Vir Panda oor niks

  • 0

Dagsê Panda

Ek dink nie ons verveel die ander ouens hier met ons geredekawel oor niks nie, hulle lees dit nie eers nie.  Jý is dalk die ou wat verveeld raak maar jy sal maar moet vasbyt ou maat; ek kan nie met die wiskundefundi’s in my familie- en vriendekring (wat almal, terloops, saam met jou stem) hieroor praat nie; sodra ek begin, sien jy net die wit van hulle oë en hulle vat nog ’n sluk bier en praat oor iets anders.  Buitendien, hierdie goed is belangrik, veral in die lig van die huidige sonuitbarstings, so ek gee nie om of ons ander verveel nie, sou hulle hier lees.

Maar eers, op grond waarvan word daar gesê dat ons nie ’n jaar 0 gehad het nie?  Omdat daar na gebeurtenisse wat in die eerste jaar nC gebeur het verwys word as gebeurtenisse in die jaar 1 in plaas van die jaar 0?  Indien dit so is, is dit mos logies; dis as’t ware ’n naam, ’n indeks, wat aan die eerste jaar gegee word, presies soos ’n eerstejaar verwys na sy eerste jaar op universiteit.  Op sy registrasiekaart staan daar, sê, B Sc (Ing) I; hy het nooit ’n jaar 0 op universiteit gehad nie.

Tussen vC en nC is ’n momentane gebeurtenis, ’n voorval, ’n event. Soos mondigwording; die sekonde voordat jy 18 word is jy nog 17 en 2 sekondes daarna is jy 18 en mondig.  Jy het nie ’n mondigwordingsjaar nie, wel ’n mondigwordingsgebeurtenis.   

Wat die verskil tussen -1 en +1 betref (jou vorige brief) probeer ek nog uitwerk of dit iets vir 0 doen.  Die verskil tussen, sê 37 en 35, is ook 2 maar doen niks vir 36 nie.  Wat dit bloot beteken is dat die afstand op die getallelyn tussen -1 en +1 twee lengte-eenhede is soos ook tussen 35 en 37 of, in die algemeen, tussen n en n+2.  Die feit dat 0 die beginpunt van die getallelyn merk dra nie meer gewig as die feit dat jy nie met 0 kan deel of, streng gesproke, kan vermenigvuldig nie.

Jou stelling dat " ... volgens die Westerse Kalender is die verskil tussen 1 vC en 1 nC daarenteen net 1 jaar en nie 2 jaar nie omdat die 0 weens Exiguus of die Romeine se wiskundige ongeletterdheid of moedswilligheid, ongelukkig in die slag gebly het" maak dus nie sin nie want die verskil tussen 1 vC en 1 nC is hoogstens 2 jaar (1 Jan 1 vC tot 31 Des 1 nC) en minstens ’n breukdeel van ’n nanosekonde (31 Des 1 vC tot 1 Jan 1 nC). Dit kan dus ook onder andere, een jaar wees naamlik k maande voor die gebeurtenis tot 12-k maande na die gebeurtenis (waar, natuurlik, k<12).

Indien mens ’n digitale horlosie aan die gang sou sit wat van die gebeurtenis begin aftel sal, aan die einde van die eerste jaar die lesing wel wys 00 12 30 23:59:59 (jj mm dd uur:min:sek) en 2 sekondes daarna, met ander woorde die eerste sekonde van die tweede jaar, 01 01 00 00 00:00:01 maar dis ’n ander saak want eersgenoemde lesing is steeds ’n breuk van die eerste jaar net soos laasgenoemde lesing ’n breuk van die tweede jaar is.

Maar as jy wil kan ons nou ophou met hierdie storie; ek dink ek in die een kamp, en jy,  my gesin, familie, vriendekring en wiskundelektore in die ander kamp, praat bymekaar verby.  Hoe anders kan ek verklaar dat hulle saam met jou stem?

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top