Vir Thomas oor sy evolusieteoriebrief

  • 2

Thomas, jou briefopskrif van 25 deser lui "Die evolusieteorie weer eens bevestig". Klink vir my na ’n soort van ’n weerspreking. Indien ’n teorie bevestig word, word dit ’n wet. Ek sou reken Galileo het sekere teorieë oor swaartekrag gehad (dink aan sy demonstrasie met die twee koeëls wat hy van die skewe toring in Pisa laat val het) maar die wet van swaartekrag het gestalte gekry toe bewys is dat swaartekragversnelling 9,8 meter per sekondekwadraat is.

Nog ’n ding: As enigeen ’n (waarskynlike) gemis uitwys in die evolusieteorie is die alternatief nie dat hy glo die aarde is plat, 6 000 jaar oud en in 7 dae geskep nie. Die teorie het ernstige gapings, tot so’n mate dat ek dink die klakkelose aanvaarding van die teorie maak meer staat op geloof as enige van die religieë op aarde. Daar is egter geen twyfel dat evolusie wel plaasgevind het, en besig is om plaas te vind nie.

Daar kan wel aangevoer word dat ouens soos ek wat nie die hele storie sluk nie bloot te dom is om dit te verstaan. Dit mag wel so wees, maar dan moet daar tog die ouens soos julle wees wat met geduld en volharding vir ons kan wys waar ons verkeerd gaan en dit gebeur nie. Soos George Claassen sê, gee die bewyse. ’n Fossiel van etlike miljard jaar oud verklaar nie, sê, metamorfose, of parasietisme nie.

Miskien weet ek nie mooi wat die teorie behels nie, miskien moet jy die teorie stel sodat ek dit kan lees en daaroor peins. Die wet van Archimedes is ’n paar woorde, so ook die van Boyle en nog ’n klomp ouens wat jy in enige wetenskaphandboek kry. Hierdie wette kan ’n ou lees en die bewyse maklik verstaan. Hoe lui die teorie van evolusie?

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Jan Rap

     
    'n Baie goeie brief van jou. Jy vra eintlik twee vrae: wat is 'n wetenskaplike teorie? en wat behels die evolusieteorie? Ek sal in 'n aparte brief uitwei oor die beginsel van 'n teorie en dan in 'n verdere brief oor die evolusieteorie. 
     
    Ek het al dikwels gesê dat ek nie 'n deskundige is op die gebied van evolusie is nie en dat daar beslis mense hier op die Sê is (soos Angus en Panda) wat heelwat meer weet as ek maar ek sal nogtans my weergawe gee van hoe ek dit verstaan. Dié kundiges se insette sal dus erg waardeer word. 
     
    Groetnis
    Thomas
     
     
  • Beste Jan Rap,

     
    Ek wil net graag hier die posisie van die teorie en die wet verduidelik.
     
    Indien iemand  gevra sou word om feit, hipotese, wet, teorie  te rangskik volgens belangrik na onbelangrik, sou hy dit heel waarskynlik so gedoen het: feit, wet, teorie, hipotese. 
     
    Wetenskaplikes doen dit so: teorie, wet, hipotese, feit. 
     
    Laasgenoemde lyk eintlik  'n snaakse en verkeerde orde, want in die taal is 'n feit 'n feit soos 'n koei, en Ronald Reagan maak die evolusieteorie af, as "only a theory". Dis nou omdat hy dink  dit is sommer twak. 
     
    Die feit is belangrik in wetenskap, want dit is bewese waarnemings, en word nie telkens getoets as daarmee gewerk word nie: dis 'n feit dat as ek 'n boek vashou en dit laat los, val dit grond toe. (Dis nou voordat daar iets soos ruimtereise was.)
     
    Daar is baie wette in die wetenskap, almal natuurlik mensgemaak. Daar is Mendel se wet op oorerwing, Newton se wet, ens. Wette kan verander word soos navorsing vorder.  Ek kan nou nie Mendel se wet hier uiteensit nie, maar dit kan bv. verbreek word  deur verwante genes op dieselfde chromosoom.  Wette kan dus verander, maar die doel daarvan is om 'n gebeure in die natuur te beskryf -- dis selde dat 'n wet verduidelik.
     
    Die teorie se funksie is om feite en wette te verduidelik. 'n Teorie is eintlik 'n getoetste hipotese. Wetenskaplikes maak gebruik van feite, hipoteses, wette,en  teoriee om iets te beskryf en dit staan bekend as teoretisering. 
     
    En tog: 'n goeie ou vriend van my weet hoe om die DNA te skei, en omdat dit so klein is, te vermenigvuldig sodat dit vir hom bruikbaar  is. Moenie met met hom kom sukkel  met  wanneer is 'n wet of 'n hipotese 'n teorie  ens nie. 
     
    Groete
    Angus
     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top