Dag Stephan
Omtrent almal deesdae praat van "sondebok" wanneer hulle eintlik "belhamel" bedoel, of van "offer" wanneer hulle eintlik "aanbod" bedoel of "braaf" wanneer hulle "dapper" bedoel. Heeltemal ander betekenisse van wat hulle eintlik bedoel.
Op dieselfde manier sê ek jou die mense het nog al die jare die betekenis van "rassisme" verkeerd. Wat hulle met "rassisme" bedoel is wanneer ’n bepaalde groep op ’n ander een neersien omdat hulle hulself beter ag, of sal ek liewer sê voorgee dat hulle beter is. Hulle is kamtig geletterd en die groep waarop hulle neersien is arm en sou volgens hulle ongeletterd en dom wees. Hulle ag hulself as ’n hoër klas as dié waarop hulle neersien.
Dit is nie rassisme nie, dit is snobisme; ’n nare verskynsel en eintlik maar net ’n manifestasie van die neerkyker se gebrek aan selfvertroue. Amper soos ’n ou, wat in die kas is, erge homofobiese gedrag openbaar, of soos Paulus Christene vervolg het, of soos ’n ou met ’n Afrikaanse van wat ’n honderd-en-een-persenter Engels is, kan kamtig glad nie Afrikaans praat nie, die soort van ding.
Geen mens met imbors sal hom hieraan skuldig maak nie; hy is verstandig genoeg om nederig te wees en te besef dat, wat hy het, uit genade is. Hy sal met deernis teenoor minderbevoorregtes optree (nog welsynswerk ook doen soos dr Carel Boshoff is Soweto) en homself nooit beter ag as enigiemand anders nie want hy’t die verstand om te besef hy is nie. Ek praat nou van mense met inbors; onder al die nasies sal jy wel ook beginsellose mense kry.
Rassisme, aan die ander kant, is die afkeer wat een groep van ’n ander groep het omdat, meestal, die ander groep beter presteer. Die Nazi’s, byvoorbeeld, het hulle nie beter as die Jode geag nie, inteendeel. Die Jode, soos ek verstaan, het ’n groot deel van die ekonomie beheer, dus beter presteer as die plaaslike sakelui en dit het onmin geskep.
Dieselfde is op die oomblik hier aan die gang: Senegalese, Nigeriërs en Kongolese, onder andere, is besig om stof in die oë van meeste van ons plaaslike bevolking te skop wat besigheid (en werk) betref en ons mense reageer met wat genofobie genoem word en dit is niks anders as rassisme nie.
Die jag op die Afrikaner en Afrikaans is ook rassisme. Hierdie vyandigheid is openlik: Afrikaners se kultuurgoed word vertrap; hulle taal is lingua non grata, hulle onderwysinstansies word oorgeneem en Afrikaanse name word met verdrag weggevat (wat nog van die moorde op plase, dit grens aan uitwissing, laat staan nog vertrapping).
Terwyl ek nou besig is, laat ek ook sommer reageer op jou opmerking van 15 April. Jy praat van die beleid van die vorige bestel en sê, onder andere, dat dit " vir onverklaarbare redes misluk het." Op grond waarvan sê jy dit? Dit is net mooi andersom; onder die ou bestel (ek praat nie van die oorgangsregering van so 10 – 15 jaar voor ’demokrasie’ nie) het die land gedy; die groeikoers was hoog, daar was werk vir almal, misdaad was onbeduidend teenoor wat dit vandag is, die spore was blink, parke was veilig, plase was veilig, stadsrade het funksioneer en daar was nie gate in die paaie en strate nie.
Die gemors wat nou aan die gang is werk nie; misdaad vier hoogty, korrupsie en werkloosheid is aan die orde van die dag, die oorgrote meerderheid van die dorps- en stadsrade is disfunksioneel, die infrastruktuur verkrummel en die plek word al hoe meer toiingrig, begin al hoe meer na ’n piesangrepubliek lyk. Dít is wanneer iets nie werk nie, wanneer, wel ... wanneer dit ophou werk, so eenvoudig soos dit
Wat gewerk het is dus vervang met iets wat ooglopend nie werk nie en hoe duideliker dit blyk hoe meer swaai jy armpies en weeklaag oor die "sondes van die verlede".
Jy praat van " ... in 2012 nog steeds die argument ..." Waar val jy uit? As mense byvoorbeeld praat van 300 jaar se onregverdigheid, of van die 1913-wet, herinner jy hulle ook dat dit nou 2012 is?
Om af te sluit, jy kan nou maar ophou daardie chip op jou skouer polish, die rassisme in hierdie land word vanaf swart kant gepleeg.
Jan Rap


Kommentaar
Die manipuleer van taal om van onaangename implikasies te ontsnap is welbekend. Ek hou by die woordeboek betekenis van woorde, dan weet ons almal waarvan ons praat.
Snobisme is Mev Prof Dr wat opmerk dat sy nooit vir haar kinders klere by Mr Price sal koop nie. Dis iets om jou kop oor te skud en die arme onkundige vrou oor jammer te kry.
Rassisme is antipatie en vooroordeel van een ras of etniese groep teenoor ’n ander. Dit is die oortuiging dat "ons" beter is hulle of "hulle" slegter is as ons. Dit is wat klein apartheid gedryf het, dit is wat kerke gesegregeer gehou het, dit is wat dit onmoontlik gemaak het vir wit mense om eers vir ’n oomblik te dink dat hulle vir ’n swart baas sou werk, dit is wat wit mans gedryf het om alle swart mans John te noem, dit is wat bediendes uit erre bekers en roomysbakke laat drink en eet het.
Dit is wat jou laat dink dat Carel Boshoff nie rassisties kan wees nie omdat hy liefdadigheidswerk in Soweto gedoen het, wat jou blind hou vir die ongelyke magsverhouding daar en vir jou eie paternalistiese meerderwaardigheid.
Ek kan aangaan en aangaan. As jy ’n Afrikaner is en ander Afrikaners ken, ken jy mense wat swart mense verag vanuit suiwer vooroordeel. Hulle sou weer terugkeer na ’n sisteem van gewelddadige onderdrukking en wanneer hulle daarmee kan wegkom probeer hulle steeds om wittes ten koste van swartes te bevoordeel. Dit is nie snobisme nie en jy kan soveel semantiese bokspronge uithaal as wat jy wil dit gaan nie die geskiedenis en die hede verander nie.