Hallo Panda
Baie dankie vir jou interessante en insiggewende brief van 3 deser.
Ek het bietjie gedink daaroor maar het nog nie klaar gedink nie; sal later weer met jou daaroor praat en bespiegel. Intussen kan ek jou dít sê; dis een moerse raaisel.
As mens na daardie spirale op jou prentjie kyk (terloops, watter pakket gebruik jy om dit te teken) lyk dit, in die geval van die baarspirale, of die staaf eers gevorm het en dan het die rotasie begin (is dit nie dalk staafspirale nie?). Ander weer, Sa en Sc op jou diagram, het geen staaf deur die kern nie.
Kan dit wees dat almal ’n staaf deur die kern vorm maar party stelsels begin roteer terwyl die staaf besig is om te vorm? Indien dit die geval is reken ek, een verklaring kan wees dat die gravitasiekolk in die middel van die stelsel (die spesifieke TV-programme beweer daar is ’n gravitasiekolk, partykeer –kolke, in die middel van elke stelsel) vinniger of tegelyk met die gravitasiekolk ontwikkel en die stelsel begin om ingesuig te word voordat die stawe ontwikkel.
Hierdie “insuig” is wat die rotasie veroorsaak. Soos die water begin kolk as dit uit jou bad tap, of die petrol uit jou tenk as jy ’n Prado het, so kolk die materie wanneer dit deur die 3D-gat, naamlik die gravitasiekolk, ingesuig word. Dalk word die materie van die stelsel wat besig is om ingesuig te word, nie saamgedruk in die middel van die kolk nie maar skiet in die vorm van ’n oerknal aan die anderkant, in ’n ander 3D-ruimte, uit. Net soos die 3D-volume water uit jou bad, deur ’n 2D-gat, aan die anderkant in ’n ander 3D-ruimte naamlik die drekwaterpyp, verskyn.
Aan die ander kant nou weer, die galaktiese stelsel is 3D so hoe gaan ’n 3D-volume deur ’n 3D-gat (want die 3D-watervolume kolk deur ’n 2D-gat)? Kan die kolk dalk ’n 4D-tonnel wees waardeer die 3D-stelsel gesuig word om in ’n ander 3D-ruimte uitgespoeg te word?
Soos ek sê, hierdie goed is jou meer senior raaisel. Terloops, al die spirale wat jy wys draai antikloksgewys. Vanaf die teenoorgestelde hoek sal hulle natuurlik kloksgewys draai. Is dit foto's van stelsels soos gesien van die aarde?
Tot later en groetnis
Jan Rap

