Vir Thomas (en sommer George ook) oor sy opmerking

  • 0

Dag Thomas, ek verwys na jou brief onderaan aan my brief van so dag of wat terug.

Jy sê George sê godsdiens dra byna niks by om denkende kinders te skep nie (waarmee jy saamstem). Ek weet Thomas, ek het ook sy artikel gelees; my skrywe aan hom was juis daaroor. Ek sê vir hom dit mag so wees, hy's dalk heeltemal reg, maar waar is sy bewyse?

Ek het hom gevra of daar nie dalk 'n groter korrelasie is tussen swak prestasie en die nuwe Suid-Afrika as wat daar is tussen einste en godsdiens nie (en dus is die vraag aan jou ook gerig aangesien jy met hom saamstem). Ek sê weer, en lees nou mooi, ek is nie besig met sendingwerk nie en ook nie besig met die godsdiensdebat nie; ek vra hierdie vraag uit hoofde van my belangstelling in statistiek.

Ek sien hierdie positiewe korrelasie tussen die NSA en swak leerlingprestasies des te duideliker in die lig van die agteruitgang van ALLES sedert '94. Ook, wat George se stelling verder verdag maak, is die feit dat leerlingprestasies in die ou bedeling, toe godsdiensonderrig nog in volle swang was, strate beter was as wat dit nou is.

Jou afleiding dat ek 'voortdurend hunker' na 'n beter bedeling mag seker 'n geldige een wees as jy dié maak vanweë die feit dat ek my misnoeë uitspreek ten opsigte van die tekortkominge, of liewer die jammerlike faling, van die huidige bestel. Ek is egter nie die ou wat gedurig 'n versugting uitspreek vir een of ander 'onhaalbare bedeling', soos jy dit noem, nie. Wat ek al wel gesê het, wanneer iemand hier te kenne gee dat hy so 'n hunkering het, dat niemand hom kan kwalik neem nie en, verder, dat dit wonderlik sal wees indien so 'n onhaalbare bedeling realiseer.

Dink net, mense word dan nie meer wreed op plase vermoor nie, Joubertpark en Sunnyside keer weer terug na hulle ou glorie, geen valhekke en hoë mure met doringdraad in die voorstede nie, ononderbroke skoon watervoorsiening, gereelde vullisverwydering, betroubare posdiens en polisie, skoon en funksionerende klinieke en hospitale ens ens.

Hierdie hunkering, as jy nou mooi dink, manifesteer ook by ouens soos jy en George met julle hoë mure, diefalarms, diefwering, sekuriteitshekke, sekuriteitsligte, die soort van ding. En hierdie hunkering is wydverspreid; daar is ouens wat 'n paar rand by bogenoemde kostes en dan verkas na wat hulle dink 'n beter bedeling is soos Kanada, Australië, Nieu-Seeland, die VK ens (indien jy en George nie hoë mure het of 'n reaksiemag in julle gebied het nie vra ek om verskoning; julle is dan werklik tevrede met die nuwe bedeling).

Dan is daar ook diegene wat hulle beywer het vir hierdie gemors, nog nie emigreer het nie en dus in ontkenning lewe, wat hulle oë sluit vir, onder andere, die heksejag op Afrikaans en die Afrikaner. Hulle vind troos en regverdiging vir hulle aandeel in die daarstel van hierdie bedeling deur molshopies uit die vorige bedeling as berge voor te hou. Of, waar hulle nie molshopies kry nie, duimsuiery te bedryf, valse ou koeie uit slote te grawe. Jou vreugde oor jou snippermandjie nie meer deursoek word nie en George se skuldpak op godsdiens vir swak leerlingprestasie is voorbeelde hiervan.

Terloops, het jy al gedink hoekom die veiligheidspolisie so ver gegaan het as om snippermandjies te deursoek? Die voor-die-hand-liggende rede is dat die alternatiewe bedeling te gruwelik was om te bepeins. Maar, met die volgehoue en slu propaganda van die 'liberale' wêreldpers en 'n plaaslike vyfde kolonne is ons nou midde-in die gruwel.

André Brink of een of ander sestiger of vryvoël het op 'n kol gewonder hoe mens nog oor blommetjies en boompies kan skryf terwyl daar so iets soos, wat hy apartheid genoem het, bestaan. Op dieselfde manier; hoe kan mens skryfspasie en energie mors om oor iets onbenulligs (en vals boonop) soos die 'euwels van godsdiens' te skryf terwyl daar, met eentonige reëlmaat, boere op plase op die allerwreedste maniere vermoor word? Dit is 'n skande om op 'n podium te klim (en dit sluit 'n preekstoel in) sonder om plaasmoorde en –aanvalle te verdoem, al is dit net sydelings.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top