Hallo Stephan
Ek sien jy sê, onderaan Helmine se brief, " ... Mandela was klaarblyklik reg om die massa (opgerui deur Chris Hani) op te roep tot met sy aftrede as president." Wat beteken hierdie sin? Kort daar nie ’n woord of iets nie?
Verder sê jy dat " ... swart Suid-Afrikaners tot datum verbasend lankmoedig teenoor hulle wit landgenote was." Daardeur gee jy te kenne dat die "wit landgenote" skuldig aan iets was? Wat was dit volgens jou? Blootstelling aan wit medisyne, kleredrag, landbou, vervoermiddele, die soort van ding? Laat weet asseblief.
Jy reken ook sommige Afrikaners het beweer dat ons uitgeroei gaan word deur swart hordes. Nou goed, ’hordes’ was tot dusver nie die geval nie maar ’bendes’ wel; daar is al ver oor ’n 1000 boere deur bendes uitgeroei en steeds gaan dit voort met eentonige reëlmaat.
Daardie sommige Afrikaners was dus nie ver verkeerd nie en, met dié dat die president van die land nogal openlik propageer dat die Boere geskiet moet word, besweer dit nie eintlik daardie sommige Afrikaners se vrese nie, inteendeel.
Wat betref jou opmerkings oor evolusie onderaan my brief van 22 Maart die volgende: Ek gaan heeltemal akkoord met jou stratigrafie-verduideliking; maak vir my heeltemal sin en bevestig wat ek gesê het van kennis. Geografiese, geologiese, paleontologiese, chemiese kennis en natuurlik ’n goeie skeut wiskunde, statistiek en fisika stel mense in staat om fossiele te vind en nie ekstrapolasie of voorspellings aan die hand van die evolusieteorie nie.
Terloops, jy hoef nie Einstein se algemene relatiwiteitsteorie plus addisionele fisika te gebruik om die trajek van ’n projektiel te bereken nie; jy kan sommer Newton se wette gebruik.
Groetnis
Jan Rap

