Dagsê Thomas
Ek reageer op jou uitnodiging van gister om evolusie te gesels. Laat ek dit net duidelik stel dat jou niks wil laat aanneem of afsweer nie; ek speel net bietjie duiwelsadvokaat, ’skuus, a-pastafariese advokaat vanuit jou oogpunt; dalk kan jy lig werp op ’n paar goed wat erg raaiselagtig is vir my (ek self hang nie die teorie in sy geheel aan nie, dus verwerp ek ook nie die teorie in sy geheel nie).
Eerstens, na aanleiding van daardie verduideliking wat Angus van Darwin aangehaal het, jy weet, daardie ding van voorouers wat ’n gemeenskaplike voorouer het en die tesame met die gemeenskaplike voorouers van ander goed het weer ’n gemeenskaplike voorouer totdat ons uiteindelik by seker die heel eenvoudigste organisme uitkom naamlik ’n eensellige dierasietjie, ons almal se ooroergrootjie.
Wat het hierdie oersel geëet? Daar is niks op aarde wat nie ander lewe verorber of op ander lewe teer nie, so wat het hierdie dingetjie sy lewensenergie verskaf? As dit die son en die oersop is waaruit hy sou ontstaan het, was hy mos klaar bo-aan die voedselketting en daar was geen kompetisie nie, so waarom die moeite doen om te gaan staan en evoleer? Oorlewing van die mees geskikte bestaan juis (hoofsaaklik) daarin om jou kompetisie te uitoorlê en bokant hulle op die voedselketting te eindig.
Die volgende ding is parasiete. Die ’besigheidsplan’, kan jy maar sê, van ’n organisme om verskillende lewensfases in verskillende spesies te spandeer moet oneindig ingewikkelder wees as dié van ’n organisme wat, sê gras, eet. So hoekom daardie moeite doen? Evolusie is veronderstel om lukraak te gebeur (random mutation soos die aanhangers sê), so ’besigheidsplan’ hier is maar ’n soort van ’n metafoor vir die mog-het-treffe-proses wat oor millenia plaasvind. Terloops, hierdie tydsverloop is ’n probleem in sigself; as iets rêrig ingewikkeld is sê die aanhangers dit het 10 miljoen jaar geneem om te ontwikkel en as dit nog steeds onwaarskynlik klink sê hulle oukei, dit het 20 miljoen jaar gevat.
Beskou die rysmierspesies waarvan die soldate spuiters, in plaas van kake, het. Van hulle het gifstowwe ontwikkel wat die mens nie eers kan namaak in sy laboratoriums nie. Waarom het hulle hierdie weg gevolg? As dit ’n meer geskikte pas is as dié wat nog kake het, hoekom is daar dan nog hoegenaamd diesulkes?
Dan is daar die oogpister wat ek al voorheen genoem het. Die aanhangers sê hy het hierdie kokende sopspuitmetode as verdedigingsmeganisme ontwikkel omdat sy vlerke stadig oopvou. Sou ’n goedkoper opsie nie maar gewees het om vlerke te ontwikkel wat vinnig oopvou nie? Of het evolusie niks met ekonomie,die weg van die minste weerstand, en dus ook die tweede wet van die termodinamika, te doen nie?
Dink ook aan die pou wat die grootste en skouspelagtigste stert vir hom ’n wyfie besorg en nie ’n geveg soos met ander christelik-nasionale diere die geval is nie. Hoe strook dit met die idee van die sterkste oorleef? Dan is daar die mier wat, as hy jou byt, voel dit soos ’n hamerslag en jy’t vir 24 uur ’n vreeslike hoofpyn. Hoekom; die ding bly in boomtoppe waar g’n mens ooit kom nie. Wat van metamorfose; hoe lyk die halfpadmerk? Dan is daar nog taal; hoekom het die ape, waarvan die DNA so min van die mens verskil, geen taal nie?
’n Klomp raaisels, en hulle is nie te verklaar deur toe te gooi met tydsverloop, of oorlewing van die mees geskikte nie.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Haai Jan Rap, kan ek ook kommentaar lewer?
Jan Rap, jy sê: “Eerstens, na aanleiding van daardie verduideliking wat Angus van Darwin aangehaal het, jy weet, daardie ding van voorouers wat ’n gemeenskaplike voorouer het en die tesame met die gemeenskaplike voorouers van ander goed het weer ’n gemeenskaplike voorouer totdat ons uiteindelik by seker die heel eenvoudigste organisme uitkom naamlik ’n eensellige dierasietjie, ons almal se ooroergrootjie.”
Wel, dis wat die empiriese, verifieerbare bewyse aantoon. Jy kan self daarna gaan kyk en dit ook bestudeer. Tans is die oudste fossiele die van sianobakterieë wat gekry is in Wes-Australië, so 3.5 miljard jaar oud.
Jan Rap, jy sê: “Wat het hierdie oersel geëet? “
Daardie sianobakterieë het gefotosinteer. Daar is ook in Australië fossiele gevind van ander prokaryote bietjie jonger, wat geleef het op waterstof sulfiede soos in en om vulkane.
Jan Rap, jy sê: " Daar is niks op aarde wat nie ander lewe verorber of op ander lewe teer nie, so wat het hierdie dingetjie sy lewensenergie verskaf? As dit die son en die oersop is waaruit hy sou ontstaan het, was hy mos klaar bo-aan die voedselketting en daar was geen kompetisie nie, so waarom die moeite doen om te gaan staan en evoleer?”
Organisms doen nie moeite om te “evoleer” nie. Dit gebeur deur meganismes wat nou al taamlik goed verstaan word. In die geval hierbo genoem, verskillende omstandighede veroorsaak dat sekere gene weier versprei in die bevolking.
Jan Rap, jy sê: “Oorlewing van die mees geskikte bestaan juis (hoofsaaklik) daarin om jou kompetisie te uitoorlê en bokant hulle op die voedselketting te eindig.”
Op die strand is die eienskappe wat nodig is om effektief te oorleef baie anders as die eienskappe wat organismes in vulkane laat oorleef.
Jy het die verkeerde idee van die Teorie van Evolusie. Natuurlike seleksie is geensins lukraak nie. Soos die woord “seleksie” aantoon. Die organisme wat die beste aangepas is vir oorlewing in sy omgewing, sal, statisties, ‘n groter kans hê om te oorleef in daardie omgewing en daardeur sal sulke positiewe gene, vir daardie omgewing, meer doeltreffend versprei in die bevolking. Niks lukraak daaraan nie.
Die fisiese bewysstukke toon: 3.5 biljoen jaar terug: Prokariote; 2.7 biljoen jaar terug: eensellige eukarite; 2.1 biljoen jaar terug: meersellige organismes.
Jan Rap,
Dis darem wragtig nie waar dat daar niks op aarde is wat nie ander lewe verorber of op ander lewe teer soos jy beweer nie. Die groente in my tuin onttrek opgeloste minerale uit die grond en floreer daarop. Ek wens ek het dié vermoë gehad want teen die huidige prys van vleis kan ’n man maar jou rooster verkoop. Veronderstel nou dat die oerselle moes meeding vir die minerale wat dit geëet het — as dit minerale geëet het? — dan was daar mos kompetisie en genoeg motivering om te evoleer.
Jy sien die fout wat baie maak — en ek dink daar is maar ’n stewige skep moedswilligheid ook by soos met die aapvoorouer storie — is om van die wetenskap te verwag om klinkklare antwoorde op elke vraag te hê. Die wetenskap staan letterlik nog in sy kinderskoene maar het reeds baie mites en bygelowe ter ruste gelê. So jy moet maar ’n bietjie geduld gebruik. Dalk word jou vrae nog in jou lewe beantwoord of dalk is daar al antwoorde op party sonder dat jy of ek daarvan kennis geneem het.
(Weerlig is bv. beskou as ’n bonatuurlike verskynsel waarmee kwaaddoeners en sondaars deur die gode gestraf is. Eers so onlangs as in 1752 het Benjamin Franklin bewys dat dit gewoonweg elektrisiteit is wat op natuurlike en verklaarbare wyse in wolke opgewek word.) Dit het die kerk destyds net so erg ontstel as die evolusie teorie van Darwin en die oprig van weerligafleiers is as sonde beskou omdat dit na bewering die wil van God teengewerk het. Ek is nou effens van die punt af!
Groete
Panda
Dagsê Jan Rap
Ja Thomas
Jou skrywe: "Die evolusie-model maak geen aansprake oor hoe lewe ontstaan het nie. As ons egter met die model sou terugbeweeg in tyd is die logiese gevolgtrekking dat ons by 'n enkelsellige organisme moes begin het wat begin verdeel het."
Dis wat Darwin so mooi voorspel het, voordat daar enige fossiele van voor die Kambriese Ontploffing gevind was.
En, daardie fossiele is gevind. Die oudste fossiele is eensellige organismes, met geen teken van meersellige organismes vir meer as 'n miljard jaar daarna nie.
Natuurlik is enigiemand welkom om ander fossiele te vind en dit verkeerd te bewys. Daar is selfs kaarte, met die ouderdom van gesteentes beskikbaar, deur geoloe gepubliseer, van oral in die wereld. Al wat kreasioniste moet doen is om daardie klippe te gaan ondersoek, meersellige fossiele te kry en dit te publiseer.
Honderde duisende geoloe en paleontoloe het al gaan soek, oral in die wereld. Net eensellige organismes gekry.
Daar is nou selfs 'n artikel gepubliseer oor spore van organiese molekules van voor daardie tyd. Let wel, nie fossiele van organismes nie, net fossiele van organiese molekules, in gemetamorfiseerde sedimente van so 3.8 miljard jaar terug.
Kleinkoos