Vir Thomas, Panda, Angus en die res: Spirituele Intelligensie opgeklaar

  • 11

Op 10 Mei skryf Thomas ’n kort, bondige en eenvoudig-verstaanbare brief wat die ontstaan, ontwikkeling en bewys(e) van die evolusie-teorie beskryf. Raai wie reageer eerste op sy skrywe? Reg geraai: Dolf, Kobus de Klerk en FC Boot, sommer al vróégoggend.

 Nie Dolf of FC plaas énige wetenskaplike argumente op die debatstafel nie, nee Dolf saai verdagting en FC sê Thomas hou mense onkundig. Nie een sprak ’n sprook oor Thomas se punt dat jare en jare se portuurgeëvalueerde navorsing die evolusie-teorie onomstootlik bewys het nie.

 Kobus de Klerk span egter die kroon met die volgende stelling: “Die grootse fout wat julle maak is om te meen dat dit wat empiries nagevors word, bloot net op die fisiek waarneembare berus, terwyl empiriese kennis insluit alles dit wat gegrond is op ervaring of proefneming. Dit is juis hier waar julle absoluut vaal, want deel van die ondervindelike is juis ook nie fisies waarneembaar nie maar speel net so 'n kardinaal belangrike rol soos die fisieke. Dus voldoen julle nie eens aan die basiese beginsel en vereiste van werklik, objektiewe wetenskaplike benadering nie. Julle sluit doelbewus 'n baie belangrike empiriese ervaringsveld uit en dit is waar julle gruwelik faal wat nog die ondergang sal beteken van jul geliefkoosde teorie wat ten doel het om God uit die hele skeppingsproses van lewe te probeer uitskakel.”

 Hoe op aarde stel hy “empiriese kennis” gelyk aan “ervaring” en “die ondervindelike”? G’n wonder hy beskuldig ons daarvan dat ons “vaal” nie. ‘n Mens voel so half valerig as jy sulke knolle vir sitroene aangebied word. Ten minste weet ons nou: Spirituele Intelligensie (SI) verwag van die wetenskap om sy navorsingsveld te “ervaar” en te “ondervind” alvorens resultate bevestig word. Nou toe nou. Hoekom klink dit vir my meer na ‘n kerkdiens met kitare as na “empiriese navorsing”?

 

 

  • 11

Kommentaar

  • Neels(Husky)Visser

    Die ongelowige Thomas.
    Gelowig stel heer Thomas sy wekker vir 6 uur die volgende oggend, voordat hy rustig gaan slaap, vredig in die wete dat dit hom sal wakker maak op die vasgestelde tyd. Dit gebeur dan ook so, en hy druk die ligskakelaar aan, sonder enige twyfel dat die lig sal aankom. Dieselfde doen hy met die ketel, wat hy weet hom nog nooit gefaal het nie.
    In sy kar sit hy die sleutel in die aansitter en twyfel nie dat dit gaan aanskakel wanneer hy dit gelowig draai nie. So wag hy ook sonder enige vertwyfeling geduldig by die verkeersligte, want hy weet dit sal weldra na groen verander en kan hy weer ry.
    By die werk druk hy die knoppie vir die hysbak, want hy weet, dit sal hom weldra kom haal. In sy kantoor skakel hy sy rekenaar aan en twyfel nie of dit gaan aankom nie. Dan klik hy op die verlangde skakels en hy glo sonder twyfel dat dit hom na die korrekte webwerf sal lei.
    Nou kan hy lekker daai klomp gelowiges beledig, wat so onnosel is om in iets te wil glo. Hy self is 'n ongelowige, en sal mos nooit tot daardie lae vlak daal nie! Hy self sal nooit so kleinlik wees om in iets te glo nie. Want as jy doen - is jy mos ook op 'n manier 'n gelowige!
    Vriendelike groetnis.
    Husky

    • Beste Husky
      Al die dinge wat jy noem is nie dinge waaraan ek sommer net glo nie. Elkeen van die goed werk volgens die wette van die natuur wat deeglik deur empiriese navorsing bevestig is en deur middel van die universele taal van wiskunde sodanig geboekstaaf is sodat ons dit kan verstaan en manipuleer om nuttige dinge vir ons te doen. Dis nie blindelingse geloof in die onbewysbare nie. Ek kan jou verseker dat as dit 'n kwessie van blindelingse geloof was sou ek byvoorbeeld nooit my voet in 'n vliegtuig gesit het nie!
      Nee wat ou Husky gaan lees weer my brief mooi. Soos Dirk sê gaan my betoog bloot daaroor dat julle die goedbewese en gedokumenteerde feit van evolusie op 'n kinderlike manier ontken omdat dit die kastige spirituele sekerhede (wat nog nooit bewys is nie) bedreig. Julle vrees die evolusieteorie, wat 150 jaar se kritiese navorsing deurstaan het en vandag as feit aanvaar word, omdat dit die uit die lug gegrypte, onbewese skeppingsgodteorie van julle openbaar vir die klomp bog wat dit is.
      Daniel Bernoulli het die verband tussen spoed en druk waargeneem en uiteindelik het dit gelei tot lugvaart. Vandag weet ons almal dat 'n vliegtuig in die lug gaan bly, as gevolg van die jare lange empiriese navorsing en gevolglike geboekstaafde resultate van duisende portuurgeëvalueerde artikels wat gevolg het op Bernoulli se insigte en aanvanklike waarnemings. Op soortgelyke manier weet ons vandag dat die evolusionêre proses bestaan en glo ons nie meer daaraan nie maar aanvaar dit as 'n feit. Julle selektiewe verwerping/aanvaarding van die wetenskap is gewoon belaglik en uiters kinderagtig.
      Groetnis
      Thomas

      • Neels(Husky)Visser

        Beste Thomas
        Lekker om van jou te hoor. Maar, ek belowe jou, ek het geen vrees vir evolusie soos jy beweer nie. In jou skrywe aan my, het jy net 'n paar verkeerde aannames gemaak hoor? Elke keer waar jy die woord "julle" gebruik het was jy verkeerd. Maar ek wil nie soos jy, beledigend wees nie.
        Watter nut het dit om mense wat nie dieselfde as jy oor dinge dink en voel nie, sleg te sê? Ek is oortuig daarvan dat dit nie nodig behoort te wees om jou tot beledigings te wend, as jy met geldige redenasies kan werk nie. Ek voel dat elke mens tog 'n eie opinie mag handhaaf.
        Is ek reg as ek meen jy voel nie dieselfde nie?

        • Dagsê Husky

          Jy kan glo wat jy wil en 'n opinie hê van jou eie - ek het absoluut niks daarteen nie. As jy egter goed bewese wetenskaplike feite reduseer to eenvoudige geloof dan gaan ek jou aanvat omdat dit gewoon bogpraatjies is. Ek sal jou met rus laat as jy sou verklaar dat jy kinderlik glo dat daar 'n god is wat alles geskape het en dat hy sy seun laat doodmaak het vir jou sondes. Wanneer jy egter begin om wetenskaplike bog te praat om jou opinie of geloof kredietwaardigheid te gee dan moet ek jou aanvat. Sê nou maar 'n jong onskuldige kind (nog erger een van my kleinkinders!) lees jou goed en glo uit pure onkunde jou onwetenskaplike drogargumente, dan moet ek optree. Ek het al male sonder tal gesê: bewys dit wat julle beweer en ons kan 'n intellektuele gesprek met mekaar voer oor die geldigheid van jou navorsing. Om die wetenskap te verkleineer om krukke vir jou troetelgelofies te verskaf is gewoon onaanvaarbaar en slegte maniere.

          Groetnis
          Thomas

  • Beste Dirk

    Nee hier het jy die kat aan die stert beet. Lees gerus my kommentaar op Kobus de Klerk se skrywe elders.

    • Beste FC Boot
      Hoe klink dit vir my jy is half bereid on te aanvaar dat evolusie bestaan en werklik is en dat die mens maar een van die vertakkings van die evolusionêre boom is? Bevestig jy dus dat die hipotese van 'n skeppergod sommer wensdenkery van 'n spul antieke grotbewoners was?
      Indien wel, hoe versoen jy dit met jou onwrikbare geloof in 'n opperalmagtige god wat jou as kroon van die skepping hier geplaas het maar tog so kleinlik is dat hy van jou verwag om aldag op jou knieë rond te kruip en hom te aanbid. Glo jy aan pratende donkies en maagde wat swanger word? Glo jy dat god so lief is vir jou dat jy eendag in die steeds onopgespoorde en misterieuse hemel gaan opeindig en dat hy ons klomp arme drommels wat nie die feëverhaaltjies glo nie, almal gaan martel en brand (baie liefdevol van hom!). Jy moet tog sekerlik met 'n stok kan aanvoel dat hierdie 'n loutere spul snert is, of nie?
      Groetnis
      Thomas

      • Beste Thomas

        Voordat ek jou antwoord ,sê my is evolusie 'n natuurlike of onnatuurlike proses?

        • Dagsê FC Boot
          Evolusie is bepaald 'n natuurlike proses en word aangevuur deur natuurlike seleksie. Ander faktore speel natuurlik ook 'n rol soos onder andere geografiese isolasie en natuurlike mutasiefoute.
          Mens kry natuurlik iets soos “onnatuurlike seleksie” soos geïllustreer deur die teling van diere met spesifieke eienskappe soos bv verskillende honderasse, bokke met lang horings ens!
          As jy in die prosesse soos beskryf hierbo, 'n goddelike hand bespeur, sou ek graag die bewyse daarvoor wou sien. Die evolusieteorie is oor-en-oor deur die wetenskaplike metode bewys en om dit te weerlê sou bewyse verg wat volgens die wetenskaplike metode as geldig geag word. Blinde geloof en stories uit antieke geskrifte sal nie deug nie!
          Groetnis
          Thomas

          • Beste Thomas
            Dankie vir jou antwoord. Evolusie is dus slegs moontlik as die faktore wat jy noem aanwesig is maar dit vereis dan ook dat die planeet waarop dit plaasvind op die regte plek in die heelal is en oor al die bydraende faktore beskik.
            Aangesien die DNS van selfs die mees eenvoudigste organisme so kompleks is kan dit die gevolg van 'n toevallige samekoms van omstandighede wees?
            Wat dink jy van mense wat sê dat die kans daarvoor so klein is dat hul dit vergelyk met die soek van 'n muntstuk wat effens verskil van 'n berg van muntstukke wat strek vanaf die hele Amerika tot die maan?

  • Beste Dirk
    Ek is mal oor jou uitdrukking: “knolle vir sitroene aanbied”. Selfs ou Jan Rap sal jou moet komplimenteer met jou fyn taalgebruik.
    Dat die spul godsdienstiges vir ons knolle vir sitroene aanbied is inderdaad so. Ons klompie voornemende hel-brandmateriaal verklaar dikwels onomwonde dat hierdie knolle lyk soos knolle, proe soos knolle, voel soos knolle, laboratoriumtoetse bevestig dat die knolle is, en op die oog af toon dit absoluut geen ooreenkoms met sitroene nie. Die spul voornemende harpspelers, met hulle gebreinspoelde visie, sien net sitroene. Self het hulle nog nooit aan die knolle geproe, of dit aan onafhanklike toetse onderwerp nie – nee hulle glo dis sitroene. Om te wil proe aan die knol (of is dit nou 'n sitroen?) is mos darem erg onheilig. As die swart boek sê dis 'n sitroen dan moet dit 'n sitroen wees. Al lyk dit soms erg baie na 'n knol moet jy onmiddellik op jou knieë gaan en bely dat jy twyfel.
    Hierdie proses van knolle opdis as sitroene laat my darem al te veel dink aan George Orwell se “doublethink” en “newspeak” soos beskryf in sy boek 1984. Vandag voer die godsdienstiges dit na nuwe hoogtes wat as “doublespeak” bekend behoort te staan. Hoewel Orwell nooit die term “doublespeak” gebruik het nie maar slegs na “doublethink” en “newspeak” verwys het, wil ek voorstel dat ons die proses van knolle opdis as sitroene saamvat met die woord “doublespeak”. Doublespeak kan dus gedefinieer word as die doelbewuste aksie om teen alle empiries gebaseerde wetenskaplike bewyse in, knolle tot sitroene te verklaar, en almal wat dit durf verwerp tot ewige marteling in 'n vuurpoel te verdoem!
    Groetnis daar in knolland
    Thomas

  • Kobus het geen benul waarvan hy praat nie, maar dit help nie om dit vir hom te sê nie. Hy glo wat hy glo.

    Empiriese navorsing berus juis op slegs dit wat deur die vyf sintuie waargeneem kan word. Lyk my Kobus wil nog 'n sesde sintuig byvoeg. Hoe hy ook al sal probeer, sy spirituele goeters sal "vaal" wanneer dit by proefneming kom. Net mense wat hallusineer, het 'n sesde sintuig waarmee hulle spoke waarneem. Slegs hulle kan die vaal gedaantes waarneem.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top