Vir Thomas steeds die Afrikanerdefinisiedebat

  • 2

Hallo Thomas

Jy begin nou 'n Jaco Fourie op my trek; waar ek jou stellings bevraagteken gee jy geen antwoord nie en wanneer jy gedruk word reaksie is jou taktiek eenvoudig ... jy gee bloot geen antwoord nie.  Ek voorsien dat jy binnekort gaan verklaar dat jy nie meer gaan deelneem nie want jy wil nie praat met mense wat nie wil luister nie of, soos Jaco dit gestel het, " ... nie praat met fanatici nie."

Jy hou vol dat ek die begrip 'Afrikaner' as die uitsluitlike eiendom van die wittes sien. Jy is aspris Thomas, ek het dit nooit gesê nie.  Hoe sou ek dit nou as uitsluitlik wit eiendom sien as ek verklaar dat as, sê Jonathan of Koos of Japie of Breyten of Christo of Yuri of Jurie, 'ja' antwoord op die vraag of hy 'n Afrikaner is, dan is hy een; wie kan met hom stry?

Ek kan jou egter waarborg Jonathan sal 'nee!' sê; hy het reeds sy kinders in 'n Engelse skool verstaan ek.  Franklin Sonn, Russel Botman en Adam Small sal tien teen een ook in die negatief antwoord.  Sou hulle egter 'ja' antwoord sal ek baie bly wees.  Dink net, met sulke energieke Afrikaners aan die stuur by Kovsies en Stellenbosch sal Afrikaans se agteruitgang daar gestuit en weer in glorie herstel word.

Maar of hulle nou ja of nee antwoord is nie die punt nie.  Die punt is hierdie definisie van jou – almal wat Afrikaans praat is Afrikaners – is van jou kant gesien 'n versoenende en tegemoetkomende gebaar en as sulks aanmatigend; jy gooi, as't ware, vanuit die hoogte die hekke oop.  En, terloops, dis buitendien verkeerd want nie almal wat Engels praat is Engelse nie en nie almal wat Duits praat is Duitsers nie.

Hierdie inklusiewe benadering van jou is 'n verkeerde ene want die Jonathan Jansens, Arense, Cordeurs, Lloyds, Adam Smalls ens van hierdie wêreld staan op geen gebied 'n duim terug vir enigiemand op hierdie aarde nie.  Om vir hulle in effek te sê "toemaar, julle is ook Afrikaners" is 'n belediging.  As hy of sy wel 'n Afrikaner is, dan is dit so en dan hoef niemand hom of haar te nooi nie.

Jy was verheug oor jy sedert '94 Kennis van die aand kon kees sonder vervolging en goed in jou snippermandjie gooi sonder dat sekuriteit daardeur snuffel. Ek het vir jou aangedui dat sensorskap geensins verby is nie en ook dat Big Brother jou nog steeds dophou.  Jy het daarop geswyg soos die graf.

Ook het ek jou gevra of jy dink die prys vir die lees van Kennis van die aand, naamlik bykans 3000 boere wreed vermoor, die verdwyning van Afrikaanse skole, kolleges en universiteite en die heksejag op Afrikaans billike betaling vir hierdie nuwe voorreg van jou is en jy het g'n sprak gesprook nie.  Ek sou graag jou siening hieroor verneem.

Ek sien uit na jou volgende skrywe.

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • HeHe Jan!

    Jy skryf: "Jy begin nou ’n Jaco Fourie op my trek; waar ek jou stellings bevraagteken gee jy geen antwoord nie ..."

    Wie is nou die grootprater ou? Jy het nie my vraag van 11 Okt 12 beantwoord nie, nl. "Frederick Van Zyl Slabbert wat anti-Nasionaal; anti-HNP; anti- Konserwetiewe Party; anti-AWB, 80% polities eens met ANC sieninge was, sou jy erken hy was Afrikaner al dan nie?".  ’n Eenvoudige Ja of Nee sal genoegsaam wees sonder enige kwalifiseerende verklarings nie. Dit sal voldoen vir die rekord.

    Jaco Fourie

  • Thys Human (PTA)

    Weet nie wat JR sal sê nie, maar Van Zyl – liewe, aangename, intelligente man soos ek hom geken het, en wat uit huis uit ’n Afrikaner was, was uiteindelik NIE een nie want hy wou nie een wees nie, hy het hoofsaaklik met die linksliberales onder die Engelse gemeng, is later met ’n Engelse vrou getroud en het gesterf as iemand wat die Afrikanervolk toe reeds afgeskryf het.

    Daar loop heelwat meer sulkes hier rond – veral in die Kaap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top