Vir Thomas en Malach HaMavet

  • 2

Menere, julle kommentaar onderaan my brief oor Piet van 3 deser verwys.

Thomas, jy blaf vir die verkeerde boskasie. 

Ek het nooit gesê hierdie grondwet is slegter as wat ons in die OSA gehad het nie. Maar dis nie ter sake nie, want of ons nóú ’n wonderlike grondwet het of nie, dinge loop afdraand. Die storie blyk toe nie die papier werd te wees waarop hy geskryf is nie, met die dat daar nou al 3 000 boere vermoor is en nog steeds vermoor word en mense op strepe emigreer, duisende van hulle, en dis maar onder andere, wat nog van rou riool, gate in paaie en dié soort van ding.

Dit gaan slegter hier as by baie ander plekke, onder andere die OSA. Dit beteken nie ek hunker na waar dit beter gaan nie, insluitende die OSA; dit beteken ek wil hê dit moet beter gaan hier en dit is moontlik, want dit was eens op ’n tyd so.

Jy reken die " ... ANC is ’n uiters swak regerende party met ’n pateet van ’n leier wat deur die kommuniste gemanipuleer word - dis die probleem, nie die stelsel nie ..." (my skuinsskrif). Wel, in ’n demokrasie stem ontevrede burgers die regering uit, en die burgers ís ontevrede te oordeel aan die klipgooi- en bandebrandery, maar die regering word nie uitgestem nie. 

Hoekom nie? WANT DIE STELSEL VERHOED DIT. Stemmemanipulasie, intimidasie, watookal. Die stelsel het van '94 af vir ons leiers gegee waaronder dinge agteruitgaan, maak nie saak wie die leier is nie. Jy maak dus dieselfde fout as Piet; julle verwar oorsaak met gevolg.

Hierdie kán dus nie ’n demokrasie wees nie, anders was die regering al lankal uitgestem. Dit is nou nog bo en behalwe die feit dat dit in elk geval nie ’n demokrasie per definisie kan wees nie, want hier is byvoorbeeld 11 amptelike tale en dus ten minste 11 volkere. Daar is dus nie sprake van regering vir die volk deur die volk nie.

Malach, ja, soos jy nou reken " ... apartheid was verkeerd, maak nie saak hoe dit nou gaan nie ..." kan ek seker vir dieselfde prys sê hierdie bedeling faal, maak nie saak hoe dit destyds gegaan het nie; selfde argument. 

Ek sê dit egter nie, want dit sou impliseer dat ek apartheid verkies bo wat nou aangaan, net soos wat jou stelling te kenne gee dat jy die huidige bedeling bo apartheid verkies. Ek verkies nie die apartheid wat jy in gedagte het nie; ek verkies demokrasie. Jy weet, een-ieder-nasie-het-sy-grond soort van storie, en regering vir die volk deur die volk, soos in Europa, Amerika, Australië, Nieu-Seeland en so aan. Ek verkies rus en vrede en rioolstelsels wat werk.

Op ’n punt van orde, jy kan darem nie sê " ... beide die Reitz-ding en die plaasmoorde is tog afstootlik ..." nie; daar is ordegrootte verskille tussen die twee gevalle. Die "skwieza's" het gelag gedurende die ontgroeningspetalje, die plaasboere, kan ek jou verseker, lag nie as hulle vermoor word nie. Die Reitz-ding was eenmalig en as dit nie was nie het dit gestop, plaasmoorde en -aanvalle gaan voort met eentonige reëlmaat. Soos jy sê, ons moet maar almal leer om meer genuanseerd te dink.

Nou kan ek al hoor julle vra "nou maar wat is jou oplossing?" Wel, ek het nie eintlik een nie maar die feit dat ek nie een het nie regverdig nie wat nou aan die gang is nie en verhoed my nie om my misnoeë ten opsigte van einste uit te spreek nie. Ek het wel ’n voorstel: Piet-hulle moet ophou om die NSA goed te praat en as prominente figure moet hulle by elke geleentheid hulle ten sterkste uitspreek teen die voortslepende volksmoord.

Laat dit juig daar by julle.

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Behalwe Jan; Malach HaMavet is eintlik 'n begraafplaasboer ... dit sal baie sleg moet gaan aan hierdie kant voor die ou kan juig aan daardie kant ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top