek stem saam met jou oor die parallelle storie - dis absurd.  Synde nie 'n fisikus nie, kan ek nie Hawking (en Feynman) se veelal-heelalle idee sommer so verwerp nie, maar ek het ook maar my bedenkinge. Dit maak vir my ook nie sin om veel aandag aan sulke goed te gee nie - die feit soos ons dit ken en verstaan is dat ons wel in hierdie heelal leef - en dit alleen is al heelwat om aan te kou!
     
    Maar aan Hawking se baie interessante konsep dat ons heelal ontstaan het omdat 'n toestand van "niks" onstabiel is en dat daar 'n kwantumkreukel in  die niks ontstaan het, het ek nogal heelwat sin.
     
     
  • Thys,
    Terloops, die 'nè' in my voorlaaste sin moet 'n 'nie' wees.
    Ja-nee daar is heelwat goed wat nie sin maak nie maar ek voel mens moet dit bespreek.  Ek en my tuinboukundige assistent staan byvoorbeeld nou die dag na 'n vliegtuig wat taamlik laag vlieg en toe verdwyn hy vir 'n paar oomblikke agter, of dalk in, 'n wolkie wat nog laer is. "Ie?" sê my tunboukundige assistent en hy vra my hoe ver vlieg daardie vliegtuig van die blou af.  "Watter blou?" vra ek.  "Daai blou daarbo." sê hy.  Ek sê toe vir hom daardie blou is maar net as gevolg van die atmosfeer want hoe hoër jy gaan hoe donkerder word daardie blou tot dit naend swart is.  Ek kon sien hy glo my nie maar ek is seker hy en sy vriende gaan dit verder bespreek.
    Die maan hang toe ook daarbo en hy vra vir my of daar gras groei.  Ek sê nee daar is net klippe en sand, en as jy daar uitklim is dit asof iemand 'n plastieksak oor jou kop trek want daar is nie asem nie, en dis so koud jy sal vries maar jy sal eers bars omdat daar nie lugdruk is nie.  Sy kommentaar was "Iehie, dar plek is gafar man."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top