Vir Ontleder oor persoonlikheidstipes

  • 1

Dagsê Ontleder

Jou brief van 4 deser verwys.  Ek het kommentaar gelewer (wat ek grootliks nou hier plaas) maar mens weet nooit of die mens vir wie mens kommentaar gee dit gesien het en saamstem of glad nie gesien het nie, vandaar die stilswye.

Evenwel, ek het gesê ek het 'n probleem met hierdie stelling van jou:
"[Die wetenskaplik/kritiese persoon se] ... brein is net eenvoudig so gemáák, hy moet dit kan sien of eksperimenteel bewys"

Dit is nie so nie. Die wetenskaplik/kritiese persoon het ’n ondersoekende gees en lank voor hy iets gesien of bewys het, is hy vas oortuig dat dit bestaan.  Hy voel sommer in sy water iets wat hy in gedagte het, of in sy brein rondmaal, is waar en hy gaan voort met ywer om dit bloot te lê of te bewys.  Baiekeer is hy verkeerd en soms is hy reg. 

Daar is byvoorbeeld groot geeste in die wetenskapwêreld, gesiene wetenskaplikes, wat glo daar is so-iets soos ’n parallelle heelal.  Kennelik het nie een van hulle het dit gesien nie en niemand het dit nog bewys nie maar hulle glo vas daaraan, verkondig dit selfs op openbare forums.  En of die ou gelowig is of nie het niks met die saak te doen nie; soos Brianvds sê, geloof en godsdiens is nie onderling uitsluitend nie.

George Claassen beveel sterk aan ons moet vir bewyse vra as iets na 'n twakkerasie (sy oulike woord) klink.  Nou-ja, daar het jy dit nou; hier het ons nou 'n klomp hoog-aangeslane astrofisici wat bloot glo daar is so iets absurds soos 'n parallelle heelal.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    JR, soos ek dit verstaan beweer die fisici dat sekere wiskundige berekenings en data daarop dui dat daar ’n groot aantal "heelalle" kan wees.  Een van die konsepte wat beduie word is dat ’n mens dit kan vergelyk met water wat kook – daar is ’n groot aantal borrels wat ontstaan – sommige groot ander kleiner.  Net so is ons heelal net een van die borrels in, kom ons noem dit dan maar die ganse geheel – indien daar dan so iets is.

    Ons heelal het toe begin uitdy en afkoel en elemente en chemiese verbindings daargestel wat uiteindelik tot ’n vorm van lewe op minstens een planeet gelei het – en wat doodnormaal binne chemiese en wetenskaplike raamwerke ontwikkel (ge-evolueer) het tot die groot verskeidenheid van lewe wat ons vandag het.  Breine en denke en spraak en alles wat daarmee saamgaan, het bloot "toevallig", per ongeluk, sommer net omdat omstandighede dit moontlik gemaak het, begin as klein senuweeswelsels in uiters primitiewe organismes – dalk al in baketriee!

    Van die sieninge oor ’n veelal van heelalle berus op Richard Feynman se uiters ingewikkelde "sum over histories" konsepte.  Hawking (onder verskeie fisici) is ’n groot aanhanger van Feynman se idees. 

    Maar ek wil tog dink dat hulle nie dogmaties is oor die veelal-heelal konsep nie. Dit bly net teoriee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top