Vir Thomas oor evolusie II

  • 3

 Hallo Thomas

Ek wou nog in my vorige brief aan jou noem dat die teorie gedy met die wysheid van terugblik maar dat aan die hand van einste nie ge-ekstrapoleer kan word nie (maar ek was toe al amper by 600 woorde). Soos motorkarontwerp; mens kan duidelik sien hoe, in die verlede, jaar na jaar ’n nuwe ontwerp ’n logiese uitvloeisel van die van die vorige jaar s’n is maar elke elke voorspelling, of ekstrapolasie, was nog altyd ver uit. Die motors van byvoorbeeld die jaar 2000 lyk heeltemal anders as wat die ouens in die 50’s gereken het hulle sou lyk. Estetiese motorontwerp is dus nie ’n teorie nie maar bloot ’n praktyk

En daar kom jy toe en jy haal doktor Van den Heever aan wat beweer die evolusieleer kan " ... toetsbare voorspellings [genereer].." en "by uitnemendheid" nogal. Is dit werklik so? Is die vonds van fossiele die resultaat van ’n voorspelling of bloot die gevolg van die vakkennis van paleontoloë. Kan mens sê ’n geoloog het voorspel waar water gaan wees as hy ’n boorgat aanwys, of ’n plofstofdeskundige het voorspel hoe ’n gebou gaan inplof? Ek dink nie so nie.

Terloops, jy is uit met die aarde se ouderdom met ’n faktor 1000. Die aarde is ongeveer vier-en-’n-half miljard jaar oud, nie vier-en-’n-half biljoen jaar nie.

Groetnis

Jan Rap

NS Onthou St Patrick’s day die 17de. Dra groen in solidariteit met die Iere wat so onder die Engelse gely het.

  • 3

Kommentaar

  • Jan Rap

     
    Enige geldige wetenskaplike teorie moet die data wat uit die geskiedenis sigbaar is verklaar en ook voorspel hoe ontwikkeling in die toekoms gaan plaasvind. Evolusie is juis so 'n model. Dit verklaar baie bevredigend die verskeidenheid van spesies wat ons op aarde het maar voorspel ook hoe evolusie gaan plaasvind onder aandrywing van natuurlike seleksie. Ek noem graag een voorbeeld.
     
    Om die evolusie-model te toets het John Endler waargeneem hoe guppies byvoorbeeld evolueer deur hulle kleur en kamoeflering aan  te pas wanneer hulle met nuwe predatore te doen kry. Die vissies het presies volgens die evolusiemodel se voorspellings gereageer nadat Endler die omgewing en die predotore in die guppies se habitat verander het. Soek maar die toetse wat gedoen is op die internet - dit maak regtig interessante leesstof en openbaar die kreasionistiese aansprake vir die bog wat dit is. 
     
    Groetnis
     
    Thomas
  • Hallo Jan Rap

    Motors plant nie voort nie. Lewende organismes plant voort. Jou vergelyking tussen karre en lewende wesens is dus baie onvanpas. Daar is weinig ooreenkomste.

    @Jan Rap: "En daar kom jy toe en jy haal doktor Van den Heever aan wat beweer die evolusieleer kan " ... toetsbare voorspellings [genereer].."

    Ja, dit kan. Paleontoloe kan byvoorbeeld vir ons vertel dat 'n sekere fossiel gevind sal word min of meer in, byvoorbeeld, gesteentes van 'n sekere ouderdom,met sekere kenmerkende eienskappe, in gesteentes  met 'n ouderdom tussen fossiele A en B.

    @Jan Rap: .. en "by uitnemendheid" nogal. Is dit werklik so? Is die vonds van fossiele die resultaat van ’n voorspelling of bloot die gevolg van die vakkennis van paleontoloë."

    Ongelukkig vir jou, bied vakkennis die voordeel dat paleontoloe kan voorspel wat om te verwag as mens gaan soek.  Mens noem dit kennis. Dis hoekom natuurwetenskaplikes soveel jare op universiteit spandeer. In my geval, het dit my geleer om te kan voorspel of daar moontlik platinum in een gebied kan voorkom, of nie. Die fynere detail van "hoeveel" word uitgesorteer deur vakkennis deur te spesialiseer in platinum.

    @Jan Rap: " Kan mens sê ’n geoloog het voorspel waar water gaan wees as hy ’n boorgat aanwys,..." Eintlik vervul hidroloe hierdie taak.

    @Jan Rap: "of ’n plofstofdeskundige het voorspel hoe ’n gebou gaan inplof? Ek dink nie so nie."

    Probeer jy nou vertel dat as 'n plofstofdeskundige plofstof plaas hy net raai dat 'n gebou gaan ineenstort?

    Kleinkoos

  • Hallo Jan Rap,

    Jou laaste opmerking oor miljard en biljoen het betrekking: Dis nogal jammer oor die verskil en dit gee dikwels aanleiding tot verwarring. Jy sal waarskynlik nie 'n gesaghebbende boek oor Astronomie kry waar die term miljard gebruik word nie. Ek dink baie wetenskaplikes ken nie eers die 'vreemde' term nie. Dis altyd biljoen waarmee bedoel word 10^9.

    Omdat ek bewus is van die verwarring wat geskep word verkies ek om wetenskaplike notasie te gebruik maar omdat  baie mense nie daarmee vertroud is nie, praat ek sommer van duisend miljoen en dan kan daar geen twyfel wees nie. Rekenaarprogramme soos Excel werk ook baie lekker met wetenskaplike notasie en sal trouens, as jy 'n baie groot getal invoer, dit outomaties omskep na wetenskaplike notasie toe.  Kom ons sê maar die aarde is vier en half duisend miljoen jaar oud of dan in wetenskaplike notasie: 4.5 x 10^9 jaar.

    Groete
    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top