Vir Rika oor gehaltemusiek in Afrikaans

  • 0

Hallo Rika

Met ’n bevolking van ordes groter as die Afrikaanssprekende word dieselfde probleem as joune ondervind in Amerika, Europa, Suid-Amerika en heelwaarskynlik Sjina en Japan.  Nie dat hierdie feit jou frustrasie gaan verlig nie maar weet darem dat jy nie alleen is nie.

Jy praat van die drie koorde as ’n gemis.  Op ’n skaal van 1 tot 10 is my musiekkennis 1, so ek weet nie hoekom die drie koorde alleenlik ’n slegte ding is nie.  Is dit byvoorbeeld ekwivalent aan die geval waar ’n skilder net twee kleure sou gebruik?  Of ’n spotprenttekenaar net ’n paar lyne om ’n herkenbare gesig uit te beeld?  Indien dit die geval is kan drie koorde ’n goeie ding wees; iets in die lyn van Mies van der Rohe se less is more.  Ek weet nie; ek sal bly wees as musiekfundi’s hier kan help.

Ek sien jy noem Leeuloop as ’n voorbeeld van die musiek waarteen jy dit het, ’kinderagtige rymelary’ en dies meer.  Leeuloop is ’n humoristiese liedjie en die vermoë om hierdie soort van liedjie te skryf sit nie in enige ou se broek nie.  Robbie Wessels is ’n diep seun soos jy al moes agterkom aan van sy ander werk.  Hy het die vermoë om, soos Koos du Plessis en Lukas Maree byvoorbeeld, met ’n paar woorde boekdele te sê.

Dit lyk ook vir my of jy van die finansieel-suksesvolle kunstenaars kwalik neem.  Miskien voldoen die musiek wat hulle skryf nie aan jou standaarde nie maar ek kan jou verseker, elkeen van hulle het ’n moeilike pad geloop; niks het in hulle skoot geval nie.  Dit kan wees dat hulle bemarking die knoop vir hulle deurgehaak het maar dit op sigself is ’n pad vol dubbeltjies.

Miskien lê jou probleem by reklame en bemarking.  Daar is baie uitstekende produkte wat al  gesneuwel het omdat die bemarking gefaal het.  As jy in die Kaap ’n konsert gee moes jy miskien voorgegee het dat jou storie hoofsaaklik Engels gaan wees (gwit ’n Kapenaar vrek mos oor Engels.  Daar is nie ’n bottel wyn of ’n kaas uit die bakermat van Afrikaans wat nie ’n Engelse etiket het nie.  Selfs KWV dink ek is nou SFW).  As die mense opdaag sien hulle als is Afrikaans maar dan is dit te laat en jy het die gehoor gevang; hulle sien dan dit is gehalte wat jy vir hulle voorgesit het.  Op die manier word jou produk al hoe bekender en jy hoef later hulle nie meer met daardie Engelse slenter te vang nie.

Groetnis en sterkte.  Soos Churchill sê, never give in, never, never, never.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top